Namakwaland | Blommetjie gedenk aan my



Kyk net na hierdie blom,” sê Leana van Wyk terwyl sy buig oor ’n wynrooi blom langs die Matjiesfontein-padstal suid van Nieuwoudtville.
“Jy noem dit koppie-en-piering of man-in-die-boot. Dit word bevrug deur muise, wat die stuifmeel op hul neuse dra.
“Ons het so baie plante hier in ons dorp … dis hoekom dit die bolhoofstad van die wêreld genoem word,” sê sy trots. “En ons blomme op ons plaas lyk regtig mooi vanjaar ná die goeie reën.”
Leana bedink haarself: “Maar dis mos eintlik die Here se blomme …” 



Dis vroeg Augustus en die aanvang van die blomseisoen. Ons het pas begin om drie 4x4-roetes en vier grondpaaie in die Hantam-Karoo en Biedouwvallei te verken, en ons koppe draai reeds van al die name van die plante net hier rondom die plaasstal: die blou sambreelastertjie wat soos ’n gestreepte sambreel lyk, die geel glansoogbergmagriet en kleinganskos, en natuurlik die wit Namakwalandse madeliefie.

Omdat die Springbokke en die Wallabies mekaar dié Saterdagmiddag op Nuweland pak, is Leana se seun Kobus en ’n vriend wat in ’n Cruiser stilhou, op hete kole om ons later die Swartklip-4x4-roete gaan wys.
Hulle wil – nee, móét – vyfuur terug wees om die game op TV te kyk.

Leana nooi ons vir afval, skuinskoek, potjiekos en selfs ’n trekkerrit op die blomveld van 400 ha rondom die plaasstal. Maar ons moet aanstoot op die 4x4-roete deur 7 000 ha blomme op Boereplaas, net ’n entjie hiervandaan.

Ons program van vier dae is propvol – voor ons die langnaweek by die Mertenhof-4x4-roete in die Sederberg se Biedouwvallei afsluit, wil ons ook die Vergenoeg-4x4-roete naby die plaas Hantamsdrif ry − én vier grondpaaie in drie plekke rondom Nieuwoudtville: Papkuilsfontein in die suide waar die Swartklip-4x4-roete geleë is; die Grasberg- en Kloofpaaie in die noordweste op die Bokkeveldberge; die Rondekoproete net oos van die R357 en ’n ent anderkant die Kokerboomwoud; en ’n oostelike sirkelroete wat verby nog ’n kokerkoomwoud loop en 9 km suid van Loeriesfontein weer by die R355 aansluit.

En as jy moeg sou raak vir jou voertuig se binnekant, kan jy ook in die Hantam Nasionale Botaniese Tuin stap, die kort ent na die Nieuwoudtville-waterval voetslaan (gaan as daar nie ’n toeristebus is nie …) en ’n skemerkelkie by ’n kokerboomwoud drink.

Suid van Nieuwoudtville: Papkuilsfontein, Swartklip-4x4-roete

Ons wil Papkuilsfontein, sowat 23 km suid van Nieuwoudtville, graag voor sonop verken, en ry uit op ’n plaaspad wat nog deurdrenk is ná die winter.
Nadat ons die “kuil” van Papkuilsfontein skrams getref het, verstaan ons nou hoekom jy eerder die plaasroete in die droë somer moet ry.
En sommer vroeg die naweek was dit duidelik hoe ’n knap voertuig soos ons 3-liter Toyota Hilux D-4D ons uit ’n penarie kan help – en jou naweek kan red.
Die res van die roete was langs ’n makkerige plaaspad tot by ’n boskamp.
As jy die 14 km lange 4x4-roete met ’n moeilikheidsgraad van 4-5 ry, kan jy hier kamp. Dit loop oor ’n klipperige bergagtige gebied, en jy klim tot by die rand van ’n 180 m hoë canyon met ’n onverbeterlike uitsig.
Die roete loop op die rand van die canyon met ’n uitsig oor die Oorlogskloof-natuurreservaat.
Die 22 km lange roete strek tot in die rooi ysterklipheuwels en loop tussendeur 80 blomspesies wat eie aan dié plek is. Een daarvan is die breëblaar rooikatstert.
Met ’n blomgids byderhand wys Kobus ook die skaars perskussing, die Karoo-satynblom en die geelkatstert uit.
Voor hy voet in die hoek sit vir die rugbywedstryd, maak hy solank voorbrand vir ’n volgende besoek en wys waar ons die skaars kandelaarblom en gifbol kan sien wat in Februarie blom.
Maar die enigste “sportsoort” waarin ons dié naweek belangstel, is om die grootste kokerboomwoud in Suid-Afrika op te spoor – 27 km noord van Nieuwoudtville by die Gannabos-afdraai regs op die R357 na Loeriesfontein.

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association