Die Namib: Oos na Wes | Diép in die groot niet


Jy het miskien al die Lüderitz-Walvisbaai-roete deur die Namib-woestyn gery (of ten minste daarvan gehoor), maar wou jy nog altyd die woestyn van oos na wes deurkruis het? Kom ry dan vir 5 dae en 550 km saam met Barnie Louw en fotograaf Dawie Verwey.

Ek weet ’n mens drink nie in die oggend voor teetyd nie, maar hier waar ek vroegoggend op ’n Namibduin sit en tot verhaal probeer kom, het ek versterkwater nodig. Sommer baie. En as ek so na die asvaal gesigte van die mans om my kyk, het hulle ook enetjie (of twee) nodig.

Ons sit en kyk hoe die een kar na die ander dóér bo sy neus versigtig oor die lip van die Longdrop druk. As ons nader was, sou ons kon sien hoe die oë van die man agter die stuur al groter raak, ons sou kon sien hoe slaan ’n fyn tropiese angssweetjie op sy bolip uit, die doodsbleek van sy kneukels. En dan het hy nog nie eens begin beweeg nie …

As jy ’n paar skuimkoppe sterk is, sal jy die Longdrop waarskynlik só aan jou pêlle beskryf: “Man, dis dié @#&*% hoë duin waar ons moes af …”

Maar as jy by jou skoonma ná kerk tee drink, sal jy dit waarskynlik só beskryf:
“Ons moes toe afry by hierdie be-sonder hoë duin – ek skat dis sowat 30 verdiepings hoog. Ek was baie senuagtig, want net een oordeelsfoutjie, en dis nag.”

Die Longdrop is maar net een van die duine in die Namib wat die manne van die kinders skei. Daar is ook nog die Land Rover’s Graveyard en Slingshot … en sommer baie ander grotes wat nie eens ’n naam het nie.

Ek het al baie stories en artikels oor die Namib gelees. Stories oor hoe karre teen duine afgerol het, hoe clutches gebrand is, hoe onderdele ingevlieg en mense met gebarste blindederms uitgevlieg moes word.

G’n wonder dat toe ons groep van twintig mans in tien voertuie vyf dae gelede by Solitaire saamgetrek het, ek myself reggemaak het vir ’n kameerolletjie in ’n Arnold Schwarzenegger-aksiefliek nie.

Maar dis nie die aksie wat jy ná die tyd onthou nie.

Jy onthou eerder die grootsheid en vistas van die oudste woestyn op aarde, die stilte wat jou duiselig laat, die aangrypende diamantgeskiedenis, en die vryheid en vrede van dié reusesandput wat jou so rustig maak soos ’n Sondagmiddag op die platteland.

Kortweg, die Namib vul jou met ontsag.

Bl 2: ’n Pakkie Texan …

’n Pakkie Texan plain in die bosak

Die plan is om van net anderkant Solitaire af min of meer die ou transportryers se ossewaroete Walvisbaai toe te volg tot waar dit die Kuiseb-rivier oorsteek.

Dan gaan ons die duinesee oorsteek tot by Conceptionbaai, ’n suidelike draai maak by ’n ou diamantdorpie of twee voor ons noord, kuslangs verby Sandvishawe, tot in Walvisbaai gaan ry.

Vyf dae. 550 km. Nie ’n pad, plaashek, Ultra City, waterkraan of Steers nie. Trouens, nie eens ’n boom om van te praat nie, net woestyn.

Maar wat maak dié oos-wes-ekspedisie deur die Namib anders as die tradisionele suid-noord-roete van Lüderitz na Walvisbaai? Suid-noord is sand, duine en adrenalien, verduide-lik Jurgens Schoeman, ons toerleier, maar van oos na wes ervaar en sien jy glo die Namib in ál haar buie. 

Ek het nog altyd aan die woestyn gedink as woes en leeg, selfs vyandig, maar skaars ’n paar uur nadat ons weg is uit Solitaire, is my skeefgetrekte indruk van die woestyn op sy kop gekeer.

Eerstens het ek nooit kon dink ’n woestyn kan só groen wees nie (toegegee, ons was daar ná ongewoon goeie reën), en tweedens het ek nie besef daar is soveel lewe in die woestyn nie.

Al die veld was inderdaad vrolik op dag een. Op pad na die Kuiseb-canyon ry ons deur plate wit woestynlelies, verby troppe baldadige gemsbokke, pronkende springbokke en sedige sebras.

Stomgeslaan ry ons deur ’n sprokiesboomwoud (ook bekend as ’n meelsakboom), verby feëtjiesirkels, om panne vol water, oor geilgroen grasvlaktes. Die Namas wat dié stuk sand “Die groot niks” gedoop het, het duidelik hul !Nara-pitte gerook.

Vyf uur later hou ons stil vir middagete. Afstand afgelê? ’n Volle 50 km. Die rede? Die landskap is só besonders dat alles (en ek bedoel alles) afgeneem móét word.

Min het ek geweet dit sou die hele toer so gaan. Oral waar jy in die Namib kyk, is ’n poskaart. Hier het jy nie ’n mik-en-druk nodig nie; jy’t net ’n druk nodig. (En nog nooit het ek soveel manne soveel keer die woord “mooi” hoor gebruik nie – ek’t later gedink ek’s op ’n Visi- of House & Leisure-leserstoer.)

Stelselmatig begin verander die landskap van die voor-Namib se gruiswoestyn na die eerste rooierige duintjies met duinstrate tussenin.

Vir die meeste van ons is dit die eerste kennismaking met duinry, en die eerste keer dat die karre in ernstige 4×4 gesit word.

Effe onseker, senuagtig en baie versigtig word dié eerste sandlusmakertjies oorgesteek.

Min weet ons van hulle ouer boetas (wat al van standerd 6 af skeer en Texan plain rook) wat nog wag … 

Die Kuiseb-canyon kom as ’n verrassing. Nie net oor die kontras tussen die rooi duine diékant en die swart maanlandskap aan die ander kant nie, maar dat daar lopende water in die woestyn is.

Ons kyk af in die swart skeur wat lyk asof dit uit rots geruk is. Doer onder blink die Kuiseb-rivier. Bome staan geilgroen in die rivierbedding.

As jy jou asem ophou, kan jy die rivier hoor roggel.

Dis ongeskikte wêreld dié; ondenkbaar dat enigiets anders as gemsbokke hier kan oorleef. Maar dis presies wat twee Duitse geoloë, Henno Martin en Hermann Korn, aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog besluit het om te doen.

Uit vrees dat hulle geïnterneer sou word, het hulle twee en ’n half jaar lank in dié einste canyon oorleef soos Robinson Crusoes van die woestyn. (Martin het hul wedervarings in die boek The Sheltering Desert neergepen.)

Weg van die canyon af, op pad na ons eerste kampplek, word die duine al meer, al hoër. Die eerste ouens sit vas, die eerste lesse van duinry word op die harde manier geleer. “Sjoe!” of “jislaaik!” begin “mooi” stelselmatig vervang.

Dit was ’n lang dag, maar almal slaap nie gerus nie, want môre is dit ons en daai duine met die pakkie Texan in die bosak …

Bl 3: Borsvoed ‘n …

Borsvoed ’n krokodil

Die Sahara is miskien groter, en die Gobi is miskien meer afgesonder, maar die Namib is die oudste. Die moeder van woes-tyne. En die ou tannie weet hoe om jou te laat swéét.

Die terrein: Duine. Lineêre duine, spitsduine, duinstrate, bewegende duine, brulduine, glyduine, waaigate.

Die ervaring: Op, op, op, oor die kruin, af, af, af, deur die knik, oor, sit vas, om, gee vet, deur, oeps!, &%$, stoot terug, probeer ’n ander hoek, gee gas, demmit!, probeer weer, stadig nou!, op, op, af, af, halfpad op … (herhaal 134 keer).

Die beskrywing: “Die woes-tyn maak almal gelyk … die plek hou jou op jou knieë.” (Marius van Zyl, ons gids)

As hulle nie ’n pad oor of om ’n duin soek soos ’n foks-terriër wat ’n veldmuis uitsnuffel nie, d
an gee die gids jou raad oor die beste lyn om die duin te takel en die beste spoed en ratverhouding.

Algaande kry ons meer selfvertroue. Ná net ’n dag of wat begin kry jy ’n gevoel vir jou voertuig, wat dit kan doen, watter ratte werk die beste vir watter soort duine.

Jy leer gou dat, soos balbesit in rugby, momentum die goue reël in duinry is.

Nie dat alles altyd voor die wind gaan nie. Vassit dié gaan jy.

Ons is nou halfpad see toe, en volgens Jurgens en Marius in die middel van die diép woestyn.

Aanvanklik is dit nogal on-heilspellend om geen ander spore in die sand te sien nie, asof jy die eerste is wat hier ry. Kyk jy terug, lê jou spore soos diep meswonde deur die sand, maar voor jou … voor jou is nêrens ’n spoor wat wys waarheen jy op pad is nie.

In jou agterkop weet jy spore in die sand word gou toegewaai, maar nogtans …
Jy weet ook dat as jou voertuig hier breek, sal onderdele ingevlieg moet word, of iemand sal jou moet uitsleep. Vergeet van jou AA-lidmaatskap, hier’s jy op jou eie.

En as jy sou siek word, wel … het jy al voorheen in ’n helikopter gevlieg?

Hoe nader ons aan die see kom, hoe minder raak die boesmangras, volstruisdoring en hardegras in die duinstrate, hoe witter die duine. Maar nes jy dink die woestyn lyk soos ’n groot bak wit sjokolademousse, moet jy herbesin.

Soos ’n vrou wat klere aanpas vir ’n sexy dans teen sononder, verander die woestyn elke uur haar voorkoms: Rooi, pienk, appelkoos, oranje, maroen … noem maar ’n kleur op.

’n Ekspedisie deur die Namib is nie ’n ervaring nie, dis eerder ’n reeks ervarings: Die vroeg-oggendson op die duine wat jou omring met ’n stortvloed kleure, die hitte van die middag as die sand jou voete brand, die opwinding, ekstase en verligting van duinry, die rustigheid as die son begin verkrummel, die soete slaap onder sterre so helder soos vuurwerke.

Elke dag in die woestyn volg ons min of meer dieselfde roetine: opstaan voor sonop, uitrek en onwillekeurig glimlag terwyl jy oor die duine uitkyk, praat oor die sterre wat gisteraand so helder geblink het, koffie en beskuit terwyl die son sy kop lig, borsel jou tande en was jou gesig in ’n halwe koppie water, rol jou slaapsak op, skud die sand uit jou skoene, pak in en maak seker alles is vas, kry jou plek in die konvooi, toets of die tweerigtingradio’s werk, die gids vat voor en daar gaat jy, verder die woestyn in, duin op, duin af.

Middagete is ’n vinnige toebroodjie van koue vleis, selfs met groente soos tamaties en kropslaai. Duin op, duin af.

Laatmiddag stop jy by die kampplek tussen die duine. Elkeen soek plek om sy tent op te slaan of sy slaapsak oop te rol (gewoonlik agter ’n voertuig of windskerm waar die wind jou nie gaan pla nie, en ver weg van die ouens wat snork), kampstoele word uitgehaal en jy sit behaaglik terug en drink die omgewing saam met jou koue enetjie in.

Die meer aktiewes klim die duine uit met hul kamera, op soek na nog ’n foto om by die huis te gaan spog. Ander gaan sit op ’n hoë duin en word stil.

Later, as die gemeenskaplike vuur die enigste lig en hitte in ’n 300 km-radius is, migreer almal soontoe vir eet, gesels of sommer net lekker diep sit. Dan word die dag se vassitte herkou, goedig heen en weer gespot, en geredekawel oor die beste sterre en metode om die ware noord te bepaal.

Ja, hier diep in die woestyn raak jy so rustig jy kan ’n krokodil borsvoed.

Bl 4: ’n XR6 op blokke

’n XR6 op blokke

Toe ons aan die einde van dag drie stilhou op ’n melkwit duin waarvandaan ons uitkyk oor Conceptionbaai, voel ek amper soos ’n seevaarder wat ná maande op see die eerste keer weer land sien, net omgekeerd.

Ek’s nie seker of die diamantdelwers en fortuinsoekers van ouds wat ’n bestaan uit dié gruisvlaktes langs die kus probeer grawe het, my sentimente sou deel nie.

Die geskiedenis van die diamantstormloop in die Namib is goed opgeteken, maar as jy hier op die windverwaaide woestynkus staan en na die godverlatenheid om jou kyk, begin lééf dié woorde op papier.

Stap rond tussen die oorblyfsels van Charlottenfelder en Holsatia, twee diamantnedersettings waar die wind sy bes probeer om die geskiedenis toe te waai, en jy kan jou verbeel jy hoor die eensame en wan-hopige stemme van weleer. Of is dit net die wind?

Dis moeilik om te verstaan dat die lokstem van blink klippies so sterk kon wees om duisende mense na dié ongenaakbare gruisvlakte te lok.

Water was gedurig ’n probleem, vroue is nie op die diamantveld toegelaat nie, jy het in ’n opslaanhut gebly waar die sand deur elke opening ingewaai het, en die muile en perde wat jou enigste vervoer was, het ongelukkig ook miljoene vlieë op jou losgelaat.

G’n wonder die ouens het so baie mos gevat nie – soos die ou verweerde bottels in die oopgewaaide vullishope getuig.

Die Texan-rokende duine van die vorige twee dae het ooms ook: ’n Oom met ’n hangsnor wie se XR6 permanent op blokke in sy yard onder ’n peperboom gestaan het  … tot hy tronk toe is vir handel in gesteelde onderdele. Jy weet, die oom wat drie jaar later met ’n “I loves Mom”-tatoe op sy bo-arm op parool vrygelaat is.

En dis dié menere wat ons die volgende dag of twee moet takel. Maar dit het ons nie ge-weet toe ons vanoggend naby Charlottenfelder, waar ons gisteraand gekamp het, noord gedraai het om die laaste twee dae min of meer kuslangs te ry tot in Walvisbaai nie.

Van hier af volg ons dieselfde roete as die Lüderitz-Walvisbaai-toer; as jy dus al só getoer het, kan jy nou ophou lees.

Die eerste stilhouplek ná Charlottenfelder is waarskynlik die mees gefotografeerde skip in Namibië. Streng gesproke is die Eduard Bohlen nie meer ’n skip nie, want sedert sy op 5 September 1909 by Conceptionbaai gestrand het terwyl mynvoorraad afgelaai is, het die elemente sy tol behoorlik geëis.

Trap mooi as jy aan boord “the ship that sailed on land” gaan (sy lê deesdae amper ’n kilometer van die see af). Ongelukkig kry ons geen spoor van die strandjutwolf-paar wat in die skip hou nie en ons druk verder noord, op pad Sandvishawe toe.

Verby Langewand (’n smal stukkie strand met die see aan jou linkerkant en reuseduine regs), om Sandvisbaai se sout-panne tot tussen die duine land-in van Sandvishawe, waar ons nog vir oulaas in die woestyn gaan kamp.

Dit is ons laaste nag in die woestyn, maar net toe ons begin ontspan en plan maak om ons vroue by die huis van Walvisbaai te bel, kom ons agter die beste is vir laaste gelos – die ooms met die hangsnorre.

Van dié duine op pad Walvis-baai toe is so legendaries hulle is selfs name gegee: Longdrop, Land Rover’s Graveyard. Die “Sjoe!” en “Jislaaik!” word gou-gou vervang met “goeie @#$!” en eenvoudig “%$#@!” … en party se oë rek so groot soos die eerste keer toe hulle ’n Scope deurgeblaai het.

Toe ons later die eerste keer in vyf dae weer tekens van beskawing sien (uitgespoelde plastiekbottels en ander spore), is die teleurstelling soos ’n slegte smaak in die mond. En toe ons die soutpad suid van Walvisbaai tref, kon ek my verbeel ek proe kasterolie.

’n Week of wat later vra my
vrou wat my van die toer sal bybly. Wel, daar is duisende klein dingetjies, maar as ek ’n beknopte opsomming moes gee, sal dit só lyk:

  • Die woestyn léwe;
  • Die woestyn is mooi én gevaarlik;
  • Dis ’n plek waar manne weer kinders word (en die speelplek is gróót);
  • Dis ’n onvergelykbare avontuur tussen die wêreld se hoogste duine;
  • Die omvang van wat op jou wag, is moeilik om te beskryf;
  • Al doen jy net een 4×4-toer in jou lewe, maak seker dis dié een;
  • Dit sal iets aan jou menswees verander.

* WegRy het saam met The Journey (021 912 4090; info@thejourney.co.za; www.thejourney.co.za) gereis en al sy uitgawes self betaal.

Bl 5: Só het ons gery

Só het ons gery

Dag 1 Solitaire na die Kuiseb-canyon (± 160 km)
Dag 2 Die Kuiseb-canyon na iewers in die duinesee (± 90 km)
Dag 3 Na Conceptionbaai en die diamantdorpies (± 120 km)
Dag 4 Die diamantdorpies na Sandvishawe (± 120 km)
Dag 5 Sandvishawe na Walvisbaai (± 60 km)

Duinry 101

Hier’s ’n paar duinrywenke om die ander op die toer te laat dink jy het al die roete gery:

Ek hou jou dop …
Wag tot jy die voertuig agter jou kan sien voor jy verder ry. Jy’s die oë en ore van die ou agter jou, want hy kan nie sien wat anderkant die duin aangaan nie. Hou ook die kar voor jou dop.

Pssst.
Blaas jou bande af na minstens 1 bar – afhangend van hoe swaar jy gelaai is. As jy steeds sukkel, blaas dit verder af.

Soos Habana.
Kies ’n rat om momentum en spoed te hou, eerder as stadige krag. Eerste rat, laestrek gaan byvoorbeeld nie werk vir spoed en momentum nie. Kies eerder eerste of tweede rat, hoëstrek, of derde en vierde rat, laestrek.

Dié een werk nie.
Jou ratkeuse sal afhang van kar tot kar. Eksperimenteer op die kleiner duine om die regte rat te kry.

Vat dit kalm.
Verwag altyd ’n ernstige glyduin aan die ander kant. Doen dit eerder oor as om dit te oordoen.

Af …
Moenie teen ’n opdraand stop nie – probeer op ’n gelykte of effense afdraand te stop. Dit help jou om makliker weg te trek. Moenie met te veel krag wegtrek nie – jy kan dalk net begin skop.

Sing die wiegelied.
Ry ’n paar keer vorentoe en agtertoe op die wielspoor as jy sukkel om weg te kom. Op dié manier kompakteer jy die sand en trek makliker weg. As jy vassit, gebruik laestrek en “wieg” versigtig vorentoe en agtertoe, sonder dat jou wiele tol.

Hou reguit.
Hou jou voertuig haaks duinaf, anders kan jy omslaan. As jou agterstewe uit-swaai, draai die stuur in dieselfde rigting en gee effens gas. Gebruik enjinkompressie om te rem as jy teen ’n duin afry. As jy sydelings begin gly, gee effens vet om jou voertuig reguit te trek.

Haak hom, Blokkies.
Dit verg ’n fyn balans van momentum en krag om oor ’n skerp duinkruin te kom. Te veel en jy vlieg; te min en jy kom nie bo nie. Kom met jou voorwiele oor die kruin sodat jou agterwiele aan die kruin “vashaak”.

Bl 6: Vinnige feite

Wat jy moet weet

Wat’s die beste soort voertuig?
Dit moet die volgende hê:

  • Nie te veel elektronika nie; 
  • ’n Hoë grondvryhoogte;
  • ’n Laestrek-ratkas;
  • ’n Goeie naderings-, vertrek- en oorbruggingshoek.

Petrol of diesel?
Petrolvoertuie vaar in die algemeen beter in die duine as diesel.

Moet ek ’n sandry-boffin wees?
Ervaring help, maar dis nie noodsaaklik nie.

En as ek iets oorkom?

In geval van ’n voertuigongeluk is jou mediese noodontruiming in die toerprys ingesluit, maar vir ander mediese noodgevalle het jy jou eie reis- en mediese ontruimings-versekering nodig. En as my kar breek? Die herwinning en herstel daarvan is vir jou eie koste.

Wat word voorsien?
Alle maaltye, gemeenskaplike kamptoerusting (braaigoed, tafels, opwasgeriewe, storte, ens.) en tweerigtingradio’s.

Wat moet ek saamneem?
Kamp-gewys moet jy selfversorgend wees.

Hoeveel water is genoeg?
Minstens 5 liter drinkwater per persoon per dag, plus water vir was en opwas.

En vir my voertuig?
Laat jou voertuig vooraf ordentlik versien en pak die woestyn net aan met ’n voertuig wat meganies 100% is.

Pak ’n graaf, banddrukmeter, kompressor, ’n volledige stel pype en aandrywingsbande, remvloeistof, ratkasolie, enjinolie, sekerings, waaierband, ekstra noodband (al die bande moet verkieslik binnebandloos wees), ekstra sleutel.

Herwinningstoerusting?
Jou voertuig moet herwinningspunte voor én agter hê, ’n ordentlike kinetiese strop en boogskakels. ’n Hoogligdomkrag is opsioneel.

Laai mooi.
Al jou toerusting en bagasie moet stewig vasgemaak word. Pak swaar items so laag moontlik en moenie jou dakrak oorlaai nie.

Hoeveel brandstof is genoeg?
Genoeg om 550 km te ry. Weens die dik sand moet jy werk op ’n gemiddelde brandstofverbruik van sowat 3 km/liter (petrolvoertuie) en 4 km/liter (dieselvoertuie). Onthou om jou voertuig en jerry-kanne op Solitaire vol te maak – dis jou laaste kans.

Wat gaan dit my kos?
R5 500 per persoon vir ’n toer van 5½ dae (’n dag langer as ons toer). Die volgende toere is van 11-17 Oktober; 29 Desember 2008 tot 4 Januarie 2009; 21-27 Maart 2009. Kyk op www.thejourney.co.za vir meer besonderhede.


Oorspronklik gepubliseer in WegRy #7 | Junie – Julie 2008

WR_Namib.pdf 1 MB