Namib-Kalahari | Op soek na ||Khauxa!nas

Vir die meeste van ons is Namibië sinoniem met plekke soos die Namib, Etosha en Kaokoland, maar die suidooste van die land word dikwels afgeskeep. Doen ’n slag moeite en gaan kyk, sê Barnie Louw. Daar’s selfs ’n verlore stad …

Archimedes Levitopek* en sy bende booswigte sou sommer baie van dié plek gehou het, dink ek toe ons bo-op die koppie tussen die klipmure van die Verlore Stad van Namibië rondstap.

Hierdie bergvesting, in ’n uitloper van die Groot-Karasberge, sowat 170 km suidoos van Keetmanshoop, is die soort plek waar Levitopek en ander superskurke uit die boeke van my jeug ’n rampokkerbasis sou kon bou.

Dis goed versteek, vrek moeilik om hier uit te kom en jy kan myle ver in elke windrigting sien. Net die plek vir ’n geheime basis waar jy en jou medeswerkaters ongesteurd aan wêrelddominasie en ander booshede kan beplan.

Selfs die plek se naam klink eksoties en geheimsinnig.

||Khauxa!nas. Ek kan dit voor my sien: “Archimedes Levitopek se geheime rampokkerbasis ||Khauxa!nas.”

Ek weet nie of die Namas, wat glo die plek gebou het, grandiose planne soos wêrelddominasie gehad het nie, maar dat hulle die plek goed gekies het, is nou maar wors. Die militêre mag van die koloniale Duitsers soek nou nog na die skuilplek.

As jy hier staan, weet jy jy is een van net ’n handjie vol mense wat al die voorreg gehad het om die oudste stedelike vesting in Namibië eerstehands te ervaar.

En moenie vergeet van al die mites en legendes wat met die vesting verweef is nie: Niemand kan met sekerheid sê wanneer en wie ||Khauxa!nas gebou het nie. En as dit so is, is dit dan nie moontlik dat ||Khauxa!nas dalk die windmaker-reisiger Gilarmi Antonio Farini se beroemde (berugte?) Verlore Stad van die Kalahari is nie?

Daar is darem net te veel ooreenkomste tussen sy beskrywing van die Verlore Stad van die Kalahari en dit wat oor is van ||Khauxa!nas …

Wie ook al ||Khauxa!nas gebou het, moes hittebestand of van Teflon aanmekaargesit gewees het.

Die doeaneman by die Rietfontein-Klein-Menasse-grenspos, sowat 150 km noordoos hiervandaan waar ons ’n paar dae gelede Namibië ingekom het, het vertel dat hulle al 56 °C in die son voor die doeanekantoor gemeet het.

Gelukkig is ons nie in hoogsomer hier nie, want dan, so vertel die doeaneman, is dit so warm dat die bome agter die honde aanstap vir ’n bietjie vog …

Skaapribbetjie vir ontbyt

Ons plan was om net anderkant die grenspos eers ’n deel van die Kalahari-Namib Eko-4x4-roete oor 28 000 ha private Kalahari-grond te doen, oor te bly op twee plase tussen Aroab en Koës, en dan suid van Aroab te gaan soek na die Verlore Stad. 

Sowat 30 km anderkant die grenspos draai ons af op ’n plaaspad, en ’n paar plaas-hekke verder stop ons op Karel Beukes se plaaswerf.

Karel, sy vrou en hul twee kinders is uitgevat en besig om reg te maak om dorp toe te gaan vir inkopies – “dorp” in dié geval is Upington, by die 300 km se meestal grond- en sinkplaatpad (en ’n grenspos tussenin) hiervandaan.

Karel se plaas, Menasse, is die amptelike begin van die Kalahari-Namib Eko-4x4-roete, maar vanaand sal ons op ons eie tussen die duine kamp en kuier, want die dorp roep.

Omdat hulle nie by ons kan wees nie, gee Karel vir ons genoeg vleis en droëwors om ons eie slaghuis mee te begin. “Onthou, moet nou nie alles vanaand eet nie,” sê Karel, “die skaapribbetjie is vir môre-oggend se ontbyt.”
Welkom in die Kalahari.

Op die 5 km van die plaaswerf na die kampplek in die duine leer ek die eerste basiese lesse van Kalahari-duinry: Kry taamlik spoed vir genoeg momentum, en tap net effens af as jy byna op die kruin is, anders vlieg jy met die afkomslag deur die dak of voorruit.

Dit werk, en ná sowat 20 minute se rooi duin op en rooi duin af, hou ons heelhuids by die eerste oornagplek van die Kalahari-Namib Eko-4x4-roete stil.

Dis ’n boskamp (’n onderdak-lapa, lopende water, ’n houtstoof, twee toilette, storte en ’n donkie) onder ’n reuse ou kameeldoring tussen okerkleurige duine.

Dis al te laat om tussen die steekwiet, boesmangras, gemsbokstert, gha-gras en knietjie-gras op die duine te gaan snuffel vir n’abbas (die sogenaamde Kalahari-truffel), en ons steek maar ’n vuur aan en besin oor of ons inderdaad die skaapribbetjie vir môre-oggend gaan los.

Toe ons heelwat later – knuppeldik aan Kalahari-lam en vars Kalahari-lug – behaaglik terugsit en in stilte die maanverligte duinlandskap sit en betrag, voel die stadsliggies en -gewoel sommer baie, baie ver.

Ek weet nie of dit iets in die lug is wat jou dwing tot clichés nie, maar toe ek die volgende oggend die aantekeninge in my notaboek deurgaan, sien ek ’n stewige versameling van tydlose prosa: “Die duine gloei rooi teen sononder”, “om ons strek ’n see van rooi Kalahari-duine, so ver as wat die oog kan sien”, en “die stilte van dié verre land wat strek tot op die gesigseinder”. Nou ja, daar gaan die Hertzog-prys.

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association