Gamkaskloof | Die Hel in op twee wiele

Dis Maandag. My vrou, Tania, stel voor: Kom ons ry die naweek na Die Hel met ons nuwe tweedehandse motorfiets. Sonder bagasierak. Sonder vorige ondervinding van tandemtoer. En sonder ’n benul van hoe die pad gaan lyk.
Dís hoekom ek met haar getrou het.
Die res van die week vlieg verby ...
Dinsdag leer ek sweis vir die bagasierak (ek het al een keer voorheen ’n vriend gehelp, maar het nog nooit op my eie gesweis nie).
Woensdag kom ek agter die boute om die bagasierak aan die raam vas te maak, is nie die regte grootte nie.
Donderdag ná werk kry ek ander boute en boor die rak se gate groter. Meer as twee uur en ’n gebreekte boorpunt later neem ons die spulletjie op ’n (onstabiele) toetsrit om die blok.
By die huis pak ons eers alles uit, herrangskik, weeg ons bagasie, en haal op versoek van die badkamerskaal die ekstra binnebande en pomp uit. Ons motorfietsbaadjies se etikette word voor die spieël afgepluk.
Môremiddag is dit ons en die langpad ...

Vinnig, nommer asseblief

Vrydag glip ons ná middagete by die werk weg. Die laaste verstellings aan die bagasieberg word gedoen, en toe is ons by die hek uit.
By Worcester, oor ’n burger en tjips, bestudeer ons vir die eerste keer die inligtingstuk van Kaapse Natuurbewaring (KNB) op ons eerste stilhouplek op pad Karoo toe.
Tot ons skok kom ons agter geen motorfietse word sonder vooraf toestemming in Gamkaskloof toegelaat nie.
Ons bel Erika, die kontakpersoon vir besprekings in Gamkaskloof, en vra of ons kan gaan. Sy klink huiwerig omdat dele van die pad van die Swartbergpas tot onder in Die Hel ná groot reën weggespoel het. Nadat ek verduidelik het dat ons vanaand naby Barrydale gaan slaap en dus die volgende dag heeldag het om tot in die vallei te ry, sê sy ons kan maar gaan.
Ons sit ons tog voort, maar moet die motorfiets op Robertson volmaak. Die tenk is kleiner as wat ons gedink het.
Ná ons nog ’n keer op Montagu afgeklim het om vleis te koop, saal ons af vir die aand by die Karoo Saloon, net voor Barrydale. Die aand, om ’n tafel vol braaivleis, is een van ons tafelgenote die boelterriër Titan, die eienaar se hond.
Die slaap is sag en diep, en ons weet in ons agterkop die grond sal die volgende aand in Die Hel minder genadig wees.

Deur die poorte van Die Hel

Voor die mis die volgende oggend sak, is ons deur Barrydale. Op Ladismith moet ons weer brandstof ingooi, en maak net dubbel seker die bagasie kom nog saam.
Nou vir die lang oopte Oudtshoorn toe ...
Die Huisrivierpas help om ons wakker te hou. Op Oudtshoorn koop ons roomys en braaibroodjies, en maak vir oulaas brandstof vol.
Die tenk is goed vir 250 km, maar hoe ver gaan ons tot ons weer hier verby?
Uiteindelik, toe die middaghitte skroeiwarm brand, tref ons die grondpad van die Swartbergpas – die groot toets.
Ons weet dis grondpaaie soos dié waarvoor ons die motorfiets gekoop het, maar nou sal ons eers sien hoe die groen-en-pers monster die los klippe en draaie hanteer.
Die motorfiets se bande is padgeoriënteer en ry verbasend goed op die grond. Maar die gedagte aan die ekstra binnebande wat moes agterbly, maak my ekstra bedag op mespuntklippe.
Ná sowat 25 km bereik ons die poorte van Die Hel op linkerhand.
Dis harde wêreld dié. Wie gaan ons kom haal as iets onklaar raak? Hoe ver sal ons in hierdie hitte kan stap?
Intussen tap liters sweet ons af en die son lag vir ons.
Eers is dit op. Dan is dit af. Ná bykans twee uur maak die pad ’n draai en die groen kloof lê onder ons. Ver onder ons.
Omdat die pad so steil is, voel die gewig van twee mense op die motorfiets meer soos drie, en teen die tyd dat ons onder stilhou, is my gewrigte lam. Ek sit ook redelik ongemaklik – byna bo-op die brandstoftenk – sodat Tania darem in relatiewe gemak tussen my en die bagasie kan sit.
Die grootste “gevaar” van die pas is egter sy verlatenheid en natuurskoon. Met ’n motorfiets kan jy maklik om ’n skerp draai oor die rand ry as jy jou te veel aan die hange oorkant verwonder.
Ons het rustig afgery en kort-kort stilgehou. Daar het nie ’n stroompie verbygegaan sonder dat ons daarin afgekoel of ’n paar slukke koue water gedrink het nie.

Stille rivierstroom

Kaapse Natuurbewaring het spesiaal die wittebroodstaanplek vir ons uitgehou, en onder die bome langs ’n smal stroompie pak ons af, slaan tent op en verken die omgewing met die motorfiets.
Op soek na ’n lafenis vir ’n droë keel stop ons by die plaaswinkel Fonteinplaas en verorber hoenderpastei en slaai. Hier kan jy enigiets van muskietgoed en koue bier tot witblits koop.
Ná ’n rit deur drie strome kom ons voor die toe deure van KNB se museum te staan. Dis net ná vier, minute ná toemaaktyd.
Ons draai om. Weens die slakkegang waarteen ons ry en die waaier van die motorfiets wat nie wou aangaan nie, begin die waarskuwingsliggie van die temperatuurmeter brand. Wat nou?
Môre moet die Kawasaki ons en al ons besittings uit Die Hel neem. Ons draai om na die vorige stroompie, en spat liggies water op die enjinblok en verkoeler tot die liggie afgaan, en ry terug na ons tent.
Ná ’n geplas in die water vat ons ’n salige middagslapie op die grondseil langs die tent. Die skadu is welkom, die voëls kalmerend en die probleem met die motorfiets nou eers vergete ...
Net voor donker lewer die opsigter by die ontvangs drie sakke hout by ons staanplek af. Vanaand word groot gebraai (en redelik hard geslaap).

Die pad huis toe

Sondagoggend sing die bosvoëls ons wakker, en dit klink nes Nature’s Valley in die somer. Binne ’n uur is ons opgepak en gereed vir die steil klim uit die kloof. Ek is bang die motorfiets oorverhit en stoot aan.
Dis ’n lekker stuk rypad vir ’n motorfiets dié. Dis die een draai op die ander, met geleidelike op- en afdraandes. Dis redelik vinnig om uit die kloof te kom, en ná sowat ’n uur en ’n half sluit ons weer by die Swartbergpas aan. (Gelukkig het die waaierprobleem van die vorige dag nie weer kop uitgesteek nie.)
Die pad huis toe vlieg verby, en dis ’n plesier om binne tien minute alles af te laai en voor die TV neer te val.
Nou ja, nou wag ek vir die volgende voorstel.

Wat het ons geleer?

• Pak so min as moontlik.
• Maak seker motorfietse word toegelaat waar jy gaan kamp.
• Versien jou voertuig behoorlik voor jy vertrek.
• Gedra jouself in ’n afgeleë gebied. As jy val, gaan jy ver kruip.
• ’n 375 ml-botteltjie OBS help net soveel vir die koue as ’n groot kombers.
• Hou kort-kort stil, want “lamboudia” is ’n algemene kwaal as jy ’n lang ent  op ’n motorfiets ry.


Kommentare

Puik man. Ons was self daar met die 4x4. Het in Tannie Sankie se huis gebly. Annetjie van die winkel is 'n ware Gamkasklofer. Ek hoop die stukkie geskiedenis bly behoue vir ons nageslagte.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association