Lesotho | Al lê die berge nog so ... groen

Ná oorvloedige reën in ’n smaraggroen Lesotho het die wolke lank genoeg weggetrek vir Johan de Smidt om ’n pelgrimstog van die Basotho se geboorteplek, via ’n bekende waterval, na ’n ikoniese bergpas aan te pak.
"Ek wed jou tien maloti’s dis ’n donkie se ore daai.”
“Nee man, dis ’n haas s’n …,” raai Frank en stuur die Cruiser versigtig om die slaggat, terwyl hy ’n vars noot van Lesotho se geldeenheid in sy bosak druk.
Soos die spreekwoord jou hier in die Bergkoninkryk waarsku, ’n paar ore wat by ’n slaggat uitsteek, kan aan iets behoort wat aansienlik groter is as ’n haas – dit kan ’n donkie wees.
Die donkie kan die karakter wees in die plaaslike sprokie wat saam met sy twee vriende, ’n bees en ’n boerbok, na die Randse goudmyne geryloop het om werk te gaan soek.
Ingeprop in ’n 4x4-Hi-Ace het die driestuks ’n jaar later na hul geliefde Malutiberge teruggekeer. Toe die minibus naby die bok se hut stilhou, het hy laat spaander, en die donkie en die bees moes sy taxigeld betaal.
Sedertdien soek hulle die bok – en dis glo waarom bokke weghardloop elke keer as hulle ’n aankomende voertuig sien. En dis ook glo hoekom donkies en beeste altyd die pad versper – hulle soek nog daai bok om hul geld terug te kry.
Jy glo my nie? Wel, het jy al ’n boerbok gesien wat raakgery is? Op ons drie dag lange kronkeltog van 850 km – van Maseru na die Sanipas hier in die land van die baie thabas (berge) – het ons beslis nie een gesien nie.
Op die eerste dag het ons reis ons geneem na die akademiese sentrum van Roma, daarna op na die land se geboorteplek op Thaba Bosiu, en toe af na die Kome-grotskuilings waar jy stories oor kannibale kan hoor.
’n Rowwe grondpad langs ’n rivier na die donderende Maletsunyane-waterval was dag twee se hoogtepunt, terwyl die uitsig oor die reusagtige Mohale-dam en stomende glühwein by ’n ysige Sani Top dié eer gekry het aan die einde van ’n lang derde dag.
Wat ons wel teëgekom het – buiten ’n vrolike Josefskleed-landskap – was ewe kleurryke staaltjies oor ’n veldryer wat teen ’n berghang afgetuimel het, ’n aangrypende trurat-“ontsnapping” op die berugte Jockstrappas, en pasgetroudes wat in ’n mank Land Rover oor die grootste deel van die magtige Bobbejaanspas gesleep is.
Selfs die plaaslike koninklikes moes al die knie buig voor die Maluti’s – Moshoeshoe II is in 1996 dood toe sy 4x4 oor ’n krans gestort het in hierdie bergagtige oostelike deel van Lesotho, wat die hoogste pieke in Suider-Afrika het.
En natuurlik is geen verhaal oor Lesotho volledig sonder ’n veediefstalstaaltjie nie – ons monde het behoorlik oopgehang toe ons vertel is van een veediefstalslagoffer se grusame, dog doeltreffende wraak …
Maar dié legendes en staaltjies sou ons eers later hoor, in die knus sitkamers van die Ramabanta Trading Post Lodge en die Sani Top Chalet, terwyl veewagters, toegedraai in komberse, hul vee van die hooglande afbring net voor die jaar se eerste ernstige kouefront toeslaan.
Inhoudsopgawe:
- Lesotho | Al lê die berge nog so ... groen
- Bl 2: Moshoeshoe se ...
- Bl 3: Kannibale en ...
- Bl 4: Lang valle ...
- Bl 5: Speel rond op ...
- Bl 6: Afskeidsgroet van ...
- Bl 7: ’n Veedief se ...
- Bl 8: ’n Nat totsiens
- Bl 9: Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Watter tyd van die jaar is dit só mooi groen? Wat is die Maloti teenoor die Rand se waarde?
Pos nuwe kommentaar