Botswana | Laai die trokkie en kom!

Ek soen Frank Carlisle amper so bly is ek om hom Sondagaand tienuur by die Drifters-kamp op die oewer van die Boteti-rivier buite Maun te sien.
Ek is uiters verlig dat ons hier gekom het. Die afgelope vier uur het ek in die stikdonker my pad tussen duisende beeste en ’n spul donkies oopgevleg op die Trans-Kalahari-snelweg. Ons het die grootste Botswana-fout gemaak: om in die nag op die pad te wees.
Ek en Christiaan, my vierjarige seun, het rondom sesuur die laaste keer by Ghanzi petrol ingegooi. Net daarna het die son ondergegaan soos ’n lig wat afgeskakel is.
Ná ons ’n slapende donkie net-net gemis het, het ek stadiger begin ry, omtrent 70 km/h. Net daarna het ek so hittete ’n haas onsigbare kalf afgeskryf en toe bring ek maar die spoed af tot 50 km/h.
Ek glo dit ook nou: ekstra kolligte is nie net windgat bybehore nie …
Hier van Maun af ry ons tien dae lank saam met Frank (van Bhejane 4x4 Adventures) en 25 ander avonturiers in 11 voertuie om die delta.
Die groep het mekaar gister in die besige dorp Letlhakane, net suid van die Makgadikgadi-panne gekry, die aand by Kubu-eiland gekamp en vanoggend hierheen deurgery.
Herinner my volgende keer om nie in twee en ’n half dae uit die Kaap tot in Maun te ry nie. En as jy jou seuntjie saamvat, verduidelik tog voor die tyd vir hom presies hoe ver die Okavango is.
Christiaan het al op Worcester gevra: “Pappa, is ons amper daar?”
Maar nou ís ons hier, en môre ry ons tot in die hart van die Okavangodelta.
MAUN NA GUMA ISLAND LODGE (311 km)
In die waterwêreld
Christiaan se helder stemmetjie kom van die agtersitplek af. “Pappa, hoekom bons Spokie so?”
Ek is verbaas: “Wie’s Spokie?”
“My vriend.”
Ek is geskok: “Wat? Waar?”
“Agter in die bak.”
Nou’s ek verward: “Ek sien niemand nie.”
“Jy kan hom nie sien nie.”
Natuurlik … Spokie. Getrou aan sy naam.
’n Lomerige winterson bak op die mooi pad. Botswana se grootpaaie is ’n plesier om te ry. In die dag.
Die bosveld is geil en die beeste langs pad vet en blink.
Ons het by die dorp Sehitwa regs geswaai op die A35, teen die suidwestelike kant van die Okavango op.
Elke paar kilometer staan ’n Herero-vrou met laphooftooisel soos ’n standbeeld langs die pad. “As jy ’n foto neem sonder toestemming, kan sy jou met ’n baksteen gooi,” laat weet Frank op die radio.
’n Groot aantal Herero’s het meer as honderd jaar gelede voor die Duitsers uit Duits-Suidwes-Afrika hier na Ngamiland gevlug. Hulle’s vandag nog hier.
Naby die dorpie Gumare trek die konvooi onder ’n knoppie kameeldoringbome langs die pad in vir middagete. Dis die lekker ding van Botswana – jy kan enige plek in die breë, skoongemaakte strook langs die grootpad piekniek hou.
Ek hoor die kamp waarin ons die volgende twee aande slaap, Guma Island Lodge, is afgesny deur die vloede. Ons gaan sak en pak met mokoro’s (boomkano’s wat met ’n paal gestoot word) na die eiland vervoer word.
’n Uur ná middagete draai ons regs af op ’n sandpaadjie en skakel oor na 4x4. Die Hilux spin van tevredenheid – hy’t nou net 3 000 km se teer¬pad opgekou. Ons ry deur ’n 100 m breë stroom, wat driekwart teen die wiele opkom.
Inhoudsopgawe:
- Botswana | Laai die trokkie en kom!
- Bl 2 | Maun na Guma Island
- Bl 3 | Guma Island na Ngepi
- Bl 4 | Bwabwata en Mahango
- Bl 5 | Ngepi-Kamp na Kasane
- Bl 6 | Kasane na Kubu-eiland
- Bl 7 | Kamp feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Albertus, .....jy sal "maklik" en "goedkoop" die lewe laat deur so botswana te wil besoek. Dankie, egter, nou kan lesers waarneem hoe dit nie gedoen moet word nie
jy moet jou huiswerk doen voor jy Botsw toe gaan...anders soek jy jou dood en die van jou kinders. Dis nie n speelplek nie, ook nie vir 2 x 4's NIE!!
Pos nuwe kommentaar