Pin It
print

Lesotho | Lesotho van 2 kante af


DO24_WR6_Lesotho
DO24 WR6 Lesotho Lesotho | Lesotho van 2 kante af

 

1. Sonder ’n (goeie) kaart treiter jy die noodlot

Lesotho is klein, maar laat hom nie “trein” nie. Dié land en sy bergpasse moet jy nie sonder handskoene óf ’n goeie kaart aanpak nie, het Yolandi Wirth van Johannesburg agtergekom.

Ek’t nou net ’n pakdonkie met ’n sak meel op sy rug gesien,” hoor ons oor die tweerigtingradio. “Ek dink die Katse-dam moet net om die volgende draai wees.”

Dis net ná een in die middag en ons bevind ons iewers in ’n rowwe bergpas in Lesotho.

Ons het nie ’n kompas of GPS nie, net ’n eenvoudige kaart wat ons van die internet afgelaai het.

Want hoeveel “anders” kan die Drakensberge dan nou aan Lesotho se kant wees?

Wel, ná 11 uur en net 90 km se vordering, kan ek boekdele oor die andersheid skryf …

Dag 1: ’n Oormaat adrenalien
Alles is “goed” beplan: Vier 4×4’s, vier tweerigtingradio’s, agt avontuurlustige mense en ’n kaart. Wat meer het jy dan nou nodig?

Selfs toe ons vieruur die oggend spitsverkeer op die N3 kry (dit was ’n langnaweek in April), bly ons koel en kalm en geniet ons koffie. Niks kan ons omklits nie.

Die eerste groot stok in die wiel is ’n nuwe waaier in een van die 4×4’s wat klaarblyklik nie sy werk doen nie.

Met die gepaardgaande stilhouery duur dit uiteindelik agt uur om tot in Estcourt te ry, byna dubbel langer as gewoonlik.

Dag 2: Die toer wil net nie aan die gang kom nie

Net drie uur se slaap later hou die mans hul lyf mechanic op ’n stoep van een van Estcourt se winkelsentrums. 

Hulle koop gereedskap by die enigste oop ysterwarewinkel op die dorp, en begin die probleem herstel – ten aanskoue van ’n stewige skare nuuskie-riges.

Maar net ’n uur of wat later en ons is weer op pad, reg om die Sanipas te gaan tem.

Oor die volgende 200 km hou ons nóg sewe keer stil, en kom eers laatmiddag op Himeville aan. (Ek’t nooit gesê ons mans is professionele mechanics nie …)

Die plan was om nou al bo-op die Sanipas te wees, en daarom het ons nie vooraf verblyf gereël nie. Niemand mor egter daaroor om in ’n stormsterk wind tent op te slaan by ’n klein kampeerplekkie aan die voet van die Drakensberge nie.

Ná ’n vinnige vleisbraai mik almal bed toe om goed uit te rus vir die volgende dag se 4×4-ryery.

Dag 3: Wie is bang vir die Sanipas?
Ons het by ’n hele paar mense gehoor dat as jy nog nie die Sanipas gery het nie, het jy nog nie werklik 4×4 gery nie. Dus vertrek ons met groot verwagting uit Himeville.

’n Uur en ’n half later is ons bo. Jip, aan die bopunt van die Sanipas, binne-in Lesotho. Die teleurstelling is groot, maar niemand sê iets daaroor nie.

Dit was plek-plek rof, die uitsig onverbeterlik hoe hoër ons gegaan het, maar die duidelike waarskuwing by die grenspos dat “slegs 4×4’s” verder mag gaan, hou min waarde in. Die 4×4-taxi wat verby ons geskiet het, was omtrent die opwindendste deel van die pas.

Wat ons wel sonder vooraf waarskuwing kry, is koue. ’n Snerpende byt wat deur jou lyf kloof. Bibberend trek ons winterbaadjies, handskoene en musse aan. En aangesien ons die pas uitgeblits het, kon ons nie anders as om by die “hoogste kroeg in Afrika” ’n lafenis te gaan soek nie.

Langs ’n simpatieke kaggel in die Sani Top Chalet ontdooi ons, maar teen laatmiddag herinner die avontuurgogga ons daaraan dat daar meer as een pas in Lesotho is.

Sowat ’n halfuur van die Sani Top Chalet af in die rigting van Mokhotlong moet ons weer stilhou. Die probleem van die vorige twee dae wil maar net nie wyk nie.

Terwyl almal nog so rondstaan, begin die mooiste fyn sneeuvlokkies val. Wat ’n belewenis! Ons is in die middel van nêrens, en Lesotho verruil haar vaalgroen jassie vir die pragtigste wit mantel.

Ons dag van teleurstelling het pas handomkeer verander. Tevrede klim ons terug in ons voertuie. En in die skemer, tussen die sneeuvlokkies deur, gaan soek ons die dorpie Mokhotlong.

Dis agtuur, en die enigste hotel wat ons in Mokhotlong kan vind, is volbespreek.
Gelukkig bied die personeel van die Senqu-hotel vir ons hul raadskamer aan.

Ons gee glad nie om vir die gebrek aan geriewe nie, want ten minste is ons beskut teen die sneeu wat steeds buite val.

Dag 4: Is Katse links, regs of reguit aan?
Ons ry weg uit Mokhotlong met die sneeu wat nog dik op die bergspitse lê. Deur die nag het dit ophou sneeu, maar plek-plek ry ons nog deur wit vlokkies.

Ná ’n uur se ry op die teerpad, op pad na Katse, kom ons by ’n bord waar ons ’n groot besluit moet neem: 90 km grondpad deur ’n paar passe, of 300 km om die passe mis te ry. Aangesien die Sanipas ons nie wild van opgewondenheid gemaak het nie, móét ons eenvoudig die grondpad kies.

Teen middagete is ons “iewers” diep in die berge. Twee voertuie – die eerste wat ons teëkom sedert ons die teerpad verlaat het – haal ons van
agter in, en vra of ons ook op pad is Katse toe.

Die grondpad word al slegter namate ons dieper die wildernis in ry; ons sien net soms Basotho-krale. Die aanwysingsborde het nou heeltemal opgedroog.

Skud-skud ry ons voort. Op met die berg, oor die top, af met die berg, deur die mielieland, om die berg, deur die rivier, weer op met die berg.

Ons grappies raak al minder, en niemand wil eens daaraan dink dat die 25 liter ekstra diesel wat elkeen saamry, dalk nie genoeg is nie.

In dié stadium is die voertuie permanent in laestrek, om seker te maak ons val nie in ’n donga vas of gly die ewigheid in van ’n tweespoorpaadjie af nie.

Gelukkig vergoed die uitsig hiervoor, en dit lei ons gedagtes af van alles wat kan verkeerd loop. Al die bergspitse is steeds met sneeu bedek en die Basotho’s toegedraai in hul komberse.

Elke afgeleë plekkie het sy eie skool en dit word met ’n bord aangedui – die enigste wat ons langs die pad sien. Maar dit help ons nie om vas te stel waar ons ons eintlik bevind nie.

Teen laatmiddag is ons vir die soveelste keer bo-op die berg, met net stilte om ons.

Diep in dié verlatenheid besin ’n mens oor heelwat dinge, en nostalgie het ’n manier om die oorhand te kry.

Maar die werklikheid bring jou vinnig terug aarde toe as jy besef die plaaslike mense verstaan nie eintlik Engels nie. Niemand kan dus bevestig dat ons op pad is Katse toe nie.

Dit begin al skemer raak toe ons weer die twee voertuie sien wat ons vroeër verbygesteek het. Hulle is spikkeltjies onder in ’n rivierbedding toe ons die pas (die laaste pas voor die Katse-dam, sou ons later uitvind) begin afgaan. Dis ’n enkelpad, wat ’n mens mooi gebede laat opsê dat niemand van voor af moet kom nie.

Toe ons onder kom, het die son reeds rustig tussen die berge gaan rus. Ons skakel ons hoofligte aan. En daar, reg aan die onderpunt van die pas, ry ons ons vas in ’n brug – ’n halfgeboude een. 

Ons het twee keuses: Draai terug na waar ons vandaan gekom het, of ry deur die rivier. Natuurlik kan niks in dié stadium ’n erger 4×4-beproewing wees as wat ons dié dag moes deurmaak nie. Dus wen die tweede keuse loshande. Ons is skrikke-rig om die 15 m breë rivier oor te steek, maar toe die eerste voertuig eers in die water is, besef ons die rivier is nie dieper as ’n halwe meter nie.

Die grondpad ná die rivier is die eerste ordentlike pad in tien uur wat nie jou ingewande herrangskik nie.

Die bouwerk laat die hoop opflikker dat ons die beskawing nader, en ’n uur later glimlag Katse se liggies in die verte.

Ons is te uit die koers uit laat om iets van die dam te sien, maar ons is darem veilig.

Ons soveelste held op dié avontuur, ’n sekerheidswag, bied vir ons blyplek aan in die Katse-opleidingsentrum nadat ons nie by ’n inligtingskiosk kon regkom met verblyf nie.

En net daar besef ons ons is op die punt om dié land se goedheid te begin misbruik. Dit was tyd om terug te keer na “ons” kant van die Drakensberge.

Pleks van nóg ’n dag van verkenning sonder ’n ordentlike kaart, hang ons ons ontdekkershoedjies aan die kapstok en besluit om eerder tuis ons volgende Afrika-ekspedisie te beplan.

DO24 WR6 Lesotho%20%282%29 Lesotho | Lesotho van 2 kante af

Bl 2: 2. Nooit weer in …

DO24 WR6 Lesotho%20%283%29 Lesotho | Lesotho van 2 kante af

2. Nooit weer in een dag nie

Lesotho is nie ’n plek vir ’n dag lange blitsbesoek nie, het Carel Mulder van Johannesburg besef. Dis ’n plek waar jy sneeu in Maart kan teëkom, en bitter min rigting- en naamborde.

You look after your-self my friend!” sê die onderwyser vir my toe ons afskeid neem. En hy bedoel wat hy sê. Nog nooit het ek al soveel opregtheid in iemand se oë gesien soos daardie oggend laat in Maart nie.

Ons is êrens in die noorde van Lesotho en ry nou al amper twee uur aan sowat 40 km se grondpad. Dit voel vreeslik lank en ek moes stilhou en ’n bietjie rigting kry.
“You are on the right road,” verseker die onderwyser my nadat ek hom gevra het waar ons presies is en waarheen ons moet gaan.

“Just continue until you get to the tar road that will take you to Sani Pass.”

Lesotho is bekend vir sy ongelooflike natuurskoon en indrukwekkende bergreekse – en nie vir sy formele aanwysings, rigting- en naamborde nie. ’n Mens ry maar net totdat jy toevallig by ’n plek kom wat ook op ’n kaart verskyn.

’n Kompas sal seker help, en ’n GPS is eerste prys, maar ek het nie laasgenoemde nie.

Ons het vroeër die oggend by die Monantsa-grenspos in die noorde ingekom, net buite Phuthaditjhaba, nadat ons besluit het om “gou vir ’n dag” (van Bergville in KwaZulu-Natal af) deur Lesotho te ry en by die Sanipas uit te gaan.

Laat ek dit dadelik duidelik en onomwonde stel: ’n Mens ry nie gou vir ’n dag deur Lesotho nie!

Ja, ek kan nou ook sê ons was daar, maar ’n mens doen jouself en dié land ’n onreg aan om net vir ’n kort rukkie te gaan. As jy dit haastig doen (dis nou as jy 30 of 40 km/h “haastig” kan noem), jaag jy van die een punt na die volgende net om die grenspos te haal voor dit vieruur sluit.

Jy het tyd nodig om Lesotho te waardeer, te ervaar en be-hoorlik in te neem. Ek vermoed die oorspronklike “fabriek” vir Afrika se berge was miljoene jare gelede hier gewees. En hier raak dit ook duidelik hoekom daar soms na berge verwys word as “majestueus”.

Na sowat drie uur se geskud en geskommel op die pad het ons later die teerpad gevind. (Eintlik was dit ’n geval van die teerpad wat óns gevind het.)

Die grondpaaie in die noordelike deel van Lesotho, en selfs die A1-teerpad tussen Joel’s Drift en Mokhotlong, is nie besaai met winkels of kafees nie.

Hoewel daar hier en daar ’n klein spazawinkeltjie is, is hulle dun gesaai en die verskeidenheid is beperk. Vat dus eet- en drinkgoed saam.

Die A1-teerpad na Mokhot-long en die pad verder aan na die Sanipas neem ’n mens deur van die wonderlikste natuur-skoon en buitengewoonste bergpasse op die vasteland.

Buiten die paar diamantmyne en die teerpad in dié deel van die land is die natuur skoon en ongerep.

Die teerpad is aanvanklik in ’n baie goeie toestand, maar dit verswak tot so ’n mate dat die pad later uit min teer en baie gate bestaan.

DO24 WR6 Lesotho%20%285%29 Lesotho | Lesotho van 2 kante af

Om die dag nóg meer interessant te maak, het ons boonop al vier seisoene beleef (in Maart). Die temperatuur het deur die dag gewissel van 4 °C tot 23 °C – van warm sonskynweer tot reën en selfs sneeu!

Die spanning in die kar was gelaai – ons moes voor vieruur die middag by die grenspos wees, ons weg deur ’n sneeubedekte pad (’n stuk van sowat 10 km) oopstoei, en dit boonop sonder afstandborde. Ek het na ’n yskoue gesmag, en my vrou na ’n dubbele brandewyn en brandewyn.

Die son het al erg begin water trek en ek het al gesien hoe ons in die kar met ’n halwe liter water, twee bottels ystee, drie energiestafies en ’n houer Pringles oornag.

Die volgende oomblik het die grenspos soos ’n oase voor ons opgedoem, en ek kon al die yskoue bier by die “hoogste kroeg in Afrika” proe. Dit was halfvier, en ons is sonder probleme deur die grenspos.

Ons was veilig, of so het ons gedink …

Net buitekant die grenspos en langs die Sani Top Chalet het ons op ’n oop stuk veld geparkeer, met geen ander kar in sig nie. By die kroeg het ons vergeefs saam met ’n groep Duitse toeriste gewag, met geen diens in sig nie.

Dit was al ná vieruur toe ons besluit het om maar die yskoues te los en aan te stoot Bergville toe (oor Himeville).

Ons het stadig teen die Sanipas afgekruie en voort-durend vir aankomende verkeer ryvoorrang gegee. Die roete is nie gemaklik nie, en ons het in redelike stilte (en droogte) aangeploeter.

In die verte teen die berg af kon ons ’n liggie sien brand. 

En skielik, kwart voor vyf, het die ratte in my kop harder begin werk as die kar s’n. Sê nou net ons kan nie deur die Suid-Afrikaanse grenspos kom nie en moet in niemandsland bly?

Die grenspos het vieruur al toegemaak, maar daar was geen manier dat ek gaan om-draai, terug teen die Sanipas uit nie. In my kop het ek al die Pringles en die stafies vir aand-ete begin verdeel.

Ons het tien oor vyf voor die Suid-Afrikaanse grenspos stilgehou. Die hek was geslot en gegrendel, en by die kantoor onder het die polisieman in sy bakkie geklim om huis toe te gaan. Hy het ons gesien, uit-geklim, opgestap en die hek oopgesluit. Die vlaag van ver-ligting het soet gesmaak.

Die man was nie baie in-genome met ons nie, het heelpad sy tong geklap en iets van “overtime” gemompel. Maar ek was nederig en het om verskoning gesoebat.

’n Paar minute later was ons paspoorte gestempel, en ons was terug op tuisgrond.

Swak diens was nog nooit só welkom nie.

DO24 WR6 Lesotho%20%284%29 Lesotho | Lesotho van 2 kante af
 

WR_Lesotho.pdf 535.1 KB