Die Baviaans-Kouga-4x4-ervaring

Terwyl hy ’n 4x4-roete oor die Kougaberge gery het, het Matt Covarr nie net die “lekker lewe” ontdek nie, maar ook ’n opwindende alternatiewe toegangsroete van die rustige Langkloof tot die wilder Baviaanskloof.
Ja, die trein het heelpad Avontuur toe geloop,” sê die ou man op die platform van die Assegaaibos-stasie naby Kareedouw in die Langkloof. “Maar hy lê nou rustig.”
Hiervandaan loop die Port Elizabeth-Avontuur-smalspoorlyn verder wes onder ’n digte tapyt gras en grond deur tot by die gelyknamige dorpie. Maar die laaste keer dat die wiele van die Apple Express-stoomtrein van Port Elizabeth af daarlangs geknars het, was sowat drie jaar gelede, voor ’n vloed dit beskadig het.
Terwyl die ou Langklower nostalgies raak oor die gloriedae toe uitvoerappels nog op dié spoorlyn vervoer is, verstel ek die stroppe van die dakrak van ons nuut aangeskafte Discovery voor ons die grondpad pak wat hiervandaan dieper die mis- en wolkbedekte Kougaberge inkronkel.
Ek is óók in ’n nostalgiese bui, en verlang klaar na my ou Defender 110 en sy enjinkap waarop ek kon staan sonder dat dit iets oorgekom het.
Ek mis ook die tye toe ’n dakrak onnodig was omdat die binnekant van die Defender so groot soos ’n kleinerige pakstoor was.
Dié is die nooiensrit van die Discovery, ’n voertuig met die gerief en persoonlikheid van ’n gesinstasiewa.
Terwyl my swanger vrou in haar beste Afrikaans probeer om met die ou man te gesels, wonder ek stilweg oor al die veranderinge wat ons reise in die toekoms gaan raak.
Gaan ons steeds kamp? Gaan ons “toevenster-reisigers” word vir wie die temperatuurverstelling in die gemaklike kajuit meer beteken as die ervaring van reis? vra ek myself af, en ril by die gedagte daaraan.
Met die eerste reëndruppels wat op my gesig spat, spring ek af en klim in die Discovery.
Dié uitstappie kan ’n draaipunt wees. Om mee te begin is ons op pad na die gerief van die Baviaans Lodge aan die begin van die Baviaans-Kouga 4x4 Experience, die 4x4-roete noord oor die Kougaberge tot in die Baviaanskloof wat ons môre gaan pak.
Tweedens reis ons in ’n voertuig wat soos ’n rusbank voel en ry, en laastens, ’n blaas van ’n swanger vrou werk só oortyd dat ek oorgenoeg kans gaan hê om stil te hou en die Kouga-natuur te bewonder.
Doen dit in styl
Ná 35 km se grondpad kom ons aan by die Baviaans Lodge. In ’n beboste vallei aan die einde van die grondpad het Rob le Roux ’n versameling hout-en-kliphuise gebou wat, saam met ’n privaat geleë kampplek, perfek met die landskap saamsmelt.
Brindle, Rob se 16 jaar oue kollie, lê uitgesprei voor die kaggelvuur wat in die eetkamer knetter terwyl die temperatuur buite skerp begin val.
Dit laat dink my weer aan my vroeëre nostalgie.
Hoewel ons gewoonlik teen dié tyd in ’n bondeltjie om ’n kampvuur sou sit, laat die Baviaans Lodge my tog wonder of ons nie meer dikwels dié soort blyplek moet kies nie.
Oor aandete beskryf Rob die 35 km van die Baviaans-Kouga 4x4 Experience-roete in besonderhede – van die wild en plante wat ons kan sien tot San-rotstekeninge in grotte.
Die roete noord oor die berge was jare gelede ’n brandpad, en dele daarvan is ook vroeër deur bosbouwerkers gebruik. Voor dit tot in die Baviaanskloof afdaal, ry jy oor vier naburige eiendomme, onder meer ’n groot deel van die Baviaanskloof-wildernis-gebied, ’n Wêrelderfenisgebied.
Met die reën wat op die dak neerkletter, wonder ek hoe die Discovery die deurweekte 35 km lange bergroete sal hanteer.
“Julle sal nie ’n probleem hê nie,” stel Rob ons gerus. “Dis hoofsaaklik klip en rots. Maak net seker jou voertuig is in rat as jy uitklim,” lag hy terwyl hy ons vertel hoe die 4x4-legende Katot Meyer se Defender per ongeluk in ’n kloof beland het – en van die drie dae se geswoeg en ge-sukkel om dit daar uit te kry


- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Die Baviaans-Kouga-4x4-ervaring
- Bl 2 | ’n Gedruis van hoewe
- Bl 3 | Onder in die Kloof
- Bl 4 | Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels





Kommentare
Pos nuwe kommentaar