Knysnabos | Die bos se binnekamer

Wou jy nog altyd die skim-olifante, reuse-geelhoutbome en geil mosse en varings van die Knysnabos van naderby bekyk, maar jy hou nie van bergfietsry of stap nie? Vir die eerste keer kan jy nou dié Dalene Matthee-wêreld met jou 4x4 verken. Barnie Louw het gaan kyk.
Nes jy het ek al baie deur die Knysnabos gery. Of liewer, so het ek gedink ... al daai bome weerskante van die N2-snelweg tussen Knysna en Plettenbergbaai is mos “die Bos”, of hoe? Toe nie.
Elke keer dat ek op die snel-weg deurgejaag het, het ek gewonder hoe dit moet voel om binne-in daai geilgroen ondeurdringbaarheid weerskante van die pad te wees. Is dit stil daar binne? En koel? Hoe ruik dit? Sal ek weer daar uitkom as ek dit op my eie daar waag?
Toe bel die ouens van Bhejane 4x4 Adventures en sê Sanparke het hulle toestemming gegee om begeleide dagtoere deur die allerheiligste van dié mistieke reënwoudwêreld aan te bied, en wil ek saamgaan?
Wat ’n vraag! Hier was my kans om die inheemse woud eerstehands te ervaar, ’n geleentheid om die leefwêreld van die karakters in Kringe in ’n bos, Fiela se kind en Moerbeibos in te dring.
Nou sou ek kon sien hoe lyk die voetpaaie en sleeppaaie waar die grootvoete die houtkappers voorgelê het; ek sou kon staan op die Bos-eilande waar die houtkappers gewoon het. Ek sou die Bos kon sien, hoor, ruik én vóél, nes hulle dit langer as twee eeue gedoen het.
Hier was ook my kans om te probeer sin maak uit die oënskynlike chaos van diversiteit van hierdie inheemse ekologiese wonderwêreld van reusegeelhoute, stinkhoute, varings, blouduikers, bosbokke en loeries.
Maar eintlik wou ek net gaan omdat dit lekker geklink het (en omdat ek dalk ’n Knysna-olifant sou kon sien). Wil jy nie ook nie?

Ry kringe deur die bos
Ja, ek weet daar’s mense wat vir hulle vriende vertel hulle is “deur die Bos” nadat hulle Kom-se-Pad (tussen Knysna en die Diepwalle-bosboustasie) of die Knysna-Uniondale-pad (R339) gery het. Maar dis ’n afskeep-ervaring – amper soos om jou kleinniggie te soen.
Of jy kan altyd die kinders na die Tuin van Eden neem, vir ’n uur of wat daar langs die N2 ronddwaal en jou dan verbeel jy was in die Bos. Maar dis soos om diere in ’n dieretuin te gaan kyk; dis die Bos lite. (Boonop is die agtergrond-musiek tot dié tweedehandse boservaring lorries en karre wat op die N2 verbysjoesj.)
Nee, jy wil die ware Jakob ervaar: jy wil in stilte luister na die geroep van voëls, die geklik van paddas, die geskarrel van knaagdiere, die sagte voetval van kleinwild, die gekabbel van stroompies.
Jy wil jou kop in verwondering agteroor gooi en opkyk na waar net die hoogste bome se toppe in die sonlig is, terwyl die jongeres mekaar jaag om ook daar uit te kom. Jy wil afkyk na die dik, veelkleurige blaretapyt onder jou voete, die delikate groen en oranje mos in elke skaduwee.
Dít kan jy ongelukkig net doen as jy in die Bos se binnekamer toegelaat word, soos hier in die Diepwalle-bos naby die Tuin van Eden, waarin ons so pas afgedraai het.
In teorie klink ons roete deur die Bos nie juis eksoties nie. Dis immers dieselfde 24 km lange Petrus-se-Brand-bosboupad tussen die Tuin van Eden en die Diepwalle-bosboustasie wat bergfietsryers al jare lank trap.
Maar dié roete, wat deur honderde vierkante kilometer inheemse woud en verby en deur plekke met name soos Sanddriffies, Kruisfonteinbos, Stinkhoutdraai, Kan se Rug, Hoenderspoor en Langvleibos kronkel, is nou die eerste keer vir die 4x4-publiek oop. Die enigste ander “verkeer” wat jy moontlik hier kan teëkom, is ’n bosbouvoertuig en ’n bergfiets of twee.
Namate ons dieper die Bos ingery het, het ek begin besef: vergeet van “eksoties”, dis ’n voorreg om die Bos op hierdie manier te leer ken.
Die eerste paar kilometer van die roete is wat jy ook op Kom-se-Pad of die R339 kan verwag: ’n gewone openbare grondpad deur die woud.
In die verbygaan is jou eerste kennismaking met ’n vertikale tapyt van inheemse bome: geelhout, stinkhout, kalandergeelhout, witels, ysterhout, boekenhout, essenhout, bosvlier, kershout ...
Maar dan kom jy by ’n paadjie wat wegswenk, dieper die Bos in. ’n Hek sorg dat voertuie nie hier kan in nie, maar Frank Carlisle, Bhejane se eienaar, het ’n sleutel vir die groot slotte wat die dik ketting om die hekpaal sluit.
Skielik weet jy sommer: nou’s jy in die dikbos. Welkom in die sprokieswêreld van kinderboeke, die plek waar feëtjies en elfies net agter die varings se groot blare speel, van trolle, hekse en towenaars wat jou uit die onderbos dophou. Die plek waar broodkrummels jou nie veel gaan help nie.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Knysnabos | Die bos se binnekamer
- Bl 2: Harry Potter se ...
- Bl 3: Jy weet nie wat...
- Bl 4: Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
My plek is klaar bespreek op hierdie toer; kan nie wag nie. Hier rond groot geword maar nog nooit in die hart van die bos gewees nie!
Pos nuwe kommentaar