Die Namib: Oos na Wes | Diép in die groot niet
Jy het miskien al die Lüderitz-Walvisbaai-roete deur die Namib-woestyn gery (of ten minste daarvan gehoor), maar wou jy nog altyd die woestyn van oos na wes deurkruis het? Kom ry dan vir 5 dae en 550 km saam met Barnie Louw en fotograaf Dawie Verwey.
Ek weet ’n mens drink nie in die oggend voor teetyd nie, maar hier waar ek vroegoggend op ’n Namibduin sit en tot verhaal probeer kom, het ek versterkwater nodig. Sommer baie. En as ek so na die asvaal gesigte van die mans om my kyk, het hulle ook enetjie (of twee) nodig.
Ons sit en kyk hoe die een kar na die ander dóér bo sy neus versigtig oor die lip van die Longdrop druk. As ons nader was, sou ons kon sien hoe die oë van die man agter die stuur al groter raak, ons sou kon sien hoe slaan ’n fyn tropiese angssweetjie op sy bolip uit, die doodsbleek van sy kneukels. En dan het hy nog nie eens begin beweeg nie ...
As jy ’n paar skuimkoppe sterk is, sal jy die Longdrop waarskynlik só aan jou pêlle beskryf: “Man, dis dié @#&*% hoë duin waar ons moes af …”
Maar as jy by jou skoonma ná kerk tee drink, sal jy dit waarskynlik só beskryf:
“Ons moes toe afry by hierdie be-sonder hoë duin – ek skat dis sowat 30 verdiepings hoog. Ek was baie senuagtig, want net een oordeelsfoutjie, en dis nag.”
Die Longdrop is maar net een van die duine in die Namib wat die manne van die kinders skei. Daar is ook nog die Land Rover’s Graveyard en Slingshot ... en sommer baie ander grotes wat nie eens ’n naam het nie.
Ek het al baie stories en artikels oor die Namib gelees. Stories oor hoe karre teen duine afgerol het, hoe clutches gebrand is, hoe onderdele ingevlieg en mense met gebarste blindederms uitgevlieg moes word.
G’n wonder dat toe ons groep van twintig mans in tien voertuie vyf dae gelede by Solitaire saamgetrek het, ek myself reggemaak het vir ’n kameerolletjie in ’n Arnold Schwarzenegger-aksiefliek nie.
Maar dis nie die aksie wat jy ná die tyd onthou nie.
Jy onthou eerder die grootsheid en vistas van die oudste woestyn op aarde, die stilte wat jou duiselig laat, die aangrypende diamantgeskiedenis, en die vryheid en vrede van dié reusesandput wat jou so rustig maak soos ’n Sondagmiddag op die platteland.
Kortweg, die Namib vul jou met ontsag.

Inhoudsopgawe:
- Die Namib: Oos na Wes | Diép in die groot niet
- Bl 2: ’n Pakkie Texan ...
- Bl 3: Borsvoed 'n ...
- Bl 4: ’n XR6 op blokke
- Bl 5: Só het ons gery
- Bl 6: Vinnige feite






Kommentare
Pos nuwe kommentaar