Klein Karoo | Van witblits tot Bloubaard Swanepoel

As jy dink aan die Suid-Kaap en Klein-Karoo, dink jy waarskynlik onwillekeurig aan berge, spietkops op die N2, Thomas Bain se passe, volstruise en aalwyne. En natuurlik die beste grondpaaie suid van Tunisië.
Jy sal nie die pot té ver mis sit nie. Maar, soos ek agtergekom het, is bekende staatmakers van die Suid-Kaap en Klein-Karoo soos die deurtrapte Swartbergpas en Seweweekspoort net die punt van die stofstreep wat grondpadry in die streek betref.
Tydens ’n verkenning van dié berg- en rivierryke streek het ek agtergekom daar is genoeg om almal – van ’n adrenalienverslaafde tot ’n kerngesinnetjie – van ’n langnaweek tot ’n tien dag lange safari besig te hou.
My verkenningstog saam met my gidse, Nico en Danette Hesterman, het op kusgrondpaaie begin voor dit oor die berge binneland toe ingeswenk het. Ons roete het ons oor drie groot bergreekse geneem, oor ses grondpadpasse en deur ’n grondpadpoort, op ontelbaar baie grondpaaie, en verby sewe natuurreservate. 
Voor die toer agt dae later by De Vlugt, 50 km noord van Knysna, geëindig het, het ons ook Suid-Afrika se enigste handaangedrewe pont gebruik, ’n paar bakgat 4x4-roetes op ons kerfstok gesit, eeue-oue olifantmigrasieroetes gevolg, witblits geproe, meer oor vetplante geleer, en na ’n paar wolhaarstories geluister.
Hoe jy die dinge op die volgende paar bladsye gaan aanpak, hang heeltemal van jouself af: Jy kan hulle een vir een op ’n daguitstappie verken, of jy kan dit die een na die ander doen en ’n ekspedisie in jou eie land daarvan maak.
Raait, klim in en maak jou sitplekgordel vas …

1. Stadig oor die Breërivier

Wanneer laas het jy ’n rivier in Suid-Afrika op ’n pont oorgesteek, en dan boonop een wat met die hand getrek word? Wel, daar is nog ’n plek waar spierkrag jou en jou voertuig oor die water sal kry: die pont oor die Breërivier by Malgas, suid van Swellendam.
En hoewel dit effens aan die stadige kant is, sal die eiesoortigheid en nostalgie van die ervaring meer as vergoed vir die slakkegang. Dis die enigste pont in die land wat nog met die hand getrek word – neem dus die kinders saam, want teen die tyd dat hulle groot is, bestaan dit dalk nie meer nie.
Jy kan selfs die twee sterk pontskippers help trek, of anders kan jy hulle meer as die verpligte R35 in die hand stop om die rivier oor te steek.

2. Raak heeltemal histories

Die streek bestaan nie net uit grondpaaie, passe en 4x4-roetes nie. As jy nie versigtig is nie, sal die geskiedenis jou oorrompel en na ’n byna vergete era wegvoer. Dit het amper met ons gebeur op die grondpad van Vermaaklikheid na Jongensfontein en Stilbaai.

Die Trekkers se eerste huise.
Ry 8 km suid van Vermaaklikheid na die private oord Puntjie, by die mond van die Duivenhoksrivier. Parkeer by die hek en loop rond tussen die eenvoudige 18de-eeuse dekrietkapstylhuise, die eerste huise naas tentwaens wat die trekboere gebou het.

Besoek ’n oeroue grot.
By die Blombosgrot naby Jongensfontein kan jy die neuse van Eurosentriese besoekers vryf in die feit dat kuns en die mens se vermoë tot abstrakte denke sy oorsprong in Afrika het – en nie Europa nie. In hierdie einste grot het ons voorgeslagte werktuie van klip en been gemaak en geometriese patrone in stukke oker gekerf – sowat 40 000 jaar vóór hul Europese eweknieë.

Kyk hoe het die San en Khoi visgevang.
Besoek Stilbaai se klipvisfuike met die uitgaande gety of kyk hoe plaaslike inwoners nog hul vangs insamel nes die Steentydperkmense en die Khoi-San dit gedoen het.
Besoek www.stilbaaitourism.co.za

3. Sluk die ware Jakob

Calitzdorp staan bekend as Suid-Afrika se “Porthoofstad”,  maar as Danie Grundling sy sin sal kry, sal die dorp ook bekend staan as die land se “Witblitshoofstad”.
Op ’n begeleide toer van Grundheim-wyne se kelder en distilleerdery wys Danie jou hoe Danie se Withondwitblits, met ’n alkoholvlak van 50%, dubbel gedistilleer word van druiwe tot dit sy man kan staan en die etiket “Die ware Jakob” verdien. Jy kan ook sien hoe Boegoeblits van varsgeplukte boegoe gemaak word.
Die Roosblaarlikeur proe miskien soos ’n sagte, soet roosgegeurde elikser van die gode, maar die Boegoeblits is ’n venynige regmaker wat jou mond en keel sal laat gloei.
As jy dus karsiek raak van die streek se grondpaaie, passe en roetes, besoek Grundheim vir die perfekte kuur (dis in elk geval hoe jy dit vir die kinders kan verduidelik).  Besoek www.kleinkaroowines.co.za

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association