Mabenyane A Kalahari | Wilfred se soort plek

In ’n stuk ongerepte Botswana-wildernis groter as België het Barnie Louw sy spore langs dié van grootwildjagters getrap. En in die proses agtergekom die Kruger is eintlik maar net ’n uitgegroeide dieretuin.

Het jy al gewonder hoe lyk daai dele op ’n kaart waar niks aangedui word nie, of eerder, waar daar niks is om aan te dui nie? Jy weet, daai stukke waar dit net een kleur is, sonder stippellyne, sirkeltjies of plekname.

As jy byvoorbeeld op ’n groot muurkaart van Afrika kyk na die deel van die Sahara noord van Timboektoe, sal jy sien wat ek bedoel – dis net een soliede liggroen stuk wêreld.

Oor die volgende paar dae gaan ons self kyk hoe lyk só ’n eenkleur stuk op die grond, en ek’s ietwat senuagtig. Ons staan gebukkend oor ’n kaart van Botswana oopgevou op die eetkamertafel van die Cornwall Ranch, net anderkant die Molopo-rivier van die Bray-grenspos af.

Heini en Jannie Strumpher trek met hul bruingebrande snellervingers die buitelyne van Mabenyane a Kalahari (“Juweel van die Kalahari”). Dié pa en seun se konsessiegebied van 4 miljoen ha strek van Tshabong in die suide van Botswana, reg om die Kgalagadi-oorgrenspark en Mabuasehube tot amper in die Ghanzi-distrik en teen die Namibiese grens.

Ja, jy het reg gelees: 4 000 000 ha se wilde, woeste Kalahari, twee keer groter as die Krugerwildtuin, groter as die Botswana-kant van die Kgalagadi, en so groot soos Switserland – net sonder die heinings, paaie, mense (en jodelsangers en koekoekhorlosies).
En dis in die noordelike eenkleur deel van dié leeuwêreld waarin ons groep van 8 karre en 17 mense onsself môre gaan begewe …

Hoe meer moeite …

Op Veronica Roodt se kaart van Botswana is die deel waarheen ons op pad is, net ’n stuk groen, en op Tracks4Africa is daar net een of twee eensame grys stippellyne (wat ’n kaplyn aandui) deur ’n leë roomwit stuk.
Daar is nie ’n pad, nedersetting of watergat nie; nie eens ’n voetpaadjie of kontoerlyn nie. Wat nog te sê ’n UltraCity of SuperSpar.

Al ander mense wat jy miskien kan teëkom, sê Jannie, is ’n Botswana Wildlife-
of weermagpatrollie. Of ’n verdwaalde San, dink ek onderlangs. Net om my senuwees nog meer op hol te jaag, vertel Heini en Jannie van leeus wat die kombers van ’n slapende werker getrek het wat besig was om ’n jagkamp te bou …

Onwillekeurig dink ek aan Wilfred Thesiger se beskrywing van die Arabiese woestyn: “… [E]mpty wastes where only the changing temperature marks the passage of the year. It is a bitter, desiccated land which knows nothing of gentleness or ease.”

Goed, hy’t miskien van ’n sandwoestyn gepraat en daar’s niks “desiccated” of “bitter” aan die Kalahari nie, maar die “nothing of gentleness or ease” kan netsowel op dié stuk Afrika van toepassing wees.
Nie dat ek myself met dié legendariese Britse reisiger wil vergelyk nie, maar ek’s seker hy was ook redelik senuagtig voor hy in 1946 die groot onbekende in is en die eerste Westerling geword het wat die Rub’ al Khali (Empty Quarter) oorgesteek het.

Die Empty Quarter – een van die grootste sandwoestyne ter wêreld, wat die grootste deel van die suidelike derde van die Arabiese skiereiland beslaan – is wel effens groter as Heini en Jannie se konsessiegebied (so groot soos Nederland, België en Frankryk saam), die duine is hoër (hoër as die Eiffeltoring), maar die somertemperature is omtrent dieselfde (tot 55 °C), en boonop was daar nie leeus in die Rub’ al Khali nie.

Hy het 60 jaar voor ons te voet en per kameel gereis, maar ná 800 viertrekkilometers deur die Kalahari-wildernis sou ons, soos Thesiger, besef hoe meer moeite dit is om by ’n bestemming te kom, hoe meer waardering het jy daarvoor.

Kommentare

Dit lyk baie lekker

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association