Baviaanskloof | Deur die Vallei van die Bobbejane

Daar’s ’n legio redes om die Baviaanskloof (of die Kloof, soos die inwoners daarna verwys) te besoek. Hier’s Barnie Louw se 14 redes.
Iemand het op ’n keer gesê die beste manier om die Baviaanskloof tussen Willowmore en Patensie te beskryf, is om die Sani- en Bloukranspas saam te voeg, ’n stewige dosis van die Tsitsikamma en Krugerpark se natuurskoon by te roer, en ’n paar Herman Charles Bosman-karakters oor te strooi.
Dis waar, ja, maar moenie vergeet van die bobbejane, die “tiere” (die Kaapse bergluiperd), donkies, driffies, vloede, die ruimtes en rustigheid nie. Of die gevoel van afsondering, die gevoel dat dinge hier in die Kloof anders gedoen word nie.
Maar hoe jy ook al die Kloof wil beskryf, dis ’n vrek lekker plek – die vraag is nie óf jy moet gaan nie, maar wanneer.

Jou blitsgids tot die Kloof (van wes na oos)
Nuwekloofpas.
Dié skielike, diep skeur in rooi sandsteenkranse is die westelike ingang na die Kloof. Die destydse Model T-Fords moes glo in trurat hier uitgaan.
Uitspan.
Die enigste bandherstelplek in die Kloof is op dié plaas. Nico Smith is die man in beheer.
Rietrivier.
Boetie en Henriëtte Terblanche van Rietrivier Info kan jou alles oor die Kloof vertel.
Studtis.
Die geboorteplek van die Afrikaanse skrywer P.H. Nortjé. Sy boeke Voetpad se kloof en Die wildedruif val handel oor die lief en leed van die Klowers. Sy geboortehuis is nog daar: groot, leeg en verlate.

Kleinpoort.
Oom Lukas en tannie Aletta Smit se Kleinpoort Handelaar is die enigste winkel in die Kloof om van te praat. Daar’s ook ’n drankwinkel en petrolpompe (onthou, hulle verkoop net gelode petrol).
Zandvlakte.
Op dié plaas – min of meer in die middel van die Kloof – het adv. J.G. Strijdom, destydse eerste minister, grootgeword. Eerw. Alan Hendrickse se pa het in 1935 ’n Kongregasionalistiese kerk daar gestig. Die bewaringsgebied begin net hierna.
Geelhoutbos.
Dié gewilde kampplek tussen witstinkhoutbome, wildevye en outenikwageelhoute is tans gesluit vir opknappingswerk. Hiervandaan word die pad al slegter.
Grasnekpas.
As jy bo-op dié makke-rige pas staan, kry jy ’n goeie aan-duiding van die wildheid en ongereptheid van die Kloof.
Smitskraal.
Dié piekniekplek het nie werklik geriewe om van te praat nie. Net hierna is gewoonlik ’n lang rivierkruising – pasop vir die gate in die sementspore onder die water.
Rooihoek.
Waarskynlik een van die indrukwekkendste kampplekke in Suid-Afrika; nie weens die geriewe nie (daar is nie), maar die ligging.
Doodsklip.
Die kort stukkie van Rooihoek na die Doodsklip-kampplek is goed stamperig. Die stuk anderkant Doodsklip tot by die Holgatpas is van die mooiste dele in die Kloof.
Holgatpas.
Die Holgatpas is lank, steil, nou en ongelyk, met erosieslote en klipbanke wat jou op jou tande laat kners – die Kloof se Sanipas. Maar van bo af het jy minstens ’n goeie uitsig.
Kabelspoor.
Bo-op die pas is daar ’n kabelspoor wat ’n boer in 1965 gebou het om voorraad oor ’n diep poort te kry in plaas daarvan om die Holgatpas te gebruik.

Pisgoedvlakte/Bergplaas.
Op die Holgatpas is Pisgoedvlakte/Berg- plaas se gras- en fynbosplato so plat dat jy amper dink jy’s deur die Kloof. Terloops, “pisgoed” verwys na die bossie Euphorbia epicyparissias omdat dit glo blaasprobleme by vee veroorsaak.
Combrinkspas.
Dié senutergende pas wat jou in die Gamtoosvallei uitspoeg, is lank, kronkelrig en plek-plek sleg verspoel (die laaste stuk na Patensie is darem herstel). Die uitsig van bo af is oor drie bergreekse heen. Kyk hier veral na die droë messelwerk en broodbome in die diep ravyne.

Poortjies.
Die Combrinkspas daal af tot in dié Knysna-agtige poort met sy baie geelhoutbome en oumansbaard waar jy die Witrivier 12 keer oorsteek. Die pad raak nou weer al beter.
Grootrivierpoort.
Deur dié poort volg jy die loop van die Grootrivier. Dis indrukwekkend, maar nie soos in die Kloof self nie.
Komdomo.
Baie geluk! Jy is deur die Kloof.
Inhoudsopgawe:
- Baviaanskloof | Deur die Vallei van die Bobbejane
- Bl 2 | 1 - 5
- Bl 3 | 6 - 7
- Bl 4 | 8 - 11
- Bl 5 | 12 - 14
- Bl 6 | Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Ek wil graag weet of die Baviaanskloof met 'n motor rybaar is. Sal graag daardeur wil ry en die pas besigtig
Ek en vrou het Feb 09 daar deur gery vir die dag, wonderlik!!. Het myself belowe ek kom weer met vriende en vir 'n paar dae die keer. Ons wil die 4x4 roete vanaf kareedouw en deur steylerville 4x4 roete daarmee kombineer in 'n 8 form. Wie kan my meer info van so 'n trip gee? Veral die steydlerville stuk.
last night my father,who is getting on in years mentioned a stay in baviaans as a kid. his family roots are terblanche and nortjie any info would be welkomed
Ai ek het as kind hier by my oupa Hendrik en Ouma Lenie maale sonder tal gaan kuier(my ma se ouers) Toe was dit nog Bobbejaanskloof en was Studtis waar hulle geboer het, die "hoofstad" van die kloof - daar net so ent bo Oom Francios Nortje se winkel. Die aangenaamste herineringe van my kinderjare koppel ek aan hierdie Kloof en sy mense. Die hele lot het elke einde van die jaar in die Kouga gaan palings vang! vermoed dis daar in die Rooihoek omgewing rond.
be-oog om binnekort weer om 'n nostalgie trippie te gaan, maar dis maar net nooit dieselfde as wat nog in jou kop vassteek nie!
Pos nuwe kommentaar