Bull run | Op ’n drafstap saam met die ou bulle

Dertig mans, twaalf ou motors en die ooppad. Nog voor die begin van die eerste Suid-Afrikaanse Bullrun kon jy maar weet hier kom ’n ding. Gerrie van Eeden was saam op dié epiese rit na Verneukpan en verder. En ja, hulle gaan dit weer doen.
As jy onlangs deur die Karoo gery het, manne met gasmaskers en wit oorpakke en ’n konvooi motors almal ouer as dertig jaar met verfspatsels langs die pad gesien het, het jy nie gedroom nie.
Hulle was deelnemers aan die eerste Suid-Afrikaanse Bullrun, die nie-amptelike eweknie van ’n episode in die Britse TV-program Top Gear, waarin Jeremy Clarkson en sy mede-aanbieders in skedonke van minder as R15 000 dwarsoor die Makgadikgadipan en die Okavango moes ry.
Die idee het ontstaan by Hermie Koen en Rieger van Rooyen. Hulle plan was om die Wes- en Noord-Kaap op grondpaaie plat te toer met vierdeursedans, ouer as 30 jaar, wat nie meer as R15 000 kos nie. En hulle het hulle vriende uitgedaag om saam te kom.
Die groep het uiteindelik gegroei van ’n aanvanklike vier deelnemers tot die twaalf karre wat een vroeë wintersoggend uit Kaapstad weggetrek het.
Elke kar het ’n naam. En elke kar het ’n storie – daar was ’n ou lykswa, iemand se ma se ou Chev en ’n kanariegeel Peugeot-stasiewa met gras op die dak.
Die oudste wiele was ’n 1956 Wolseley van die broers Michael en Greg Cummings. Hulle het die ryding sonder werkende skokbrekers vir minder as R3000 gekoop en bloot nuwe bande opgesit. Op die sinkplaatpad het hy die stof uit elke liewe krakie uitgeskud. Dit was ook die goedkoopste kar, en buiten ’n pap band was dit die enigste voertuig wat geen probleme gehad het nie.
Verder was daar twee Mercedes-Benze (1971 280 S en 1981 200), ’n 1972 Chev Kommando, ’n 1976 Chev Constantia, ’n 1976 Datsun 300C, 1977 Ford Granada, 1978 Toyota Cressida-stasiewa, ’n 1976 Peugeot 404-stasiewa, ’n 1984 Mitsubishi Tredia en ’n 1966 Volvo 122S.
Ek is saam in relatiewe gemak, in ’n Land Cruiser-bakkie saam met Rohan Schoeman. Ons was die support crew en die enigste voertuig wat redelik vertroue gehad het dat ons nie teëspoed sou optel nie.
Agter die bakkie het ons ’n waentjie gesleep wat ’n kar sou kon laai as dit nodig sou wees. Daarop was ook ’n paar bokse skryfbehoeftes en klere wat by skole langs die pad uitgedeel moes word, ’n noodwiel vir elke kar, jerrykanne en gereedskap.

Dag 1: Kaapstad tot Calvinia
Ruimtemannetjies in die Karoo
Die eerste stilhouplek is die huis van die Suid-Afrikaanse tydrenlegende Sarel van der Merwe naby die Paarl. Hy skud net sy kop in ongeloof toe Ivan Britz en sy medebestuurder, Dirk Joubert, in hul safaripakke uit die Datsun 300C (Dustbin) uitklim. Hulle lyk kompleet soos eertydse eerste ministers.
Dis ’n aardige gesig. Twaalf rygoed vol kleurryke plakkers, sommige met temas soos die Blou Bulle, ’n Zefmobiel en die Witwolf met ’n paar kenmerke van ’n tydren-motor. En almal is gepak met alles wat ’n mens nodig het om vir ses dae te oorleef – van yskaste tot slaaprolle en opvou-tafels tot ’n branderplank. Jy sien nie aldag so iets nie. Nie eens as mense jou SuperVan noem nie.
Van daar af hou ons aan in die rigting van Ceres na ons eintlike beginpunt – die R355 Tankwa-Karoo-pad. Die pad is die langste, ononderbroke grondpad in Suid-Afrika. En die skalieklip op dié pad is berug daarvoor dat dit bande sny asof dit botter is. Ek verstaan nou hoekom die ouens op ekstra noodwiele op die sleepwa aangedring het.
Die konvooireëls is vroeg al deur Rieger van Rooyen, medebestuurder van Hermie Koen in Witwolf (die Volvo 122S), vasgelê. Hulle ry heel voor en ons, die support crew, ry heel agter. En as jy iemand oor die radio wil roep, gebruik jy die kar se naam. Witwolf, Dustbin, Red Barron, The Undertaker – dit klink kompleet asof ons oorlog toe gaan…
Bl. 2 | Kaapstad tot Calvinia

Sputnik (die Mitsubishi Tredia) se stert hang behoorlik laag van die las wat hy moet dra. Skaars 50 km langs die 208 km lange grondpad af sny ’n skerp klip ’n gat in sy petroltenk en die petrol stoom uit.
Teen dié tyd is die konvooi al redelik uitgerek. Ek stuur die boodskap oor die radio vorentoe: “Witwolf, Witwolf kom in. Sputnik lek petrol, soos ’n sif. Ons trek af om reg te maak.”
Kort voor lank staan al die karre langs die grondpad en die deelnemers bekyk die petalje. Rohan en die Sputnik-span (Jos Hartog, Vernon Parkins en Michael White), kompleet met gasmaskers en wit oorpakke om soos ruimtemannetjies te lyk, probeer plan maak om die lek te stop.
Drie uur later, nadat almal gebraai het, ’n familie van Pretoria stilgehou het om die spektakel gade te slaan, Sputnik se lek gestop is met Pratley Putty, en elke kar ’n kleurblerts of drie van ’n paintball-geweer bygekry het, val ons weer in die pad.
Ons vorder nie ver nie voordat die Gazelle die volgende slagoffer word: die eerste pap band. Terloops, dié Ford Granada het ’n koelboks in die plek van die voorste passasiersitplek – alle passasiers sit maar op die agterste sitplek.
In ’n japtrap is die wiel omgeruil en die konvooi beweeg weer, net om 100 m verder weer eens tot stilstand te stotter toe Neelsie (die 1956 Wolseley), ook ’n pap band kry. Ek en Rohan het nog nie eens behoorlik stilgehou nie toe’s die wiel omgeruil. Die Cummings-broers mors nie tyd nie en behoort vir ’n Formule 1-ondersteuningspan ’n toertjie of twee te kan wys.
Die son begin laag sak op die vroeë wintersmiddag in die Tankwa-Karoo en ná sononder trek ons uiteindelik laer in Calvinia se karavaanpark – sonder verdere voorvalle of pap bande.
Gelukkig maak ons nie vanaand self kos nie – die ouens van Hantam-vleis op Calvinia braai vir ons karooskaap en almal redekawel en spog tot laatnag oor die sterk punte van hulle onderskeie voertuie. Môre is die groot dag op Verneukpan waar groot eise aan bestuurder en voertuig gestel gaan word. Môre is die dag waarop jy jou staal kan wys.
Bl. 3 | Calvinia tot Verneukpan
Dag 2: Calvinia tot Verneukpan
Dit was die plan…

Die kompetisie tussen die verskillende spanne was al in die beplanningsfase van die projek vuurwarm. Vooraf moes elke span ’n voorstel maak vir ’n uitdaging – ’n soort klein kompetisie.
Eerste aan die beurt op ’n vars Calvinia-oggend is die bokdrolspoegkompetisie. Span Witwolf se Hermie en Rieger stap uiteindelik elk met ’n splinternuwe sonbril weg as wenprys.
Omdat baie Noord-Kaapse gemeenskappe dit nie breed het nie, het die organiseerders beplan om ’n bydrae te maak aan die mense wie se dorpe ons besoek. Vooraf is geld ingesamel vir onder meer klere, skryfbehoeftes en sporttoerusting.
Ons doen eerste aan by die Laerskool Hantam in Calvinia. Honderde skoolkinders wag ons in. Die dank is opreg en hier en daar skiet ’n volgroeide man se oë vol trane. Maar dit word toegeskryf aan ’n “onverklaarbare stofwolk oor die rugbyveld”.
Hantam-vleis volg gisteraand se bul-aandete op met ’n opstopper-ontbyt en net voor elfuur trek ons weg uit Calvinia op die R27 in die rigting van Brandvlei. Die paar karre wat oornag ’n “tegniese probleempie” of twee opge
tel het, is ook weer aan die rol en die moreel is hoog.
Op Brandvlei word eers volgemaak en moed geskep by die Windpomp-kroeg voor ons die grondpad aandurf tot op Verneukpan. Die plan is om net ná drieuur aan te kom en voor sononder nog ’n paar uitdagings af te handel.

Die Pikswart Chev Constantia van Heinrich Siepker (Siepie) en Gideon Pienaar (Giepie) was vanmelewe se tyd ’n lykswa. Vandaar sy naam The Undertaker. ’n Klein wit kissie bo-op die dak (daar is agterin die stasiewa bed gemaak) dien as koelkas.
Toe The Undertaker sowat 40 km voor Verneukpan ’n klein misverstand met ’n driffie het, is ons kans om die pan voor sononder te bereik daarmee heen. Die linkervoorwiel se stuurarm is mors-af en die Chev se kans op spoedige herstel is skraal.
“Die een se dood is die ander se brood,” verkondig ’n plakker op die linkermodderskerm bo die lam voorwiel. Nie een lid van die groep laat die kans verbygaan om hierna te verwys nie. Giepie en Siepie lag ook saam, maar eers later toe die ontsteltenis die wyk neem.
Ek en Rohan laat die konvooi agter en stoot deur Verneukpan toe. Dis ’n slegte pad met baie plaashekke wat ek moet oop- en toemaak. Op die pan laai ons alles van die waentjie af en draai terug om die mank Chev te gaan oplaai. Die Dustbin, Neelsie en die Red Barron (Craig Sharland se 1971 Mercedes), is ook reeds op die pan en hulle help aflaai.
Ons hou darem vir ’n oomblik in verwondering stil om die sonsondergang oor Verneukpan te waardeer. In diep skemer stoot ons The Undertaker met ’n gespartel op die waentjie en kruie terug tot op die pan.
Mettertyd ontspan almal en gesels opgewonde oor als wat môre op die pan moet gebeur: drag racing, truratresies, gholfkompetisie, chicane¬-resies, handrem-draaie…
Bl. 4 | Verneukpan tot Keimoes
Dag 3: Verneukpan tot Keimoes
Blou Bulle, gholfballe en spoed op die pan

Verneukpan is ’n plek waar vele landspoedrekords al nagestreef is. Sir Malcolm Campbell in sy Bluebird is seker die bekendste. Hy’t die wêreldrekord in 1929 probeer klop – onsuksesvol. Vandag gaan karre ouer as 30 jaar ook vinnig ry – gelukkig baie stadiger as die 483 km/h waarna Campbell gestreef het.
Soos die son oor Verneukpan opkom, begin die manne ná die koue nag op die vlakte lewe kry. Later sak ’n ligte motreëntjie uit – as dit vandag hard hier reën, is ons vas tot volgende somer! Gelukkig klaar dit gou op en ná elkeen ’n koffie inhet, val ons weg met die kompetisies.
Rohan en Giepie in die Cruiser is vroeg al met die kapot Undertaker agterop die sleepwa weg om hulp te soek.
Die eerste uitdaging is die spoedtoets. Die Gazelle (1977 Ford Granada) met sy V6 en Johan van Rooyen, Martin van Staden en Barend Thompson daarin, draf die 3 km lange baan die vinnigste kaf.
Volgende is die truratresies. Rudi van Rooyen en Jaco Buys in die Zefmobiel (’n goudgeel Toyota Cressida met pels op die instrumentepaneel en meer leopard-print bekleedsel as in Joan Collins se klerekas) stel glad nie daarin belang om die enjin te oorwerk nie. Hulle besluit om halfpad te stop toe dit hulle beurt is. Hulle gooi eers rustig ’n drankie en ry toe verder…
Die Cressida se kantspieëltjies hang in elk geval soos lamoortjies en Witwolf stap weer met die titel weg.
Die gholfkompetisie is volgende aan die beurt. Die klipharde grond maak dat ’n gholfballetjie net aanhou rol as hy geslaan is – nie ideaal as jy die naaste aan die pen wil wees nie. Die Gazelle se insittendes wen ook hierdie uitdaging en Johan skuif vol moed agter die stuur in vir die sperdraairesies (chicane). Maar die Ou Lady (’n 1981 Mercedes propvol Bloubul-ondersteuners) het ander planne. Dié keer is dit Pieter Prinsloo, Wihann Laufs en Koster Loggenberg wat met hul Bloubul-truie vir die wenfoto poseer.
Die laaste kompetisie voor ons die pad vat, is ’n drag-race met al die karre langs wat gelyk wegspring in ’n lang ry om kragte te meet. Die spoed en momentum van Betta (’n Chev Kommando) met Schalk Laubscher (dit was eens sy ma se kar) en Pieter Keyser agter die stuur, laat hulle eerste oor die lyn skiet. En so groet ons toe Verneukpan en val in die pad om The Undertaker te gaan soek.

Herman Lintvelt besit ’n algemene handelaar met ’n groot werf op Kenhardt. Toe Rohan en Giepie met die mank Undertaker by die vulstasie op Kenhardt vra wie hulle kan help, is hulle reguit hierheen gestuur. Herman het ’n passie vir Chevs en enige ou Chev waarop hy sy hande kan lê, sal hy met groot sorg restoureer.
Met The Undertaker se aankoms het hy hulle gaan wys waar hulle onderdele kan afhaal van ’n soortgelyke Chev wat in die veld staan, sy werkswinkels oopgesluit sodat hulle sy gereedskap kan gebruik en huis toe gegaan vir middagete.
Al wat hy wou aanvaar as betaling, was ’n bottel rooiwyn. The Undertaker het weer aangesluit by die konvooi onderweg na Keimoes. Ná donker kom ons aan by Die Punt-karavaanpark in Keimoes en slaan kamp op.
Bl. 5 | Keimoes tot Klein-Pella
Dag 4: Keimoes tot Klein-Pella
Julle sê dis ’n kortpad?

Van Keimoes af tot op Klein-Pella ry ons grotendeels teerpad op die N14, verby Kakamas tot op Pofadder. Eers is daar ’n vinnige stop by die bekende Pienk Padstal net buite Kakamas en ’n werkswinkel waar ’n gat of twee in van die rygoed se uitlaatpype reggemaak word.
Rohan kry ook die Red Barron se vergasser weer aan die rol.
Ons stop vinnig by die Augrabies-waterval voordat ons deurdruk na die Pofadder Hotel.
Nadat die laaste paar tenks volgemaak is, is die plan om koers te kies na Pella, waar ons nog klere en skryfbehoeftes wil uitdeel aan die skooltjie langs die Katolieke kerk.
En van hier af sal ons deurdruk tot in Klein-Pella waar ons van plan is om die aand te oornag. Dit behoort ’n redelik maklike rit te wees en ’n tasbare opgewondenheid heers oor die moontlikheid om vir die eerste keer voor sononder te kan kamp opslaan.
Op die grondpad tussen die N14 en Pella moedig die ouens mekaar heeltyd oor die radio aan om vet te gee: “Sputnik, maak los die handbriek!” “Jannie, Jannie, steek hom!”
By Pella aangekom, wag die onderwysers en ’n handjievol kinders al. Weer traan ’n paar oë voordat ons aanstaltes maak na Klein-Pella – die manne voel hulle wil volgende keer nóg meer doen vir die kinders.
Om by Klein-Pella uit te kom kan jy die grondpad terug na die N14 volg en net voor jy die teerpad kry, kan jy afdraai op ’n grondpad wat jou by dié klein nedersetting sal uitbring. Dis die maklike opsie.
Maar hier’s ook ’n kortpad – ’n tweespoorpad wat dié ompad uitsny en reguit tussen Pella en Klein-Pella loop. Die pad word gebruik om daagliks werkers na en van die dadelplantasies aan te ry. Maar dit word nie met 30 jaar oue skedonke gedoen nie…
Skaars 3 km op die tweespoorpaadjie begin dik sand ons vordering belemmer. Die Groot-Pellaberge skyn rooi in die laatmiddagson en die ou karre vorder stadig maar seker oor en deur die hindernisse, wat al erger raak soos ons aanry.
Wat begin het as ’n kortpad, word skielik ’n langpad. Die spul ou karre, wat beslis nie gekies is vir puik grondvryhoogte
nie, skraap verf en roes oor klippe af en moet teen opdraandes uitjaag vir genoeg momentum om bo te kom.
Dis stikdonker toe ’n ry liggies uiteindelik by Klein-Pella indraai. ’n Boer hou by ons stil en sê dat hy eers moes kom seker maak het of sy oë hom nie dalk verneuk nie: “Al wat ooit op daai pad deurkom, is plaasbakkies en perde! Hoe het julle dit reggekry?”
Met moeite oom, met moeite…
Ons moet weer ná donker kamp maak vir die aand.

Bl. 6 | Klein-Pella tot Clanwilliam
“Daar is ’n bottel brandewyn wat vermis word!” vertel Jannie du Toit met groot oë. Hy en sy vennoot, Jan Rabe, vermoed iemand steel hulle drank. Ek stap saam met hom na Geletjie, sy heldergeel Peugeot 404-stasiewa wat so volgelaai is daar is skaars plek vir ’n ekstra bottel brandewyn.
Die res van die groep hou die in- en uitpakkery van Geletjie al van dag een af met belangstelling dop. Hoe alles daar inkom, weet nugter alleen.
Op die dakrak pronk ’n stel koedoe- en gemsbokhorings en onder die dakrak lê ’n stuk sintetiese gras, om duistere redes. Bo-op die dakrak is ’n branderplank en ’n klomp ander bokse en houers vasgemaak. Binne-in die laairuim is daar genoeg batterye en omskakelaars om Kaapstad se liggies vir ’n week te laat brand.
Jy weet eenvoudig nie wat alles in Geletjie se chaotiese stelsel skuil nie. Dit is al op die eerste dag bewys toe iemand ’n emmer en pyp gesoek het om Sputnik se lekkende tenk te red. Jan het met groot gejuig ’n splinternuwe tuinslang en emmer uitgeruk.
Maar die kersie op die koek is die sekuriteitsligte wat Jannie my wys. Hulle reageer op beweging. “As iemand nou naby aan ons yskas kom, dan gaan die ligte vanself aan. So sal ons sien wie die brandewyndief is.”
Die volgende oggend is die vermiste bottel onder een van die sitplekke gekry…

Dag 5: Klein-Pella tot Clanwilliam
Ons gaan weer so maak
Nadat ons die laaste klere en inkleurkryte wat ons gehad het by ’n kleuterskooltjie op Klein-Pella uitgedeel het, pak ons die pad terug Pofadder toe. Dié keer vat ons die maklike pad N14 toe om ’n herhaling van die vorige aand te vermy. In Pofadder word Dustbin se stukkende petrolpomp vervang voordat ons die reguitste stuk grondpad wat ek al gesien het in die rigting van Kliprand pak.
Die pad hou langer as 150 km aan voor jy die eerste keer moet draai. Net voor Van Rhynsdorp sluit die pad by die N7 aan en ons ry verder tot op Clanwilliam.
Vanaand hou ons prysuitdeling in De Kelder op Clanwilliam en vir die eerste keer op die uitstappie trek ons in daglig laer in die kampeerplek by die Clanwilliam-dam. Die ouens slaan tent op en kan vir die eerste keer rustig raak in vyf dae.
Dit was ’n spektakel, en wat meer is, dis ’n spektakel wat hom gaan herhaal. Die reëlings vir volgende jaar se Bullrun word reeds bespreek – en Geletjie van Jan en Jannie “start homself glo skelm in die aand ” – reg vir volgende keer…






