Gifberge | Giftig maar gaaf
Die Gifberge is ’n verleidelike kelkie van veldry, veldkampering en spoorsny.
Maar voor hy daaraan geproe het, het Johan de Smidt eers seker gemaak daar was nie hiënagif in sy martiniglas nie …
Jansu kyk ons bakkie skeef aan. Dié jong getatoeëerde toerisme-ou by die Gifberg-vakansieplaas is duidelik skepties oor of dit die pyp gaan rook langs die taai 4x4-paadjie na die wilderniskampplek langs die Doringrivier.
“Julle sal minstens die treeplanke moet afhaal,” sê hy na ’n rukkie, “en dan moet julle maar sien hoe ver julle gaan kom …”
Hy gee ons ’n kaart en beskryf die 11 km lange roete af na die Bruinkrans-kampplek heel in die suide van dié rooibos-en-vakansieplaas.
“Die rofste deel is die laaste 4 km soos jy rivier toe afsak,” waarsku hy. “Julle sal dalk die laaste 2 km moet stap.” O gits, ons het gedink dit gaan maklik wees ...
Hierdie afgeleë kampplek aan die einde van ’n dowwe stippellyn op Slingsby se Sederberg-kaart – wat ek vir ’n ander reis bestudeer het – het aanleiding gegee tot ons vier dag lange besoek aan die Gifberge, suid van Vanrhynsdorp en aan die noordelike punt van die Sederberge.
Dít het seker al met jou ook gebeur as jy ’n kaart bestudeer: Jy beplan ’n besoek na een gebied, iets anders trek jou aandag, en voor jy jou kom kry, is jy daarheen op pad.
Ons plan was om eers die 4x4-roetes op en rondom die private plaas Sewefontein te verken, die volgende dag die 4x4-roete na Bruinkrans te ry, en op die derde dag by die Waterval Resort en sy 380 m hoë waterval (net in die winter) klaar te maak.
Maar, ná ons gehoor het van ’n uitkykplek met ’n uitsig duisend oor die Knersvlakte, móés ons eenvoudig ’n dag langer bly om op die derde dag na Sewefontein terug te keer.

Inhoudsopgawe:
- Gifberge | Giftig maar gaaf
- Bl 2: ’n Tent in die veld
- Bl 3: Noue ontkoming
- Bl 4: Weet jy hoe lyk ...
- Bl 5: Wie het die oond ...
- Bl 6: Vinnige feite





Kommentare
Pos nuwe kommentaar