Mabuasehube | Daar's 'n leeu in ons kamp!
As jy in Mabenyane a Kalahari in die moeilikheid beland, is jou naaste hulp die Mabuasehube-wildreservaat. Twee lesers, Danie Pienaar en Pine Pienaar, was vroeër vanjaar afsonderlik daar. Hier is hulle raad as jy ook wil gaan.
Die Mabuasehubewildreservaat – of Mabua, soos die meeste mense daarna verwys – is daai vierkantjie aan die oostelike punt van die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana.
Hulle kon dit netsowel die “Mabuasehube-leeupark” genoem het, want hierdie reservaat van 3 900 km² is regte, egte leeuwêreld. Behalwe dat jy ’n uitstekende kans het om Kalahari-leeus te sien, is jou kans nóg beter om ’n paar van nader te leer ken.
Buiten ’n luiperd wat een aand by Pine-hulle se kampplek ingeloer en ewe rustig rondgeloop het, het ’n leeuwyfie hulle ’n paar aande later besoek.
Pine vertel die leeu het eers om die storthokkie geloop om te kyk of daar water by die wasbakke is, en toe deur die kampplek se A-raam-skuiling gestap en hul skottelgoedwater uit die opslaanopwasbak gedrink!
Toe het sy sowat 3 m van hul medekampeerders se waentjie en tent gaan lê. Van die mense in Pine se groep het besluit dis veiliger om liewer in hul voertuig te slaap, en niemand het daardie aand toilet toe geloop nie ...
Die beste tyd om te gaan?
- “Dis heeljaar lekker, maar in die droë seisoen (van Mei tot November) is dit makliker om diere te sien wat na die panne beweeg.” – Danie
- “In Maart vanjaar was dit ons eerste besoek aan Mabua in die reënseisoen. Dit was die eerste keer dat ons water in die panne ervaar het. Die gras was lowergroen en meestal so hoog dat diere moeilik sigbaar was.” – Danie
Hoekom moet ek gaan (dis nou buiten die leeus)?
- “Die lekkerte van ’n besoek aan Mabua lê daarin dat daar gewoonlik min ander besoekers is. Jy kom selde ander voertuie teë, en wanneer jy op leeus afkom, is dit gewoonlik net jy en die leeus.” – Danie
- “Dis afgeleë, en jy is dikwels die enigste voertuig/groep wat iets wonderliks ervaar, soos ’n luiperd wat vreet. Jy kan dus alles rustig inneem en genoeg foto’s neem sonder ’n verkeersknoop.” – Pine
Wat is die maklikste roetes tot daar?
Danie sê daar is hoofsaaklik drie toegangsroetes: Via ’n 4x4-roete van Nossob af in die Suid-Afrikaanse kant van die Kgalagadi, van Tshabong in die suide van Botswana af, of via ’n kaplyn van Kokotsha af as jy van Gauteng af kom.
Tshabong is sowat 27 km van die McCarthy’s Rest-grenspos. Hier moet jy vir oulaas brandstof volmaak, hoewel brandstof nie altyd beskikbaar is nie.
Die 112 km lange sandpad noord van Tshabong af na Mabua kan in die droër tye diep-sanderig wees, maar jy het nie ’n gevorderde rykursus nodig om die pad te bemeester nie, sê Danie.
“As jy uit Gauteng kom, kan jy via Gaborone of Lobatse ry en dan by Mabua kom langs ’n 120 km lange kaplyn van Kokotsha af. As jy dié roete volg, moet jy brandstof by Sekoma volmaak.”
- “Op sommige plekke is die Tshabong-Mabua-pad vier verskillende spore, en op ander plekke net een spoor, terwyl die res van die pad met gras toegegroei is.” – Pine

Temperatuur?
- “In die winter kan die temperatuur ver benede vriespunt daal. Dit kan ook uitermate warm raak in September en Oktober.” – Danie
Watter geriewe kan ek verwag?
- “Jy het ’n keuse van sewe kampplekke, met Lesholoago die noordelikste en Bosobogolo die suidelikste kampplek, sowat 40 km uitmekaar. Die kampplekke is almal by panne geleë.” – Danie
- “Die kampplekke het A-raam-afdakke en puttoilette, en by van hulle is waswater beskikbaar. Die enigste warm stort- en wasgeriewe is by die kampplek by die reservaatingang en dit is raadsaam om jou dagritte só te beplan dat jy daar ’n draai kan maak.” – Danie
- “Dis goeie maniere om eers te vra of jy by die kampplekke met water kan stort en/of water kan tap as jy nie daar kamp nie. Niemand was egter snaaks met ons toe ons gevra het nie.” – Pine
- “Vullis in die kampplekke word nie gereeld verwyder nie – ’n probleem wat ons (en mense voor ons) by ontvangs aangemeld het.” – Pine
Inhoudsopgawe:
- Mabuasehube | Daar's 'n leeu in ons kamp!
- Bl 2: Wat kan ek alles ...





Kommentare
so ek neem aan daar is nie toer operateurs met hordes mense wat daar rondry nie.
Pos nuwe kommentaar