Klein-Karoo 2-in-1 | In die hemel in Die Hel

As die legendariese toegangsroete nie genoeg aanmoediging is om jou tot onder in Gamkaskloof te laat ry nie, sal die kans om in ’n eiesoortige deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te delf, dit wel doen, sê Matt Covarr.

Dis warm, vrek warm. Om die waarheid te sê, dis so warm ek vermoed Die Hel het nie sy naam te danke aan Piet Botha nie, maar wel aan die versengende somertemperatuur.
Ons het pas aangekom in hierdie afgeleë en afgesonderde (het ek al genoem dis warm?) vallei in die hart van die Swartberge ná twee uur op ’n kronkelroete van die kruin van die Swartbergpas af. Dis ’n paar grade warmer as 40, en die Landie se remme smeul nog van die skerp val van die berg af.

Niemand is seker oor die oorsprong van hierdie ander naam vir Gamkaskloof nie, maar een weergawe is dat Piet Botha, ’n vee-inspekteur vroeg in die vorige eeu, elke twee maande met ’n voetpaadjie langs na die vallei moes stap.

Volgens oorlewering het hy die uitstappies as “louter hel” beskryf, en dié naam is gou-gou algemeen gebruik (natuurlik deur almal buiten die Klowers). Maar daar word ook beweer dat toe ’n Boerekommando in 1901 in die vallei beland het, dit glo reeds Die Hel genoem is.
Of dit nou die oorsprong van die naam is of nie, Piet Botha se beskrywing slaan die spyker op die kop, maar om die verkeerde rede.

Langs Kosie se pad

Die afdraai na die 48 km lange kronkelpad af tot onder in Gamkaskloof is minder as ’n kilometer van die begin/einde van die Swartberg-4x4-roete, wat ’n besoek aan Die Hel ’n byna natuurlike voortsetting van die roete maak.
Maar waar die Swartberg-4x4-roete jou langs hoë pieke neem, kan jy met die Gamkaskloofroete die laagliggende dele wes van die kruin van die Swartbergpas verken.

Die pad af tot in die kloof is nie ligte musiek nie. ’n Goeie voertuig, selfs beter remme en stewige gryphandvatsels is onontbeerlik as jy dié stowwerige pad aandurf wat van die Swartberg se pieke afswiep.
Die figuurlike hoogtepunt is die Elandspas se haarnaalddraaie wat jou laat voel asof jy letterlik teen ’n leer afry – tot in ’n vallei wat hordes nuuskierige besoekers lok sedert die toegangsroete die vallei meer as veertig jaar gelede vir die eerste keer met die buitewêreld verbind het.
Dis nogal ironies dat hierdie 48 km, deesdae ’n toerisme-lewensaar, dieselfde pad is wat die einde beteken het van die afgesonderde bestaan van die Afrikaanse boeregemeenskap wat eens hier gebly het.

Trouens, toe die pad in 1959 begin bou is, het Otto du Plessis, oudadministrateur van die Kaap, voorspel: “Dis ’n wonderlike pad, maar dit kan ’n plaas of selfs ’n nedersetting laat leeg loop.”
Hy was reg. Teen die vroeë 1990’s het net een familie nog in die kloof gebly en geboer. Die pad het inderdaad min na Gamkaskloof gebring, maar het baie daarvan weggeneem.
Die pad is dalk na Du Plessis genoem, maar dit was Kosie van Zyl van die Prins Alfred-afdelingsraad (met die hulp van ’n padskraper en agt arbeiders) wat die pad binne net meer as twee jaar uit die berghange gekerf het.
Ons besef ’n interessante rit wag op ons toe ons verby die eerste waarskuwingsteken ry op Kosie se grondpad tot in die Kloof: “Gevaarlike pad vir 48 km. Gebruik op eie risiko!”

Buiten die ooglopende gevare van loodregte afgronde, skuins afdraandes en los gruis, neem die pad jou van ’n wêreld van fynbos en bergplantegroei na tipiese Karoo-plantegroei. En op pad ondertoe lyk dit of die hemelhoë kranse en voue van die Swartberge se geologie weerskante van jou ontplof.
Speel veilig en laat 2-3 uur toe om die 48 km tot onder in die kloof af te lê. Die 4 km van die Elandspas met sy steil hange moet baie stadig gery word – en hou die pad dop vir voertuie wat van voor af kom.

Nadat ons die Land Rover langs teen die Elandspas se kronkelings tot onder in die vallei gery het, volg ons die nou spoor tussen digte plantegroei deur wat 10 km later by die onlangs voltooide inligtingsentrum van Kaapse Natuurbewaring (KNB) eindig.

Kommentare

Ek het altyd by my oupa en ouma daar gaan kuier saam met my ouers . Hulle was oupa en ouma Martiens en Sannie Snyman was altyd baie lekker om daar te gaan kuier het . Was nou so 2mnd terug weer daar maar alles het verander daar is nie eers meer vrugte bome nie net doringbome . Dit was lekker om net weer hulle huisie te sien .

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association