Pin It
print

Kgalagadi Oorgrenspark


Groen%20en%20warm%20Kgalagadi

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi Kgalagadi Oorgrenspark

Besoeke aan die Kgalagadi in die winter is algemeen, maar Jan de Klerk Kruger en sy gesin het in die somer gaan kyk wat die park kan bied. Heelwat meer diere, voëls en ’n groen Kalahari het op hulle gewag – en ook warm dae, donderweer, blitse en reën.

Dis Maart en die skoolklok het nog nooit so welluidend geklink nie. Ons is reeds gepak vir die Kgalagadi, en kon skaars wag om die kinders in te laai en die pad te vat na Van Rhynsdorp, ons eerste oornagplek.

Ná vroegoggendkoffie en beskuit gooi ons diesel in en kry rigting na die Hantam se hoofdorp, Calvinia, oor ’n mistige Van Rhynspas en verby Nieuwoudtville. As jy tyd het, kan jy by Nieuwoudtville links draai op die Loeriesfonteinpad om na die waterval te gaan kyk.

Die pad na Molopo Lodge, 200km noord van Upington en 60km van die Kgalagadioorgrenspark, waar ons die aand sou kamp, is egter nog lank. Daar’s ook net tyd om vinnig op Calvinia te stop vir foto’s by die groot rooi posbus, glo die grootste in Suid-Afrika.

Wanneer jy 40km buite Calvinia links draai op die R27, tref jy die potloodstreeppad na Brandvlei en Kenhardt.

Dit is op hierdie lang, plat en reguit pad wat jy besef wat beteken die woord “uitgestrek” nou eintlik. In die verte sien jy panne en hier en daar ’n plaashuis. Verneukpan is net ’n entjie hiervandaan, en soos elke keer dat ons hier verbyry, wonder ek wanneer ons daar gaan uitkom.

Met ’n amper stormsterk wind skuins van voor en ’n swaargelaaide sleepwa kom ons met die diesel ingooi op Keimoes agter hoe swaar die Ranger kan raak wanneer daar nie ekonomies gery word nie.

My vrou, Elizna, sê ons moet eerder hier diesel ingooi as om dit tot op Upington te waag. Wie wil op ’n Saterdagmiddag, sonder diesel, 7km voor Upington gaan staan?

Plig voor plesier…

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi%201 Kgalagadi OorgrensparkKamerasku. Gemsbokke word deur die hele park aangetref en trek gedurig rond op soek na nuwe weivelde.

Op Upington begroet ’n aanvoelbare temperatuur van 39°C ons. Dit voel of die dorp nou eers besluit het dis somer. Hier stop ons vir die laaste bietjie proviand en pak die laaste deel van ons reis, 200km na Molopo Lodge aan. Ons staan op twee netjiese tentstaanplekke, elk met sy eie skoon badkamer.

Die Stormers en Cheetahs het al begin speel, maar ons moet eers tent opslaan voor die dreigende reën.

Later pak die donderwolke in die ooste saam en bring vriendelike Kalahari-somergroete toe die wind aan die tentseile ruk en stofnat druppels die sand en veld afkoel.

Met die vuuraansteek en die uiteindelike agteroorsit het die lodge vir ons ’n bord vol tuisgebakte braaibrood gestuur. Die eerste aand se doringhoutvuur in die Kalahari brand altyd mooier as die ander aande.

By Twee Rivieren aangekom, handel ons die nodige papierwerk af by die splinternuwe kantoorgebou. Padwerke dwing ons om eers op die Mata Matapad in ’n noordwestelike rigting te ry voordat ons kan regs draai oor die onderste duinepad verby Kieliekrankie se afdraai en weer links by Kij Kij op die Nossobpad. Dan volg Jan se Draai en Kameelsleep totdat ons by die tweede stilhouplek, Dikbaardskolk, stilhou vir middagete.

’n Oorsese toeris skrik groot toe sy uit die toilet kom en toe eers die pofadder sien wat opgekrul langs die deur lê. Die pofadder is toe met stokke opgetel en onder ’n bos in die veld neergesit.

In die verte begin blougrys donderwolke saampak, en dit voel asof die reëngordyn 300m van ons af neersak.

Later ry ons deur Nossob se hek, ons gunstelingkamp in die Kgalagadi. Dié kamp leen sy naam van die Nossobrivier, wat laas in 1989 in vloed was.

Welkom, weer ’n keer

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi%202 Kgalagadi OorgrensparkWelkom, almal. Elzahn Kruger (links) en haar niggie, Cara Kruger, by die verwelkomingsbord op Nossob.

Om Nossob se hek ná twee jaar binne te ry is soos om oor goeie herinneringe te gesels. Alles is nog daar, die verwelkomingsbord met sy bokskedels en horings langs die vlagpaal voor die kantoor met die vriendelike personeel, grondeekhorings, waaierstertmeerkatte, neushoringvoëls en jakkalse wat net buite die vuur se ligkring vir jou loer en heelwat later na hul maats roep.

Ook die “weerstasie”, ’n klip aan ’n riem wat hang tussen ’n driepoot van houtpale. “If the stone is swinging, it is windy… If the stone is wet, it is raining … If there is sunshine on the stone, it is typical Nossob weather … If you can’t see the stone, the sun has set … If the stone is missing, there is a wild animal in the camp…”

Die duisende blafgeitjies se geroep net voor en tydens sonsondergang is iets besonders. Wanneer jy gaan stilstaan by die grensdraad en uitkyk oor langen kortbeenboesmangras, springbokopslag en vaalkameel is dit asof die duisende geitjies se klik-klik-simfonie jou laat vergeet van die hitte van die dag.

Ek kan nie onthou of ons met die vorige twee besoeke die blafgeitjies gehoor het nie – dalk was die sonsondergange te mooi. Dalk is hulle bloot meer aktief in die somer omdat dit nog warm bly lank na die son gesak het?

Die plan was om die derde dag reeds met hekoopmaaktyd, halfsewe se kant, Unie-end toe te ry, maar ons kom uiteindelik eers negeuur weg. Die heen-en-weer-uitstappie hou ons heeldag besig, en volgende keer sal ons vroeër wegkom. Dit maak ook jou kans om leeus, jagluiperds en luiperds te sien soveel beter.

Unie-end, in die noordelikste hoek van die park, is ook die plek waar die Nossobrivier, met sy oorsprong in die Otjihavara-bergreeks oos van Windhoek, die park binnekom. Dit vorm die grens van 200km tussen die Botswanadeel van die park, en sluit 50km suid van Twee Rivieren aan by die Molopo, wat by die Oranjerivier invloei op pad Augrabies toe.

By Lijersdraai hou ons stil vir ’n vinnige piekniek. Niemand kan glo hoe groen lyk die Kalahari nie.

Die enigste voertuig wat ons op pad na Unie-end teëkom, is ’n Land Cruiser-bakkie met ’n drom diesel en veldwagters van Botswana besig met ’n dagpatrollie.

Later by Unie-end gesels ons lekker met hulle oor die groot troppe wild, die Sokkerwêreldbeker en die prys van whiskey in Botswana.

’n Besoekersbord met foto’s, ’n kaart en boodskapboek verwelkom jou wanneer jy langs die Namibiese grensdraad by Unie-end stop. As jy kans sien om oor die draad te klim en jou voete staan te maak in Namibië, kan jy binne tien minute in drie lande stap sonder om jou paspoort te wys…

Later die middag stop ons by die Kwangpan in die skaduwee en kyk hoe blouwildebeeste, duiwe en ’n berghaan water drink. Dis halfdrie op ’n snikhete dag, en die 23km terug tot by Nossob, verby Cubitje Quap, langs ’n kronkelende sandpad voel eindeloos lank.

Vroegaand by Nossob, net voor ons die vuur aansteek, stap ons na die uitkykhut.

Wanneer die son sak, skilder die Kalahari vir jou ’n prent wat jy vir niemand kan beskryf nie. Jy moet self die sandpaaie gaan ry, die skaduwee van ’n kameeldoringboom opsoek en sit en kyk hoe die wind die langbeenboesmangras waai.

Rek die afskeid uit

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi%203 Kgalagadi OorgrensparkAfsaaltyd. Een van die lekkerste staanplekke by Mata Mata – onder die groot kameeldoringboom naby die watergat.

Vroegoggend staan ons op – die laaste dag by Nossob – en wonder nog so of ons nie op ons laaste oggend ’n leeu gaan sien nie, toe h
oor ons ’n brul. Eers van ver af, en dan voel dit letterlik of die klank deur jou lyf trek.

Ons stap uitkykhut toe en hoor hoe die leeu 15 minute gelede water gedrink het. Terwyl ons wag, staan die mannetjie twee keer uit die gras op, stap ’n ent en gaan lê weer.

Net voordat ons vir die laaste keer deur die hek ry, roep ’n ywerige voëlkyker ons en wys ons hoe ’n skopsuil in ’n boom sit en slaap – ’n eerste vir ons.

Hier, in die mik van ’n kameeldoringboom langs die uitkykhut, sien ons ook die eerste keer hoe lyk ’n boomrot. Dié dier is blykbaar verantwoordelik vir van die grys dooie bome wat jy langs die pad sien. Die uriene en mis veroorsaak mettertyd dat die boom vrot, en stamme en takke afbreek.

Alles het sy tyd en plek in die droë rivierbeddings, die wit kalkrante, strate tussen rooi ysteroksiedsandduine en wuiwende halms van blinkaargras. 

By Dikbaardskolk stop ons vir ’n laat ontbyt voor ons regs draai oor die boonste duinepad verby die Elandwatergat. Dan volg Moravet met die afdraai Bitterpan toe en Vaalpan tot waar ons oor die droë fossielbedding van die Auob ry en regs draai Mata Mata toe.

Die stilhouplekke, ruskampe, watergate en afdraaipaaie het almal mooi name wat pas by die omgewing. Op die Mata Mata-pad langs die droë Auobrivierbedding is daar Houmoed, Kamfersboom, Auchterlonie, Batulama, Rooibrak, Dertiende en Veertiende Boorgat – en die effens “onvanpaste” Craig Lockhart.

Daar is dalk ’n goeie rede vir die naam (dis glo genoem na ’n Skotse baken), maar iets soos Kameelduin of Langneklaagte sou beter by die omgewing gepas het.

Die eerste aand in Mata Mata slaap ons in ’n chalet omdat een van die kinders olik is. Maar vroeg die volgende oggend kry ek ’n heerlike staanplek onder ’n groot kameeldoringboom, wat oor die watergat uitkyk. Drie gesinne het later die dag ook hul tente onder dieselfde boom opgeslaan.

’n Tent slaap net soveel beter as ’n beknopte chalet…

Omdat die pypleiding herstel moes word, was die diere by die watergat maar skraps. Nietemin het die kamp, die gesels met ander kampeerders en ’n laatmiddagwildrit dit die moeite werd gemaak. ’n Leeumannetjie en wyfie wat paar, het ’n opeenhoping van motors veroorsaak, maar ons het ons kans afgewag en mooi foto’s geneem.

Die meeste leeus het ons vroegoggend gesien by die Dertiende Boorgat se afdraaipad – eers ’n groot kraaghaarmannetjie en wyfie wat lê en slaap en verderaan ses jong leeuwyfies wat in die pad lê en rus. Die sand was daardie tyd van die oggend nog lekker koel.

Anders as die vorige besoeke waar ons meer diere langs die Nossob gesien het, het die pad van Mata Mata na Twee Rivieren ons verras met rooihartbeeste, kameelperde, leeus, bleeksingvalke, springbokke, jagluiperds, blouwildebeeste en ’n groot Kaapse kobra.

Die sandpaaie wat langs die droë fossielbedding van die Auobrivier kronkel, laat jou opnuut dink oor die grootsheid van die natuur en hoe alles saamwerk om in dié uitgestrekte veld te kan oorleef.

Die aand by Twee Rivieren, ons laaste in die park, sit ons ekstra diep om die braaivuur en kyk ekstra lank na die sonsondergang.

Maar ons kom weer…

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi%204 Kgalagadi OorgrensparkTe warm vir bokspring. Springbokke by die Kannaguass-watergat naby Unie-end. Die Kgalagadi kan as ’n egte woestyn geklassifiseer word, maar die magdom woestyngrasse gee die gebied eerder die voorkoms van ’n halfwoestyn.

Die 250km op die R360 tot in Upington vlieg verby. Ná ses dae in die veld wil die kinders net Spur toe. Daarna durf ons die eensame langpad aan na Calvinia op die R27. Verby Keimoes, Kenhardt, Brandvlei…Tot in Calvinia waar ons in die Hantamhuis slaap.

Die volgende oggend waai die wind skraal in Calvinia se Sondagstilstrate.

Ons takel die laaste ent van die R27, en hou boop Van Rhynspas stil. Dis ’n oop dag, met vergesigte oor die Knersvlakte

Wanneer jy uiteindelik by Van Rhynsdorp links draai op die N7, en in ’n ry moet staan vir ’n vulstasietoebroodjie, weet jy jy’s terug op die voorstoep van die betonoerwoud. Dan sluk jy maar jou hartseerverlange na die gras en duine van die Kgalagadi af met louwarm koffie.

En terwyl jy verby die Bulshoekdam en die lemoenboorde van Citrusdal ry, weet jy jy sal weer ’n wye draai in die Kgalagadi moet gaan maak.

Die geraamde foto van ons kampplek onder die groot kameeldoringboom by Mata Mata hang nou in die braaikamer langs die foto van die sementdam en deurwinterde windpomp by Jan se Draai, wat ons tydens ons eerste besoek geneem het. Daar’s plek vir nog foto’s.

Groen%20en%20warm%20Kgalagadi%205 Kgalagadi Oorgrenspark
Koel kolletjie. Leeuwyfies slaap in die pad naby Dertiende Boorgat. Leeus in die Kgalagadi lê snags gemiddeld 12 km af op soek na kos.

Oorspronklik gepubliseer in WR #24 Jan-Feb 2011