Gamkaberg | Klein-Karoo, groot hart
Op soek na ’n vinnige en maklike Wes-Kaapse wegbreek? Dan behoort jy die Gamkaberg-natuurreservaat (en die omliggende omgewing) dadelik hoog op jou doenlysie sit, meen Matt Covarr.
Behalwe dat die Outeniquaberge ’n indrukwekkende agtergrond is vir
Toskaanse villas en ontwerperstranddrag op die deurtrapte Tuinroete, is dié bergreeks ook die skeiding tussen ’n wêreld van weelde en gejaagdheid en die ouwêreldse sjarme en oop ruimtes van die Klein-Karoo.
Gedagtig hieraan – en met ’n voertuig tot teen die dak gelaai met kamptoerusting – is ons op pad Oudtshoorn toe oor die Outeniquapas om die bekoring van die Gamkaberg-natuurreservaat in die Klein-Karoo en die omliggende omgewing eerstehands te gaan ervaar.
Die gesing van die Land Rover se 750 x 16-duim bande raak gou-gou stil nadat ons van die ou betonpad afdraai wat Oudtshoorn verbind met sy klein, maar sjarmante buurdorp, Calitzdorp.
’n Paar volstruise in ’n kampie langs die pad draai hul koppe gelyk om te kyk hoe die Landie verbyrammel op een van tientalle stofpaadjies wat afgesonderde plaasopstalle met mekaar verbind.
’n Donkiekarretjie met ’n vrag vuurmaakhout agterop ry rustig in die teenoorgestelde rigting by ons verby; die drywer lig tydsaam sy hoed om te groet.
Ja, dis net nog ’n tipiese lentedag aan die voet van die Gamkaberg, daardie afgesonderde bergreeks tussen die Outeniqua- en die Swartbergreeks wat in skakerings van blou en groen verrys agter Kaapse Natuurbewaring se inligtingsentrum by die reservaat se basiskamp, sowat 6 km vanaf die betonpad.

Bl 2: Waar die bergsebras…
Waar die bergsebras pronk
Dié berggebied van 9 480 ha (sowat 10 km2), 32 km suidoos van Calitzdorp en 33 km suidwes van Oudtshoorn, is in die vroeë jare sewentig tot ’n natuurreservaat verklaar om die laaste oorblywende Kaapse bergsebras en hul natuurlike habitat van uitwissing te red.
In daardie stadium was daar minder as tien oor, maar danksy die bewaringsingryping destyds, en meer onlangs die bestuur van Kaapse Natuurbewaring, het bergsebragetalle in Gamkaberg tot meer as 50 gegroei.
Nie dat jy sommer ’n regmerkie langs hierdie skugter diere op jou Gamkaberg-soogdierlysie gaan maak nie, maar soms wei hulle in die oop kolletjies bo-op die berg.
Ander wild wat jy moontlik hier kan sien, sluit in elande, vaalribbokke, rooihartbeeste en koedoes.

Maar daar is meer aan die reservaat as net wild – soos sy unieke plantspesies.
Hier kan jy die Klein-Karoo in sy volle plantglorie ervaar − wat wissel van fynbos tot vallei-bosveld en Karoo-vetplante, en seldsame spesies soos die gouestompieprotea (Mimetes chrysanthus) tussenin. G’n wonder dié streek is een van die top-biodiversiteitgebiede ter wêreld nie.
As jy op jou besoek aan Gamkaberg nie al die reservaat se dierespesies kon sien nie, sal die Cape Leopard Trust se kameraprojek jou wys wat jy gemis het.
Hierdie visuele rekord van Gamkaberg se soms ontwykende dierelewe gee jou ’n sonderlinge kykie en insig in die bewegings en gedrag van die 35 soogdierspesies in die reservaat.
Versteekte kameras dwarsoor die reservaat het al erdvarke, maanhaarjakkalse, vaalboskatte, bobbejane, bakoorjakkalse, rooijakkalse, bosvarke, rooikatte, ratels, koedoes, luiperds en Kaapse bergsebras op film vasgelê. Dié steelfoto’s word gereeld by die inligtingsentrum opgeplak.
Daar is ook planne om ’n aantal bykomende kameras in gebiede buite om die reservaat op te stel.
Hierdie gebiede is deel van die Groter Gamkabewaringsgebied en behoort aan private grondeienaars wat kragte met Kaapse Natuurbewaring saamsnoer om bewaringsgebiede te vestig wat met die bergreservaat verbind is.

Bl 3: Maggies, maar dis…

Maggies, maar dis koud!
Ná ’n voorsmakie van wat alles op die bergkruin op ons wag (danksy ’n deeglike uitstalling in die inligtingsentrum) en verdwerg deur Gamkaberg se ruwwe bergvoue, val ons in die pad op ’n nou 4×4-kronkelspoor wat desperaat vasklou aan die wande van Tierkloof, ’n diep kloof waar jy moet deur om tot op die kruin van die berg te kom.
Dit is ook die begin van Gamkaberg se Zebra Crossing 4×4-roete, ’n 35 km lange bergspoor wat jou voertuig oor groot klippe laat klouter, afsak in valleie en teen steiltes laat opklim soos wat dit deur van die Kaap se meer skouspelagtige natuurtonele kronkel.
Dié roete teen die berg op is baie meer opwindend, dramaties en gewild as die roete vanaf die hek by die reservaat se suidelike grens.
Gou-gou is die Land Rover se enjinkap dóér bo in die lug soos laestrek ons teen ’n slakkegang teen die spoor optrek, wat soms voel asof dit loodreg is.
Terselfdertyd voel dit asof die een kant van die Landie oor ’n enorme afgrond hang.
Binne ’n paar kilometer het ons die wêreld aan ons voete – met ’n voortreflike uitsig oor skynbaar eindelose valleie en klowe, oor die Outeniquaberge na die kus se kant toe en binneland toe oor die Swartbergreeks en die Groot-Karoo dóér agter.
Soos wat die roete oor rotsagtige terrein klouter en klim, raak die fynbos en plantdiversiteit al meer indrukwekkend.
Spatsels kleur bars uit elke oop holtetjie tussen die kwartsiet en leiklip wat die landskap oortrek. Protea- en aalwynspesies verrys oral geil uit die hange.
Vanaf ’n rotslysie bokant ons hoor ons twee klipspringers waarskuwend roep.
Ek kan glad nie aan ’n beter manier dink om die stadsmens in jou finaal te tem nie.
Hoewel jy die Zebra Crossing-4×4-roete teen die berg op as ’n daguitstappie kan doen, bly dit nou eenmaal maar net ’n onvergeetlike ervaring om bo-op die berg te kamp, en die volgende oggend wakker te word met net die Klein-Karoo se uitgestrektheid om jou.
Die Oukraal-kampplek, sowat 15 km vanaf die inligtingsentrum, is die enigste kampplek bo-op die berg, dis uitstekend geleë, en jy kan net met ’n viertrekvoertuig of te voet daar uitkom – wat dit net soveel lekkerder maak om daar te kamp. Maar die groot bekoring van Oukraal is dat jy dit eksklusief bespreek, wat waarborg dat jy jou kamplek met niemand anders hoef te deel nie.
Nadat ons twee uur lank tot onder in valleie en klowe afgekruip en tot op plato’s uitgeklim het, kom ons by ’n bordjie wat Oukraal aandui.
Dié kampplek is so onopsigtelik rondom reuse-kwartsiet-rotse gebou, en as dit nie vir die bordjie was nie, kan jy maklik daar verbyry.
Oukraal is ’n natuurlike skuiling onder oorhangende rotse wat oorspronklik deur skaapwagters gebruik is voordat Gamkaberg tot bewaringsgebied verklaar is. Dis met sorg omskep in ’n lekker oornagplek − klipmure, braaiplek en wateropgaartenk. En daar is genoeg gelyktes tussen die rotsstulpings om jou tentjie ook op te slaan.
Nog ’n pluimpie vir Oukraal is die toilet wat só geleë is dat jy ’n amper onverbeterlike uitsig het oor ’n reeks bergpieke wat lyk of dit tot aan die einde van die aarde strek.

Kort nadat ons by Oukraal aangekom het, het ons ’n knetterende vuur aan die gang wat die skuiling se klipmure met ’n
oranje gloed beskilder.
Die pruttende potjie en die geknetter van die vuurmaakhout ding mee met die onmiskenbare geluid van flappende vlerke van ’n hoëveldklappertjie wat teen sonsondergang deur die fynbos op die berg weerklink.
Soos met enige bergkruin kan onvoorspelbare weerstoestande die temperatuur skielik laat daal namate skemer oor die berg neerdaal. Kort voor lank soek ons tussen ons klere rond vir ietsie warmers teen ’n koue luggie wat byt.
Ons sluk die potjiekos af met ’n glasie versterkwater, en op die ysige eerste aand op Gamkaberg gaan kruip almal vroeg in hul slaapsakke in. Net een of twee bly om die vuur sit en filosofeer terwyl hulle dit bibberend stook.
Bl 4: Waar witkruisarende…

Waar witkruisarende sweef
Die oranje gloed van die sonsopkoms wat die volgende oggend die tent lekker warm bak, verdryf vinnig die laaste stuiptrekkings van gisteraand se koue.
Vanaf die sentraal geleë Oukraal het jy ’n paar keuses: jy kan óf die oorblywende 20 km van die Zebra Crossing-roete ry, óf gaan stap en bergfiets ry, óf bloot by die kampplek rondhang voor jy weer van die berg afgaan.
Die oorblywende deel van die 4×4-roete raak al meer uitdagend danksy tallose groot, los klippe en steil op- en afdraandes, maar die uitsigte raak net al beter hoe verder jy ry.
Ons bring die dag deur tussen ’n skynbaar nimmereindigende hoeveelheid plantspesies wat die landskap van klipperige ravyne en valleie bedek. Selfs al stel jy nie die minste in plante belang nie, kan Gamkaberg se ongelooflike diversiteit dalk net die sluimerende Keith Kirsten in jou wakker maak.
Voëlkykers sal ook nie afgeskeep voel nie, want meer as 200 voëlspesies – onder meer die grootswartooievaar en witkruis-, breëkop- en dwergarend – het Gamkaberg hulle woning gemaak.
As jy bietjie wil litte losmaak en aan die ingehoktheid van jou voertuig ontsnap, is die 11 km lange staproete teen die berg af na die inligtingsentrum ’n goeie (en gesonde) alternatief om weer by die basiskamp uit te kom.
Hoewel die kruin van Gamkaberg letterlik en figuurlik die hoogtepunt van ’n besoek aan die reservaat is, is die Tierkloof-boskamp, omtrent 1,5 km van die ingangshek af, iets om te oorweeg as jy of jou vriende nie kans sien vir Oukraal se basiese geriewe nie.
Dié ten volle toegeruste en goed ontwerpte boskamp aan die voet van Tierkloof se rotswande smelt moeiteloos saam met met die natuurlike omgewing. Die hele kamp, van safaritente tot ’n swembad, is gebou rondom ’n sentrale leefarea van riet.
Tierkloof is miskien meer luuks as Oukraal, maar ons besluit om nog ’n aand, gelukkig warmer as die vorige een, by Oukraal te gaan slaap.
Soos dit donker word en die sterre in die hemelruim bo ons kamp begin flonker, dink ek opnuut daaraan dat die lekkerste kampuitstappies dikwels na plekke toe is wat letterlik in jou agterplaas is.

Bl 5: Ouwêreldse sjarme in …
Ouwêreldse sjarme in die Klein-Karoo
Die volgende oggend ry ons stadig teen die berg af, terug na Gamkaberg se inligtingsentrum.
Die Land Rover draai en rol oor die klipperige spore terwyl die laestrekratte keer dat die Landie teen die steil helling af in ’n wegholtrein verander.
Ons hou vir oulaas in Tierkloof stil om die loodregte rotswande te bewonder wat oor die bergpad waghou, en neem dan onwillig afskeid van hierdie asemrowende stuk bergparadys.
Gelukkig hou die bekoring van die Klein-Karoo nie by Gamkaberg se hek op nie. Ná twee dae van kampketels, potjies en kampering in Oukraalstyl, is die volgende logiese stap om Calitzdorp toe te ry vir ’n ordentlike Karoo-ontbyt.
Ons ry by die reservaathekke uit en gou is die bande weer aan die sing op die betonpad op pad na “Suid-Afrika se porthoofstad” en egte Klein-Karoo-kultuur.
Calitzdorp se hoofstraat word omsoom met waarskynlik van Suid-Afrika se mees karakterlose argitektuur uit die jare sewentig, maar net agter die hoofstraat wag ’n heeltemal ander wêreld van bekoorlike en ouwêreldse argitektuur.

Hoenders skrop lustig in die sand langs tuinhekkies wat lyk of dit maar altyd oopstaan.
’n Brak lig sy kop van ’n blink gepoleerde sementpaadjie af, blaf halfhartig, en dut toe maar weer verder in die lekker oggendsonnetjie.
Jy kan ure lank in Calitzdorp se karaktervolle strate ronddrentel, maar eet eers ’n ordentlike ontbyt by waarskynlik een van die Klein-Karoo se beste eetplekke – ’n moet vir enigeen wat op ’n leë maag uit die Gamkaberg gekom het.
Rose of the Karoo bedien heeldag heilsame tuisgekookte maaltye. Die boekuitstalling en tuisgemaakte lekkernye sal ook sorg dat jy ’n aansienlike voorraad aanskaf vir die lang pad huis toe.
Maar wag, daar is nog …! As jy by Calitzdorp aandoen sonder om van die wêreld se beste port te proe, sal dit wees soos om Parys toe te gaan sonder dat jy ’n kiekie by die Eiffeltoring neem.
Calitzdorp se goed gedreineerde grond en warm klimaat is soortgelyk aan dié van die Dourovallei in Portugal, waar port oorspronklik vandaan kom.
Terwyl jy van kelder tot kelder stap en aan een van Calitzdorp se beste uitvoerprodukte proe, gaan jy jouself betrap dat jy begin wonder hoekom jy nie nóg ’n aand by jou Klein-Karoo-avontuur gevoeg het nie.
Met soveel dinge om te doen en te sien, behoort jy Gamkaberg en sy omliggende omgewing dadelik hoër op te skuif op jou doendingelysie.
Dis ’n kombinasie van ruwe, weergalose natuurlike skoonheid en idilliese kamptoestande, omring deur van die Kaap se mees skilderagtige bergreekse.
Dan kan jy ook nog vir ’n oggend lank rustig die wynkelders en karaktervolle straatjies besoek wat ’n eg Suid-Afrikaanse sjarme uitstraal.
Ná ’n lekker kuier in die Klein-Karoo het jy waarskynlik glad nie lus om die teerpad huis toe te vat nie, maar wees verseker, jy sal weer terugkom na hierdie deel van die land om nóg meer te kom doen en te ervaar.

Bl 6: Vinnige feite
Ek wil ook gaan!
![]() |
![]() |
![]() |
Wat ek daar sien en doen?
Kamp onder ’n helder hemelruim by die Oukraal-kampplek; jy kan die skugter Kaapse bergsebra in sy natuurlike habitat sien; stap of ry op die bergspore deur die gebied se skouspelagtige blom- en plantspesies; of kuier op Calitzdorp, die porthoofstad van Suid-Afrika.
Wat moet ek nie misloop nie?
Bring minstens een aand bo-op die berg deur om die sonsopkoms oor die Outeniquaberge te sien. ’n Ontbyt by Rose of the Karoo in Calitzdorp is iets wat jy baie lank sal onthou.
Beste tyd om te gaan?
Heeljaar. Die Klein-Karoo-somers kan miskien besonders hittig word, maar gelukkig het die Tierkloof-boskamp ’n swembad en baie skaduwee. In die lente en in die vroeë somer verkleur Gamkaberg met velde vol fraai veldblomme.
’n Naweek behoort lank genoeg te wees. As jy kan, slaap een aand by Oukraal, en nog ’n aand by die Tierkloof-boskamp.
4×4 of 4×2?
Jy sal nie regkom sonder ’n 4×4 met laestrek nie. Die spore berg-op wissel van gruis tot groot klippe en rotsblokke met ongenaakbare steil opdraandes.
Wat moet ek alles saamneem?
Jy moet selfonderhoudend wees. Vat genoeg warm klere en ’n goeie slaapsak − selfs al lyk die weer goed in die dag, kan temperature skerp daal as die son eers gesak het. Voëlboeke, plantboeke, verkykers en ’n hoed sal ook handig te pas kom.
Moet ek onderdele neem?
Bring ’n goeie gereedskapstel en basiese spaaronderdele saam – dit gaan nogal neuk om ’n gebreekte voertuig teen Gamkaberg af te kry.
Waar kan ek bly?
- Oukraal-kampplek, die enigste kampplek bo-op die berg, is ’n basiese klipskuiling.
- Tierkloof-boskamp is ’n ten volle toegeruste selfsorgkamp met safari-
tente, ’n swembad en ’n sentrale leefarea van riete. - ’n Eenvoudige kampterrein en omboude stalle, waarin slaapplek vir agt mense is, is naby die ingangshek van die reservaat geleë.
Is daar water en vuurmaakhout?
Vuurmaakhout word by Oukraal verskaf. Vuurmaakhout word ook by die inligtingsentrum verkoop.
Drinkwater by Oukraal word in houers gehou, terwyl opgaartenke reënwater stoor vir wasdoeleindes. Tierkloof-boskamp, die kampterrein en die stalle het drinkwater.
Koste?
- Sonder ’n Wildcard moet jy ’n daaglikse bewaringstarief van R25 per volwassene en R12 per kind betaal.
- In die hoogseisoen, naweke en vakansiedae kos die Oukraal-kampterrein R35 p.p.p.n. Buite seisoen en weeksdae kos dit R30 p.p.p.n.
- Tierkloof-boskamp kos R480 tot R640 vir tot vier mense, en ’n bykomende R120-R160 p.p. vir tot agt mense.
- Die kampplek by die stalle kos R35 p.p.p.n. naweke en vakansiedae en R30 weeksdae, terwyl die stalle self by die ingangshek op naweke en vakansiedae R140 kos (vir tot vier mense) en R120 op weeksdae (vir tot vier mense).
Moet ek vooruit bespreek?
Jy kan Gamkaberg toe gaan as ’n dagbesoeker, maar as jy besluit om daar te oornag, moet jy jou akkommodasie vooraf deur Kaapse Natuurbewaring bespreek. Kontak 021 659 3500 of bookings@capenature.co.za vir inligting.
Hoe kom ek daar?
Tussen Oudtshoorn en Calitzdorp is daar padpredikante wat die weg wys na die reservaat toe. Gebruik die ou betonpad tussen die twee dorpe wat parallel aan die R62 loop, en vat die afdraai op die 6 km lange grondpad na die reservaat se hek. Die hek is 32 km van Oudtshoorn en 33 km van Calitzdorp af.
| WR_Gamkaberg.pdf | 1 MB |









