Lesotho | Al lê die berge nog so … groen


Ná oorvloedige reën in ’n smaraggroen Lesotho het die wolke lank genoeg weggetrek vir Johan de Smidt om ’n pelgrimstog van die Basotho se geboorteplek, via ’n bekende waterval, na ’n ikoniese bergpas aan te pak.
“Ek wed jou tien maloti’s dis ’n donkie se ore daai.”
“Nee man, dis ’n haas s’n …,” raai Frank en stuur die Cruiser versigtig om die slaggat, terwyl hy ’n vars noot van Lesotho se geldeenheid in sy bosak druk.
Soos die spreekwoord jou hier in die Bergkoninkryk waarsku, ’n paar ore wat by ’n slaggat uitsteek, kan aan iets behoort wat aansienlik groter is as ’n haas – dit kan ’n donkie wees.
Die donkie kan die karakter wees in die plaaslike sprokie wat saam met sy twee vriende, ’n bees en ’n boerbok, na die Randse goudmyne geryloop het om werk te gaan soek.
Ingeprop in ’n 4×4-Hi-Ace het die driestuks ’n jaar later na hul geliefde Malutiberge teruggekeer. Toe die minibus naby die bok se hut stilhou, het hy laat spaander, en die donkie en die bees moes sy taxigeld betaal.
Sedertdien soek hulle die bok – en dis glo waarom bokke weghardloop elke keer as hulle ’n aankomende voertuig sien. En dis ook glo hoekom donkies en beeste altyd die pad versper – hulle soek nog daai bok om hul geld terug te kry.
Jy glo my nie? Wel, het jy al ’n boerbok gesien wat raakgery is? Op ons drie dag lange kronkeltog van 850 km – van Maseru na die Sanipas hier in die land van die baie thabas (berge) – het ons beslis nie een gesien nie.
Op die eerste dag het ons reis ons geneem na die akademiese sentrum van Roma, daarna op na die land se geboorteplek op Thaba Bosiu, en toe af na die Kome-grotskuilings waar jy stories oor kannibale kan hoor.
’n Rowwe grondpad langs ’n rivier na die donderende Maletsunyane-waterval was dag twee se hoogtepunt, terwyl die uitsig oor die reusagtige Mohale-dam en stomende glühwein by ’n ysige Sani Top dié eer gekry het aan die einde van ’n lang derde dag.
Wat ons wel teëgekom het – buiten ’n vrolike Josefskleed-landskap – was ewe kleurryke staaltjies oor ’n veldryer wat teen ’n berghang afgetuimel het, ’n aangrypende trurat-“ontsnapping” op die berugte Jockstrappas, en pasgetroudes wat in ’n mank Land Rover oor die grootste deel van die magtige Bobbejaanspas gesleep is.
Selfs die plaaslike koninklikes moes al die knie buig voor die Maluti’s – Moshoeshoe II is in 1996 dood toe sy 4×4 oor ’n krans gestort het in hierdie bergagtige oostelike deel van Lesotho, wat die hoogste pieke in Suider-Afrika het.
En natuurlik is geen verhaal oor Lesotho volledig sonder ’n veediefstalstaaltjie nie – ons monde het behoorlik oopgehang toe ons vertel is van een veediefstalslagoffer se grusame, dog doeltreffende wraak …
Maar dié legendes en staaltjies sou ons eers later hoor, in die knus sitkamers van die Ramabanta Trading Post Lodge en die Sani Top Chalet, terwyl veewagters, toegedraai in komberse, hul vee van die hooglande afbring net voor die jaar se eerste ernstige kouefront toeslaan.
Bl 2: Moshoeshoe se …
Moshoeshoe se vesting
Ons is seker in die balimo (voorvaders) se goeie boekies, hier waar ons staan tussen die koninklike grafte op Thaba Bosiu (Berg van die Nag), ’n heuwel sowat 20 km oos van Maseru.
Op ons eerste laatsomersoggend in Lesotho hou die somerreën, wat op lowergroen lande met mielies en morogo (wildespinasie) en in die reusedamme hier op die dak van Afrika neergegiet het, op met val.
Die son bak ’n mengelmoes van geure uit die deurdrenkte aarde op die vesting waarheen Moshoeshoe I sy mense na veiligheid gelei het tydens die difaqane, die grootskaalse vlug voor Shaka se plunderende impi’s in die vroeë 1800’s.
Nat grond vermeng met die reuk van savannegras, medisinale lengana (wildeals) en kakiebos tot ’n aroma wat netsowel geblik en verkoop kan word as “Bergreën”.
Die son, wat eenbeentjie speel met die oorblywende stapelwolke in ’n Surf-blou lug, is strelend op ons vel.
En die nabygeleë grasveld se skakerings van weermaggroen tot mosgroen en die graanlande op die veraf bergrante is moetie vir die siel.
Dís waarskynlik wat Moshoeshoe I en sy jong nasie aangespoor het terwyl hulle ook drie jaar teen ’n Boerebeleg moes uithou (wat met ’n Britse anneksering in 1869 geëindig het). In die dag lyk dit soos ’n gewone heuwel, maar terwyl spiese en klippe op aanvallers neergereën het, kon dit netsowel in die donker tot die Berg van die Nag gegroei het.
Ek en Frank mik reguit na Thaba Bosiu nadat ons Jennifer Thorn, ons selfaangestelde moeder vir die duur van ons verblyf by die Trading Post-gastehuis in Roma, 35 km suid-oos van Maseru, ontmoet het.
Tsiliso “Tsili” Koeshe, ons Basotho-gids, glimlag breed. Die twee entoesiastiese, maar effens onfikse toeriste wat hy teen die voetpad na die oorblyfsels van Moshoeshoe I se kliphuis opgelei het, hyg na asem. Bo van die rand van die heuwel wys Tsili ons die spitsvormige Qiloane-heuwel doer onder, glo die inspirasie vir die vorm van die kenmerkende Basotho-hoed.
Frank Carlisle, die grootbaas van Bhejane 4×4 Adventures, is in die sewende hemel hier in die Bergkoninkryk. “Dit … was nog … altyd my droom … om die plek … te … kom besoek … waar die Basotho … nasie … gebore is …,” hyg hy.
En ek voel asof ek ’n 4×4-fotografiesafari na ’n alpynse bestemming gewen het waar die heuwels met groen Sound of Music-skakerings weergalm.

Bl 3: Kannibale en …
Kannibale en kleihuise
Nadat ons ’n oomblik lank by Moshoeshoe I se graf op Thaba Bosiu stil geraak het, stap ons weer af en ry na die Kome-grotskuilings, ’n nasionale erfenisterrein 28 km verder, wat bestaan uit ’n reeks kleiwonings wat in die 1800’s onder ’n rotsoorhang gebou is.

Onder die oorhang roer ’n vrou ’n potjie op ’n oop vuur en ’n nkono (ouma) vee sorghum bymekaar. Sy is ’n afstammeling van ’n handjievol gesinne wat hier kom bly het nadat hulle in die 1800’s van kannibale in die omgewing gevlug het, vertel die inwonende toergids ons. (Die koninklikes het ook nie skotvry van die kannibale afgekom nie – hulle het glo Moshoeshoe I se oupa geëet.)
Gebukkend gaan ons die kleiwonings met hul eenvoudig gemeubileerde slaapkwartiere en ’n graanbergingsplek binne. Twee eeue later lyk dit soos ’n lewende geskiedenisuitstalling.
Dankbaar dat ons in ’n eeu leef waarin ander diere as die tweevoetige soort die primêre proteïenbron is, keer ons terug na die sandsteengeboue van Roma.
Teen sononder ry ons saam met Ashley Thorn, Jennifer se tydrenkampioenman, sowat 2 km op teen die Mafikengberg na spore van die meter lange Lesothosaurus. Ashley wys ons die handgrootte afdrukke wat nog duidelik sigbaar is, 200 miljoen jaar nadat die herbivoriese “Akkedis van Lesotho” sy merk hier gemaak het.
Ná skemerkelkies by dié prehistoriese spore vier ons ons status as uitverkorenes bo-aan die voedselketting in die post-T-Rex- en kannibaal-era met sosiale en gastronomiese rites by die Trading Post-gastehuis.
Bl 4: Lang valle …
Lang valle, tuimelende Landies
Semonkong en sy ikoniese Maletsunyane-waterval (die hoogste enkelval-waterval in Suider-Afrika) is waarheen ons die volgende oggend vroeg vertrek.

Omdat die Basotho afstand in tyd eerder as kilometer meet, word ons vertel dis drie uur se ry tot by die waterval (of 133 km, as jy nou wil presies wees) oor die Thaba Putsoa-bergreeks. Maar ons gaan ’n paar ompaaie tot daar ry.
Die bestuurder van die Ramabanta Trading Post, Peter Sinclair, neem ons eers op ’n 4×4-ompad wat die A3 (die wes-oos-roete verby die Mohale-dam) verbind met die A5 (wat suidoos van Roma oor Ramabanta na Semonkong loop). Aan die voet van die Boesmanspas, 27 km van Roma, draai ons regs van die A3 af op die 31 km lange verbindingsroete wat al langs die Makhalengrivier kronkel.
Dié grondpad dwing jou eenvoudig om gereeld vir foto’s stil te hou, en kort voor lank is my geheuekaarte propvol. Die mense is vriendelik, en naby ’n dorpie langs die lomerige rivier stap ’n man met sy honde. “Ntate (vader)!” groet hy en raak aan sy hoed se rand.
Ons besluit om nie verder teen die rowwe (en tydrowende) Jockstrappas op te ry nie en draai regs op ’n kortpad wat ons uiteindelik op die A5 tussen Roma en Ramabanta uitspoeg.
In die rigting van die waterval, op pad na Ramabanta, wys Peter ons die twee ferm rondings van Thabana-li-Mele (die Berg met Borste), en anderkant Ramabanta kry ons ’n vlugtige blik op die legendariese Bobbejaanspas naby Thaba Putsoa. Op die laaste ent ry ons verby geel koringlande, gereed om geoes te word, en boere wat die graan dors – óf deur vee rond te jaag op die dorsvloer óf deur die koring met stokke te slaan.
Toe ons naby die 192 m hoë pluim van die Maletsunyane-waterval stop, begroet ’n knalgeluid soos ’n rotsstorting ons soos die water die klippe onder tref.
Nadat ons ons eie poskaartfoto’s van die tablo geneem het, gaan maak ons ’n draai by die Semonkong Lodge waar die laatmiddagson al lang skadu’s gooi.
Die eienaar, Jonathan Halse, nog met sy sonbril op, spog met die abseil teen die waterval af – die hoogste kommersiële een ter wêreld.
“Dis 204 m, man; ’n Guinness Book of Records, man.” Mooi, man. Ek koop twee wolmusse wat my net soos ’n plaaslike veewagter gaan laat lyk, man.

Bl 5: Speel rond op …
Speel rond op gevaar se voorstoep …
Teen ’n verblindende sonsondergang in ry ons al kronkelend na die Ramabanta Trading Post, 50 km van Semonkong en ons oornagplek.
Die medebestuurder, Rose Duby, bederf ons hier verder waar Jennifer opgehou het.
Intussen het Ashley en Jennifer van Roma by ons aangesluit. Nadat hy vroeër die dag ’n tydrenroete vir die volgende naweek uitgemerk het, vermaak Ashley, self ’n Dak van Afrika-tydrenveteraan, ons nou met 4×4-staaltjies wat so eie is aan dié bergagtige land.
Die angswekkende ervaring van die Landie-man Mike Porter, wat in 2007 naby Ha Tsokotsa en die Jockstrappas teen ’n berghang afgerol het, is een van die mees dramatiese.
In die Jockstrappas het Ashley en Jennifer ook ’n verskrikking beleef toe hulle die pas in trurat moes uit nadat hulle in padbouspanne vasgery het en nie kon omdraai nie.
“Ek het hom gevra om te bel en te hoor of die bouwerk aan die pas al klaar is, maar tipies man het hy nie, omdat hy seker was hulle is al klaar,” vryf Jennifer dit in.
“Die pad was so nou,” onthou sy oor aandete by Ramabanta, “ek kon nie eens langs my deur staan nie.”
Jennifer het Ashley vir langer as 300 benoude meter terugbeduie, met sy bande soms net sentimeters ver van die afgrond.
Dan was daar die pasgetroudes in hul Land Rover waarvan die halfas kort ná die begin van die Bobbejaanspas gebreek het. Die ander lede van die groep moes die Landie oor die res van dié rotsagtige pas sleep.
Ashley moes ook al ’n Unimog aan dieselfde pas afstaan nadat dit sy onderstel gebuig het. “Ons was effens gulsig toe ons die laaibak groter gemaak het om meer goed te kan laai,” erken hy.
Die Duitse werktuigkundige wat ingevlieg is om hulle oor herstelwerk raad te gee, het net sy kop geskud: “Das geht nicht (Ek kan dit nie doen nie).”

Bl 6: Afskeidsgroet van …
Afskeidsgroet van ’n kryger
Vrolike rooivlerkspreeus maak ons vroeg die volgende oggend wakker. Ek en Frank moet vandag sowat 12 uur se ry inpas – heelpad oor Lesotho se sentrale hooglande tot by die Sanipas, waar ons voor donker wil wees.
Peter en Rose is voor sonop wakker om ons aan die gang te kry met koffie, beskuit en padkos – ingelegde perskes van die omgewing en vetkoek. Eers ry ons op die nou bekende stuk pad terug tot by Roma om brandstof vol te maak, en vat dan die A3 na die Mohale-dam, sowat 107 km verder oos.
Aan die voet van die Boesmanspas gee drie donkieruiters ons ’n opruiende afskeidsgroet, hul strydstokke omhoog. Anderkant die Blue Mountainpas ry ons verby die Mohale-dam, wat die hoogste fyngemaakte rotswal (145 m) in Afrika het.

As die aardverwarmingsvoorspellings van die doemprofete oor ernstige watertekorte gaan waar word, gaan Lesotho breed glimlag.
Water, een van Lesotho se min noemenswaardige natuurlike hulpbronne, word hier hóóg aangeslaan. Só hoog dat die Basotho pula (reën) tussen khotso (vrede) en nala (voorspoed) in hul nasionale leuse ingeglip het.
Hoewel die land se ander kroonjuweel – diamante – sy glans in die resessie verloor het, kom ons tog geoloë in ’n 4×4 teë wat ’n “geochemiese opname” van die verskeidenheid “minerale” in die plaaslike rivierbeddings doen. Buiten landbou en arbeid is diamante immers een van die land se groot uitvoerprodukte.
Op die Likalanengpas moet ons stadiger ry vir veewagters wat met hul troppe skape, angorabokke, boerbokke en beeste van die kouer wordende hooglande laer migreer.
Later ry ons verby die nedersetting Marakabei waar Moshoeshoe II sy heiland leer ken het, en kort daarna oor die Senqu-rivier, op pad na die suidweste waar ons dit as die Oranjerivier ken.
Terwyl reënwolke begin laer trek en ’n ysige noordewind ons in die gesig piets, verskyn ’n ridder – letterlik op ’n wit perd – langs die pad om te sê ons is nog op die regte pad.
“Perde is hulle Toyotas, man,” het Jonathan ons by die Semonkong Lodge vertel.
Om die waarheid te sê, hierdie plaaslike “Toyotas” kom die laaste Saterdag van elke maand al donderend van heinde en verom in Semonkong resies te jaag. En die plaaslike mense kom om te wed. “Dis ’n jol, man.”
Bl 7: ’n Veedief se …
’n Veedief se moses
Naby die wolkbedekte spits van Thaba Phafane (3 482 m) kom ons by die hoogste punt van ons reis. Afwisselende reënvlae is die naaste wat ons kom aan Lesotho se bekende donderstorms voor ons regs draai op die A31 vir die laaste skof na die Sanipas.
Ons hou stil by drie seuns wat in ’n stroompie visvang. Dié gawe knape is welbekend met die plaaslike manier van ruilhandel – lekkers vir ’n foto. “Nee man, lekkers is sleg vir jou tande,” kap ek terug, en besluit om eerder die enigste ander ruilmiddel wat ons het (dis nou buiten ubuntu) – daardie maloti’s – in te span.
Die laaste bende veewagters wat ons laatmiddag op die nou opdraand tussen die Seqoqo-berg en die Sehonghongrivier teëkom, is meer veeleisend. Hulle skree opdragte, oënskynlik om hul vee só te laat staan dat ons nie kan verbyry nie.
Dan volg die eise …Veewagter: “Gee my geld.”
Ek (in die bui om te kwansel): “Gee my bier!”
Veewagter: “Gee my geld!”
Ek: “Nee, gee jy my bier!”
Daar is ’n lang, gespanne stilte. Toe hulle sien hulle gaan niks by dié hartelose umlungu kry nie, jaag hulle die vee uitmekaar sodat ons kan verbykom.

Kort ná hierdie kortstondige skermutseling kom ons ’n 4×4-groep teë – vier voertuie wat die swaar bewolkte berge inry. Ons is dankbaar om eerder op pad te wees na die verwelkomende hitte van geurige glühwein by die Sani Top Chalet.
Die kitaarspelende minnesanger, digter en getatoeëerde eienaar, Greg, verseker ons dis die “beste glühwein suid van Duitsland” terwyl hy ons glase volmaak. En, man, hy is reg.
Terwyl ons stadig van binne warm word, kyk ons na die sonsondergang-extravaganza wat op ’n skerm wolke oor die Drakensberg-voetheuwels geprojekteer word.
Hier, op die laaste aand van ons reis, terwyl ons aandete saam met ’n bachelor’s-groep eet, hoor ons ’n grusame veediefstalverhaal wat sy oorsprong in die nabygeleë sogenaamde McLean-vallei het.
Nou kyk, jy sukkel nie met ’n kaalvoet-en-kortbroek-boer (winter of somer) met borshare wat uit sy hemp groei soos die alomteenwoordige Lesotho-perskebome nie.
Selfs nog minder as sy idee van pret poolhondmarathons oor Alaska is, of as hy 100 m teen ’n krans afklim om ’n lammervangereier vir sy eierversameling te “leen” nie (dis glo ’n aardige bedrag werd op die internasionale mark, so hoor ons).
Nee, selfs nie al is jy die mees uitgeslape veedief in die hele Lesotho nie.
Die keelvol boer het ’n grusame plan gemaak: Nadat die moeilikheidmaker op sy tone begin trap het, so hoor ons, het die boer ’n mannetjiesbobbejaan geskiet, sy hande en kop afgekap en sy binnegoed verwyder.
Een nag het hy die hande voor die veedief se huis geplant, die kop op ’n stok gesit en, ter afronding, die binnegoed daarvoor gestrooi.
Iets in die moeilikheidmaker moes geknak het toe hy die makabere toneel die volgende oggend gesien het. Ses maande later, so hoor ons, is hy dood – glo aan natuurlike oorsake. Daar is ook gefluister oor twee kopbene wat in die omgewing gekry is – albei met koeëlgate in die voorkop.
Daar is glo nie meer veediefstal in die McLean-vallei nie.
Bl 8: ’n Nat totsiens
’n Nat totsiens
Dis net voor sonop en 3 °C terwyl ek na die mis en wolke afkyk waarin ons vandag op die kronkelende Sanipas sal afsak.
Voor ons vertrek, drink ons ’n laaste koppie koffie saam met die bachelor’s-groep, terwyl hulle die roes verdryf vir nog ’n dag se vlieghengel.
Ons staal onsself vir ons terugkeer na padwoede en haasgrootte slaggate terwyl Frank die Cruiser om die grondpadpas se haarnaalddraaie stuur.
Om ons afskeid van die Bergkoninkryk en sy bestaanslewenstyl nog ’n bietjie uit te stel, hou ons stil by ’n dieperige rivier vir ’n bietjie vlieghengel.
Terwyl die gordyn oor ons avontuur in die Bergkoninkryk sak, nou letterlik in die lug bo ons, staan ek kniediep in die yskoue water. Die heldergeel lyn wat Frank gooi, is afgeëts teen ’n digte wolkkleed wat oor die Dak van Afrika neergedaal het.
Khotso, pula en nala, inderdaad, man.

Bl 9: Vinnige feite
As jy avontuurlustig is …
- Doen ’n ponietrek die berge in van die Roma Trading Post, Ramabanta Trading Post of die Semonkong Lodge, of abseil teen die Maletsunyane-waterval af.
- Verken grotte en oorhange vir rotstekeninge, of ervaar die tradisionele Basotho-leefwyse en bring ’n nag in ’n plaaslike dorpie deur.
- Ski by Afri-Ski in die Oxbow-omgewing (info@afriski.net).
- Vlieghengel vir forel en geelvis in afgeleë bergstrome, of soek na die skaars lammervanger, die wildekalkoen asook die kransaasvoël.
- Ry bergfiets, veld- of vierwielmotorfiets, verken 4×4-roetes of stap in die berge.
- Kontak die Roma Trading Post-gastehuis en die Ramabanta Trading Post Lodge by +266 2234 0202 (werkure); tradingpost@leo.co.ls, of die Semonkong Lodge +266 2700 6037; bookings@placeofsmoke.co.ls
OP TOER
Hoe lank moet ek bly?
Minstens vier nagte, maar om die land tot sy reg te laat kom, moet jy ’n week daar deurbring.
Kan ek in ’n 4×2 gaan?
As jou tande verseker is, kan jy van Maseru tot in Semonkong ry in
’n Avis Corolla, maar in groot dele van Lesotho sal jy nie in ’n 4×2 kan ry nie.
Wat moet ek saamneem?
Warm klere omdat dit yskoud bo-op die berge kan wees; iets anders as lekkers vir die bedelende kinders; kamera; kunsvlieghengelgerei.
Kan ek rand in Lesotho gebruik? Ja
Watter onderdele het julle geneem?
Ons het baie min onderdele saamgeneem, omdat Lesotho naby genoeg is vir Suid-Afrikaanse agente.
Het julle herwinningstoerusting geneem?
Ja, ’n graaf, ’n hoogligdomkrag, ’n kinetiese strop en boogskakels van goeie gehalte.
Watter gereedskap pak ’n mens vir so ’n reis?
Ons het net ’n basiese gereedskapstel ingepak.
Waar kan ek brandstof kry?
In Maseru en die meeste groot dorpe soos Roma en Sani Top; jy kan met rand vir brandstof betaal.
Hoe is die paaie?
Die grondpaaie was redelik goed, en die teerpaaie uitstekend.
Beste kaart? Tracks4Africa
Waar kan ek bly?
- Roma Trading Post-gastehuis, (bed-en-ontbyt, selfsorgkothuise, kampering); Ramabanta Trading Post Lodge (selfsorgkothuise, restaurant) +266 2234 0202 (werkure); tradingpost@leo.co.ls
- Semongkong Lodge (selfsorgkothuise, rugsakreisigers, restaurant) +266 2700 6037; bookings@placeofsmoke.co.ls
Moet ek bespreek? Dis net nodig in skoolvakansietye.
Lees nog.
- www.wikitravel.org/en/Lesotho;
- www.lonelyplanet.com/lesotho;
- www.roughguides.com
| WR_Lesotho.pdf | 1.3 MB |







