Caprivi | Deur ’n sopnat Caprivi

Dis die middel van die somer. Namibië is nat. Die afgelope paar weke het die vloede hard getref. Elke koerant hier is vol foto’s van groot massas water wat die noorde van die land in ’n greep beet het. En vol stories van die mense se lot.
Sowat 40 het al verdrink en honderde moes hul blyplek ontruim. Die noorde is deel van my en my verloofde, Alison Wright, se beplande roete van twee maande op soveel moontlik afgeleë paaie in Namibië.
Eers was ons in die suide, Sossusvlei, daarna noord deur Damaraland, deur Caprivi met ’n vinnige draai deur Botswana, en toe weer suid deur ’n verlate Khaudum en Boesmanland.
Hier’s die storie van die nat Caprivi:

Water, water en nogmaals water
Ons maak ons brandstoftenk vol op Grootfontein. Die foto’s van die vloedwaters op die koerantvoorblaaie voorspel niks goeds nie.
Ek bel die Ngepi Lodge op die Okavango-rivier in die Caprivi om te hoor hoe dinge lyk. “Nee wat,” sê ’n vriendelike vrou, “hier’s baie water, maar ons is oop.”
Die eerste stilhouplek ná Grootfontein is Rundu. Die Okavango kom af en hier’s g’n kampplek beskikbaar nie. Uiteindelik slaap ons in ’n muwwerige motel. ’n Brakkie iewers kef heelnag deur.
Vroeg die volgende oggend ry ons verlig uit Rundu, draai van die B8-teerpad af en volg die grondpad wat parallel daaraan loop en langs die rivier kronkel. Oral staan huise en landerye onder water.
By die Popa Falls Resort lê die staanplekke diep onder die water en selfs die kragpunte swem. Ons kry ’n droë, lowergroen grasperk onder reusekoeltebome naby die oornaghuisies en slaan tent op.
Die vloedwater se rand is sowat 20 tree van die tent af. Ek steek merkerstokkies in die grasperk op die rand van die water sodat ons kan sien of die water verder styg.
Die water is só hoog en vloei só sterk dat ons nie kan stap om die Popa-waterval te sien nie. Die eiland wat gewoonlik oorgesteek moet word om by die waterval – eintlik ’n reeks stroomversnellings – te kom, is onder water.
Ons plan is om ’n paar dae hier te staan terwyl ons die Mahango-reservaat, 25 km suid hiervandaan, verken. Dié klein reservaat het geen oornagverblyf nie, en lê op ’n deurgangsroete na Botswana deur die Mohembo-grenspos.
Ons laat spat dadelik Mahango toe en verken die droër, westelike roete. Dis ’n lang sirkelroete deur digte bos en dik sand. Ons sien min wild, maar kom darem ’n paar olifante teë. Aan die einde van die roete, weer terug op die hoofpad, vlieg ’n visarend met ’n groot baber in sy een klou bo ’n pan water.
By die oord staan die water 3 cm hoër en het dit ’n tree nader aan die tent gekruip. Ons sal met een oog oop moet slaap, maar dis so ’n besonderse kampplek dat ons reken dis die risiko werd.
Terwyl ons die aand braai, sien ons twee liggies wat stadig op die rand van die vloedwater naby ons verbybeweeg. Dit vat ’n tydjie om te registreer en toe ons die flits vat om te kyk, laat spaander ’n krokodil die ruigtes in!


Die volgende oggend is die kampplek besaai met oranjegoud blare, en ons besluit net daar om so lank te bly as wat die water ons toelaat.
Terug in Mahango vat ons die ander roete in die rigting van die rivier en panne. Plek-plek moet ons deur die water ry, verby olifante wat kniediep staan en wei, min gepla deur ons nabyheid.
Ons sien ook ’n trop rooilechwe in die water – die eerste keer dat ons dié bokke sien wat in Namibië net in die Caprivi voorkom.
Op pad terug na ons blyplek verken ons die roetes na die ander rivierkampe. Ngepi Lodge is nou gesluit – blykbaar die eerste keer in 20 jaar – en ’n breë Okavango-rivier vloei sterk oor die roete.
Mense kan net met bote daaroor vervoer word, en iemand daar rond sê die Okavango is by Rundu al 8 m bo sy normale vlak! (En dié water moet nog hier uitkom …)
Oor die volgende paar dae verken ons Mahango. Uiteindelik, toe die water by die driffie waardeur ons elke dag maklik ry, oor ons voorruit spoel, besef ons dis tyd om aan te stoot.

- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Caprivi | Deur ’n sopnat Caprivi
- Bl 2 | Watter atmosfeer?
- Bl 3 | Voetjie vir voetjie
- Bl 4 | Ek will ook gaan





Kommentare
Pos nuwe kommentaar