Deur die Sahara – in ’n 1950’s-Kombi

Meer as vyftig jaar gelede het twee broers van die destydse Suid-Rhodesië besluit om al die pad Londen toe te ry. Hulle het ’n Kombi gekoop, ’n dakrak opgesit, ’n bed en primusstofie ingebou en regoor Afrika gery. In die Sahara het hulle soveel keer vasgesit dat hulle ophou tel het, skryf Ivor Wiid.
In Januarie 1959 het ek en my broer, Raymond, besluit ons wil ook soos baie van ons vriende oorsee gaan. Die meeste mense is destyds van Kaapstad af Brittanje toe op ’n salige twee weke lange vaart met die Union-Castle-boot. Maar ek en Raymond was lus vir ’n avontuur en het besluit om Londen toe te ry.
Raymond (toe 25) het in Salisbury gewerk en gewoon saam met sy vorige vrou, Mary, wat ook sou saamreis. Ek was 24 en het in Bulawayo gewerk, waar ek by my ouers gewoon het.
Ons plan was om van Bulawayo af na Tangier in Marokko te ry. Maar eers sou ons ’n draai maak by die Victoria-waterval, van waar ons deur Noord-Rhodesië (Zambië) sou ry na die Belgiese Kongo (Demokratiese Republiek van die Kongo), Frans-Ekwatoriaal-Afrika (Sentraal-Afrikaanse Republiek), Tsjad, Kameroen, Nigerië, Frans-Wes-Afrika (Niger en Burkina Faso), en dan deur Algerië na Tangier. By Tangier sou ons op ’n boot klim na Europa en dan verder ry tot in Londen. Of so het ons gedink…
Ons het besluit om ’n jaar lank soos kluisenaars te leef om soveel moontlik te kon spaar, boeke en tydskrifte te lees oor die reis en ’n geskikte ryding te kry.

’n Primus en ’n dakrak
Ons het nie veel vertroue in Land Rovers gehad nie, want toe al het jy gehoor jy moet eerder bid vir iemand wat een gekoop het as om hom geluk te wens.
Destyds was 4x4-voertuie ook nie so algemeen beskikbaar soos deesdae nie, en die enigste alternatief vir ’n Landie was die Amerikaanse Jeep. Ons kon in elk geval nie ’n 4x4 bekostig nie en omdat my broer met ’n Kewer gery het en vertroue in Volkswagens gehad het, het ons besluit om ’n Kombi vir ons toer in te rig.
Ons het ’n tweedehandse 1957-model gekoop met ’n 1200cc-enjin en sowat 30 000 myl (sowat 48 000 km) op die klok. Sy topspoed was 100 km/h – teen ’n afdraand! Destyds het min motors sinchroonskakeling in eerste rat gehad, en vir eerste rat moes jy dubbel-ontkoppel (double-declutch) terwyl die voertuig beweeg. Die meeste voertuie het trommelremme gehad en skyfremme was ’n nuutjie.
Ons het ’n bed oor die Kombi se volle breedte en ’n kas ingebou, en ’n dubbel-primusstoof en vensters aan die passasiersdeur se kant gemonteer. Bo-op het ons ’n doelgemaakte dakrak gesit met ’n waterdigte seil bo-oor.
Aan die een kant van Si Ye Pambili (“voorwaarts”), soos ons ons Kombi gedoop het, was die woorde “Dunlop Tyres” geverf, want dié maatskappy het vier bande geskenk vir ons toer. (Aanvanklik het ons nie veel gedink daarvan nie – eers later het ons besef hoe ’n goeie ooreenkoms dit was, want die enigste teëspoed was een pap band net voor Parys, Frankryk.)
Agter het die woorde “Trans Africa to London” gepryk en voor die Kombi se naam.
Ons het ons reis beplan met behulp van die boek Trans-African Highways deur die Rhodesiese AA, asook die gratis AA-gidse Touring sheet no 8, Notes on the Overland route to Algiers.
Op die Touring sheet was die petrolpryse vir 19 lande of dorpe. Die laagste prys per Britse gellingmaat (4,54 liter) was 3 sjielings (30c, of sowat 7c/liter) in Colomb-Béchar, Algerië, en die duurste - 10 sjielings en 3 pennies per gelling (sowat 23c/liter) - by Bidon V, Algerië.
’n Coke het destyds meer as ’n bier gekos.
Duur visums
Ons het al die dokumente, visums en ons voertuig gereed gekry en besluit om op 8 Februarie 1960 in die pad te val. Ritte deur die Sahara is slegs in die koeler maande, van November tot Mei, toegelaat en dit was kort ná ’n kwaai reënseisoen in die Kongo.
Van Nigerië af wou ons noord mik na Frans-Wes-Afrika (spesifiek Niger en Burkina Faso, wat deel gevorm het van dié federasie van agt Franse koloniale gebiede) en dan deur Algerië na Marokko ry. Toe ons ons paspoorte by die Franse konsulaat in Salisbury (Harare) gaan haal, is ons egter aangesê om na die Franse konsulaat in Kano, Nigerië, te gaan.
Daar moes ons £55 per paspoort – ’n allemintige bedrag destyds – opdok vir toegang tot die Sahara. Dié stywe bedrag het voorsiening gemaak vir noodgevalle, ingeval die owerhede reisigers in die woestyn moes gaan red. Die owerhede kontroleer ritte van ’n Sahara-dorp af volgens ’n reisiger se vertrektyd, bestemming en verwagte aankomstyd. As hy teen dié tyd nog nie by sy bestemming is nie, word ’n soekgeselskap uitgestuur.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Deur die Sahara – in ’n 1950’s-Kombi
- Bl. 2 | Julle wil wáárheen gaan?!
- Bl. 3 | Grawe, stoot en stap
- Bl. 4 | Woeste woestyndae
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar