Groot-Karoo | Op die spoor van ’n goeie spookstorie

As jy vir ’n Karooboer vra om ’n storie te vertel, maak net eers seker jy hoef nie alleen in die donker terug te loop na jou huisie toe nie.

Want as die wintersonnetjie eers gaan lê agter ’n uitgestrekte skaapplaas se gesigseinder, en die jagters is terug uit die veld, gaan jy waarskynlik na ’n spookstorie moet luister, of jy nou daarvan hou of nie.
Soos die een wat ons by die man met die welige grys baard hoor. Louis Alberts is ’n man wat nie doekies omdraai nie, al het ons tot dusver net ’n koppie koffie agter die blad. Ons kuier by Louis se vriende Flip en Marge Vivier op Rooiheuwel, ’n vakansie-en-skaapplaas 80 km wes van Beaufort-Wes.

Flip het pas sy nuutste jakkalslok-kontrepsie uitgepak om dit vir te Louis wys.
Die oorlewingstryd tussen Karoo-skaapboer en jakkals kom van baie ver af, en die einde is nog nie naastenby in sig nie. Uit die boks haal hy ’n klankstelsel waarop jy geluide speel wat die skaapvangers na die jagters toe lok.

Maar die baardman hou voet by stuk dat sy unieke oplossing die beste werk. Dis ook bekend as die disko-oplossing. Op sy plaas naby Leeu-Gamka gebruik hy ’n netwerk van kragtige luidsprekers wat heeltyd harde radiomusiek – meestal RSG – oor die plaas en by die opstal uitbasuin. (Die woorde “Hallo Niekie, is ek op die lug?” laat glo enige jakkals morsdood neerslaan. – Red.) Bygesê, dis die plaashuis waarin hy nié slaap nie. Dis die huis met die doodskis op die bed. Die huis wat brand …

“ ’n Ruk gelede het ’n groep jagters in die huis oorgebly. Een nag is ons besig om in die heuwels bo die plaas te jag toe ons sien die huis brand. Die vlamme was só helder ’n mens kon dit myle ver sien. ‘Daar gaan julle f—n bakkies,’ het ek vir die ouens gesê.

“Ons het in my bakkie gespring en afgejaag huis toe. Maar toe ons daar aankom, is daar niks nie, nie ’n enkele vlammetjie nie. F—kkol.
“Ek het voorheen gesien hoe die huis met daai selfde oranje gloed brand, maar dit was nou die eerste keer dat ander mense dit ook gesien het.”
Met dié meer onlangse voorval was hy gelukkiger as die nag toe sy vorige Land Cruiser regtig uitgebrand het, by dieselfde huis. “Dit was omtrent twee-, drieuur in die oggend; dieselfde tyd as wat ’n spook mense in hulle bed sal rondruk, ruite uitslaan en op die dak rondhardloop …”

Ons sou gelukkig nie sulke onheilige onderonsies hê tydens ons besoek aan vier van Beaufort-Wes se 4x4-roetes nie. Die enigste skepsels wat ons gesien het, was vierbeenspesies met hulle voete mooi stewig op die aarde, en geveerdes.
Trouens, ek moes al die pad Karoo Nasionale Park toe ry om te sien presies hoe nuuskierig, mak en mooi gewone mossies is, met hulle klein swart voorskote.

Hoe wilder, hoe beter

As jy eers agtergekom het hoeveel uiteenlopende 4x4-roetes en goeie en mooi grondpaaie Beaufort-Wes het, is dit ’n groot versoeking om jou rit tussen Gauteng en Kaapstad ’n paar dae te onderbreek om die berge – ja, régte berge – rondom die dorp te verken. Jy kan selfs wild sien, én jy kan kies uit ’n groot verskeidenheid vakansiehuisies.

Met dít in ons agterkop was die plan om ’n volle vyf dae in die gebied rondom dié Groot-Karoo-dorp uit te span. Ons wou die Karoo Nasionale Park se Nuweveld-ekoroete oor twee dae ry, asook 4x4-roetes by drie wildplase – Badshoek, The Vale en Ko-Ka Tsara.

Op ’n kort wildrit na ’n uitkykpunt by Ko-Ka Tsara, ’n wildplaas 8 km noord van Beaufort-Wes, het ons bokke soos springbokke en gemsbokke gesien, wat ’n mens op al dié roetes teëkom.

Ons wou ook ’n paar van die Karoo se uitstekende grondpaaie gaan ry – daarom het ons by Prins Albertweg van die N1 afgedraai Merweville se kant toe en meer as 100 km op ’n goeie grondpad gery na Rooiheuwel, en uiteindelik na Beaufort-Wes.

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association