Pin It

Angola | Tussen swart berge en die diepblou see


DO45_WR27_Angola-14

DO45_WR27_Angola-14  DO45_WR27_Angola-03

Die manjifieke Swart Rotse is iets wat baie mense na die noordweste van Angola lok. In die laaste van ons drie artikels oor dié land verken Dale Morris ’n massiewe grot en besoek een van Afrika se grootste watervalle.

“Jammer mense, ons moet omdraai,” laat hoor Martin le Roux, ons gids met die groot bosbaard, oor die tweerigtingradio. Ons is op pad na ’n besondere baaitjie waar ons vanaand wil kamp. “Vandat ek laas hier was, het die paadjie weggespoel. Ons moet terug snelweg toe en dan ’n ander pad soek.”

Martin het pas die konvooi van agt voertuie tot stilstand gebring en uit sy bakkie geklim. Ons is naby die dorpie Sumbe in die noordweste van die land.

Ook maar goed hy stop ons, want die pad, of wat daarvan oor is, verdwyn skielik in ’n spul hengse diep skeure en spoelslote in die aarde.

Gelukkig kry almal omgedraai op die steil en ongelyke terrein. Binne ’n halfuur kruie ons op ’n veel beter paadjie af see toe.

“Dié nuwe roete is waarskynlik die locals se handewerk,” sê Martin. “Wag net, julle gaan nou verstaan hoekom ek so bly is oor dié paadjie…”

En hy’s reg. Die versteekte strandjie waar ons groep uiteindelik kamp opslaan, is iets om oor huis toe te skryf. Enorme sandsteenkranse met lang parallele groewe toring oor die strand uit. Die kranse gloei helder oranje asof ’n lig van binne skyn, maar dis eintlik die werk van die bloedrooi son wat aan die ander kant in die Atlantiese Oseaan sak.

Rustige branders speel oor die sand en ’n warm bries kielie die vlamme van ons kampvuur.

Hier’s nie ’n siel in sig nie. Ons is rêrig stoksielalleen.

Bl. 2 | Die laaste been

Die laaste been

DO45_WR27_Angola-04

Dit is die tiende aand van ons reis oor 4 500 km en 18 dae deur Angola se westelike provinsies; ’n swerftog wat begin het by die Namibiese grensdorpie Ruacana en ons noord die binneland in en oor die Angolese hoogland geneem het tot by die hoofstad, Luanda, voordat ons al met die land se dorre kusgebied suidwaarts is.

Voor ek Angola toe gekom het, sou ek nooit kon raai ek sou nog oor dié land praat asof dit ’n soort paradys is nie. Die plek het immers relatief onlangs eers op die been begin kom ná meer as drie dekades se bloedige oorlog. Maar ná drie weke in ’n 4×4-konvooi het ek soveel besondere plekke gesien, soveel uitsonderlike uitsigte en soveel dramatiese kontraste beleef dat ek nou bekeer is.

Oor party van dié besondere plekke in die suidwestelike en sentraal-westelike streke het ek in die eerste twee aflewerings (sien WegRy #25 en #26) van ons Angola-reeks geskryf. In hierdie deel, die slotaflewering, ry ons weer eens ’n sirkelroete deur die noordwestelike provinsies van dié land wat so selde besoek word.

Dié slag begin ons by ’n vaal binnelandse dorp – Alto Hama. Dit lê presies waar die snelweë van noord-suid en oos-wes kruis – 930 km van die Oshikango-grens met Namibië en omtrent 250 km van die kus af.

Die roete loop 570 km noordwes op ’n splinternuwe snelweg wat deur die Chinese gebou is, tot by die kus en die hoofstad, Luanda. Daar draai ons suid en ry 460 km al langs Angola se dorre kusgebied voordat ons uitkom by die hoofsnelweg tussen oos en wes (wat die bedrywige kusdorp Lobito weer met Alto Hama verbind).

Op die pad het ons digte reënwoude gesien, golwende groen heuwels, tropiese donderstorms en eienaardige kulture. Daar was ook indrukwekkende watervalle, vreemde rotsformasies, ’n diep spelonk, skeepswrakke, lieflike strande en dorre woestynvlaktes.

Bl. 3 | ‘Spitzkoppe’

Angola se ‘Spitzkoppe’

DO45_WR27_Angola-06

Noord van Alto Hama is dit grasgroen en welig so ver die oog kan sien. Dis boswêreld hierdie, met tussenin grasgroen gesaaides op ’n roesrooi aarde. Yslike granietberge rys op na die donker, tropiese hemel.

As jy al by die Spitzkoppe in Namibië was, of die Yosemite Nasionale Park in Amerika, sal jy ’n idee hê hoe steil, strak en imposant hierdie berge is. Terwyl ons ry, hang ek omtrent al die pad by die venster uit om genoeg te probeer kry van die ongelooflike natuurskoon rondom ons.

Daardie middag ry ons deur die dorpie Uaco Cungo met sy vervalle kerke en Portugese huise. Die dakke is almal af en die fasades ontsier deur graffiti en koeëlgate. Meer as 30 jaar se oorlog het sy merk gelaat op die meeste van Angola se geboue.

Ons kamp die aand in ’n gruisgat net buite die dorp en word in die oggend wakker van ’n leërskare kinders om die kamp. Hulle verkyk hulle aan ons tente, kos en toerusting – veral die kopflitse, GPS-toestelle, 12 V-yskaste en my kamera. Ons probeer hard met hulle kommunikeer maar gee uiteindelik moed op en groet. (Niemand in ons geselskap kon Portugees praat nie.)

Soos met die meeste groot snelweë in Angola is die pad waarop ons ry (die En180) meestal puik teerpad wat buitelandse kontrakteurs onlangs gebou het.

Ons stoot aan, maar omdat daar ’n paar diep slaggate is én roekelose Angolese bestuurders – die lorriedrywers is die ergste – vat ons dit rustig. Wie wil nou in elk geval jaag as jy deur sulke berge omring word?

Sowat 80 km verder kom ons by Quibala, met sy mengsel van moderne, siellose geboue en vervalle Portugese geboue. In die buitewyke van die dorp sien ons bo-op ’n granietrots ’n ou Portugese fort, ’n herinnering aan die koloniale heerskappy.

Anderkant Quibala verdwyn die granietberge en sommer ook die plaaslike mense langs die pad – die volgende 185 km sien ons g’n enkele siel nie, net hier en daar ’n modderhut en ’n eensame hoenderhaan.

Maar ons sien mooi gesonde kremetartbome vol groen blaartjies en trappe van houtpaaltjies wat om die massiewe stam spiraal.

DO45_WR27_Angola-09

“Kan julle glo die mense klim teen daai paaltjies op om by die kremetart se vrugte uit te kom?” sê Martin. “Dit lyk vir my vrek gevaarlik. Wat dink julle?”

Ja-nee wragtig, maar ek reken vir die gemiddelde Angolees wat al die koeëls en landmyne van ’n jare lange burgeroorlog oorleef het, is ’n loodregte klim teen ’n tienverdieping-boom seker kinderspeletjies.

Later, na ons die splinternuwe brug oor die Cuanzarivier oorgesteek het, kom ons in Dondo aan. Dis nou ’n regte gatplek. Dis ’n dorp, maar dit het die sjarme van ’n vullishoop (met omtrent net soveel vullis!).

Terwyl die res van die konvooi hul voertuie volmaak en ’n draai loop, loop ek ’n outjie raak wat kremetartvrugte verkoop. Hy dra dit in ’n staalbak wat hy op sy kop balanseer.

Ek koop een en proe dit. Dit smaak soos polistireen. Nee wat, gee my eerder ’n mango.

Van Dondo af vat ons oor N’dalantando ’n ompad oos, weer op ’n goeie pad wat jou deur ’n hele paar polisieblokkades neem. Hier probeer die manne in uniform kliphard om fout te vind met ons papierwerk.

Danksy een van vele namiddag-donderstorms wat my onkant betrap het, is my paspoort effens klam – en die amptenaar sien dadelik die kans om ’n paar rand uit my te melk.

“Ons het ’n probleem,” sê hy. Maar ek reageer ferm: “Nee, ons het nie.” En tot my groot verbasing los hy my. Ek leun by die venster uit, gryp my paspoort uit sy hand, gee hom die vriendelikste glimlag in my arsena
al en wens hom alles van die beste toe met die stortvloed toeriste wat Angola binnekort gaan tref.

“Die owerhede word elke jaar ’n bietjie beter,” sê Martin. “Ek dink hulle het van bo af opdrag gekry om mooier te werk met toeriste.

Ons ry ’n paar bergpasse deur die oorblyfsels van digte tropiese woude. Oral langs die pad verkoop mense tropiese vrugte. Een ou probeer selfs ’n wildsbokkie verkoop onder ’n piesangblaardak.

Omtrent 205 km verder, op ’n pad besaai met uitgebrande motorwrakke (het ek al gesê die Angolese se bestuursvernuf is onder verdenking?) kom ons by die dorpie Lombe uit. Van hier af is dit weer ’n 50 km-ompad noord op ’n blinkgladde Chinese teerpad tot by die skouspelagtige Kalandula-waterval, op twee na die grootste in Afrika.

’n Donderdende breë muur water brul oor die lip van ’n loodregte krans en stort 104 m na benede. Dit maak etlike reënboë oor die breedte van die kloof. Koel miswolke styg deur die woud se dak.

Ongelukkig het ons nie baie tyd om ons aan die waterval te verwonder nie – of aan die mooi meisies wat in hul bikini’s in die waterval se plonspoel baljaar nie – want binne ’n kwartier nadat ons hier aangekom het, bars ’n hewige donderstorm los. Almal van ons is deurdrenk.

Ons kamp vanaand weer in ’n klam gruisgat langs die pad en hoop die weer is môre-oggend beter.

DO45_WR27_Angola-12

Bl. 4 | Vreemde Swart Rotse

Vreemde Swart Rotse

DO45_WR27_Angola-05

Ons gebede word verhoor – die volgende oggend word ons onder ’n helderblou hemel wakker. ’n Ligte mis hang in die blaredak van die miombo-bosveld waarin ons kamp. Tropiese voëls fladder in die takke.

Teen die tyd dat ons die pad vat na die Pedras Negras (Swart Rotse), het die mis al verdwyn.

Ons ry vir 10 km op ’n tweespoorpaadjie tussen die gitswart granietkoepels wat weerskante van ons uittroon – party tot 400 m hoog. Van die formasies lyk soos jellievorms en ander soos vingers wat die lug in wys. Tussenin lê lappies lieflike reënwoud met kremetartbome wat uittoring.

Ons bly lank op die sirkelpaadjie wat tussen die Swart Rotse kronkel. ’n Mens kan dit nie help nie. Ons stap teen een van die groter koppe op en word beloon met ’n ongelooflike uitsig oor dié bisarre landskap.

Uiteindelik ry ons terug op ons spore, heelpad tot by Dondo op die noord-suid-hoofsnelweg (die En180) en draai dan weer noordwes vir die laaste 180 km tot by Luanda. Die natuurskoon bly net uitsonderlik – ek het in my lewe nog nie soveel massiewe kremetarte gesien nie. Hier’s duisende van hulle al langs die snelweg.

In die middestad sit ons in die verkeer vas, maar dit gee ’n mens tyd om jou aan al die bouwerk te verwonder wat aan die gang is. Dis nogal iets om te beleef. Oral waar jy kyk, staan halfgeboude wolkekrabbers, met honderde hyskrane wat koorsagtig in die rondte draai.

DO45_WR27_Angola-10

Spanne padwerkers kap aan die padoppervlak, mense rig straatligte op, ander trek kragmaste regop. Voor jou oë sien jy die hergeboorte van ’n land wat vir dekades tot stilstand geruk is deur oorlog.

Maar Luanda is sekerlik ook een van die moeilikste plekke ter wêreld om te bestuur. Groot lorries maak sommer ’n U-draai in die middel van ’n breë snelweg, voertuie ry op sypaadjies, en ou karre en busse druk in by verkeer wat botstil staan. Jy sien hoe syspieëltjies afval, skrape verskyn.

Dis asof hier hoegenaamd geen reëls op die stad se paaie is nie, en dit lyk of baie min bestuurders enigsins weet hoe om te bestuur. Hulle weet waar die toeter sit, ja, maar as dit by die fyner kunsies van motorbestuur kom, goeters soos die korrekte gebruik van flikkerligte, die pedale en die stuurwiel, gaan dit maar oes.

Ek sit stokstyf en doodstil in die die passasiersitplek terwyl Martin ons voertuig saam met die res van die konvooi deur die chaos stuur. Elke nou en dan knyp ek my oë toe. Uiteindelik kom ons (en ons karspieëltjies!) in een stuk deur die verkeer.

Ons oornag in die middestad en gaan die volgende dag op kort uitstappies in die stad en omgewing. Die plek wat die grootste indruk op my maak, is die strand in die noordelike voorstede wat letterlik besaai is met skeepswrakke.

“Toe die Portugese koloniste in die jare sewentig uit Angola weggejaag is, het hulle eerder hul bote gesaboteer as om dit in die hande van die gepeupel te los,” vertel Martin.

En hulle het dit behoorlik gedoen. Hier’s tel tientalle bote – enigiets van ’n treilertjie tot ’n massiewe tenkskip. Dis ’n soort post-apokaliptiese begraafplaas vir skepe.

Ons maak ook ’n draai by ’n oorlogsgedenkteken vir die Angolese gewapende stryd en ’n paar mooi kerke wat bly staan het tussen die nuwe geboue van die middestad. Maar ’n stad bly maar ’n stad, en almal is verlig wanneer ons laatmiddag die pad vat.

Die aand slaan ons kamp op op ’n lieflike verlate strand suid van die stad, digby die grens van die Quicama Nasionale Park. Dis nogal ’n teenstelling met die waansinnige Luanda…

Die aand soek ons seeskilpaaie maar ons sien nie een nie. Ons sien darem hulle spore wat kruis en dwars oor die strand loop, amper soos dié van ’n tenk. Dit lyk of Angola darem nog ’n belangrike broeigebied is vir dié skaars seereptiele.

DO45_WR27_Angola-11

Bl. 5 | ’n Grot vol vlermuise!

’n Grot vol vlermuise!

DO45_WR27_Angola-02

Die volgende oggend, suidwaarts langs die kus, wag ’n heel ander landskap op ons as die berge waar ons pas vandaan kom.

Weg is die groenigheid en donderstorms. Dit maak plek vir dorre vlaktes en koffiekleurige stof. Hengse groot nabome reik hemelwaarts, waar nie ’n enkele wolkie in sig is nie.

Dit is hélwarm.

Die gestroopte Quicama Nasionale Park waardeur ons ry, lewer nóg mense nóg diere op. Dis Angola se enigste werkende nasionale park, maar hier’s geen teken van die groot getalle wild – waaronder olifante – wat in 2001 van Suid-Afrika en Botswana af hierheen gebring is nie. Operasie Noag se Ark was die grootste herbevolkingsprojek van sy soort ter wêreld.

Die koue Benguelastroom stroop die lug op dié strook Angolese kus glo van die meeste vog, en daarom reën dit omtrent nooit nie. Dinge lyk egter effens meer herbergsaam by Porto Amboim, 245 km suid van Luanda, waar honderde visserskano’s op die turkooiskleur baai ronddobber. Naby die strand lawe ons ons met koue bier in ’n kroeg omring deur palmbome.

Nadat ons deur die bedrywige, vuilerige dorpie Sumbe is, lei Martin ons die aand van die hoofpad af na die besondere baaitjie waaroor ek aan die begin van die artikel skryf. Dis ’n lieflike, rustige plekkie, en ek sou graag nog ’n dag of wat hier wou bly, sommer net om te ontspan of om in die helder vlak water te snorkelduik.

Maar ons hou by die skedule, en die volgende oggend vroeg is ons weer vort. Gelukkig het Martin vir ons suidoos van Sumbe nog ’n verrassing. Dié slag is dit nie ’n strand of ’n berg of ’n woud nie; dis die grootste grot wat ek in my lewe gesien het.

Ná ’n moeilike klimtog in ’n ruie vallei af stap ons by ’n grotbek in wat lag-lag 80 m hoog is. Binne val ligkolomme deur gate in die dak. Dit gee die plek die gewyde gevoel van ’n katedraal.

As dit nie was vir die dui
sende vlermuise wat bo ons kop in die rondte vlieg en die miljoene kakkerlakke wat op die grond rondskarrel nie, sou die plek my dalk kon oorrompel – ek sou gevra het dat ons ’n rukkie bly en ons middagete hier geniet.

Maar ek laat vaar die plan vinnig toe ’n dooie vlermuis my kop tref…

Dit vat ons ’n uur om die grot te verken. Toe ons by die ander kant uitkom, sien ek ’n bulderende stroom water in die grond verdwyn.

Die res van die dag ry ons deur dorre vlaktes en stowwerige bruin koppe. Doer in die ooste sien ons die Angolese hoogland en in die weste skitter die helderblou Atlantiese Oseaan.

DO45_WR27_Angola-13

Bl. 6 | Die swerftog eindig

Die einde van ’n swerftog

DO45_WR27_Angola-07

Om die sirkelroete van dié artikel te voltooi moet ’n mens oos mik, terug na Alto Hama toe. Dan kom jy 140 km suid van Sumbe en 28 km oos van Lobito by ’n kruising uit.

Dié pad klim stadig terug die hoogelande in. Jy los weer die woestyn agter jou vir oorgroeide koppe en stomende groen plato’s.

Altesame 210 km verder is jy terug by Alto Hama, waar jou reis begin het.

Ons groep het verder suid gereis, verby die kusstad Lobito, en meer as duisend kilometer verder tot by die Ruacana-grenspos.

Ek het Angola met ’n klompie vooropgestelde idees besoek: Ek het ’n gehawende nasie verwag wat nog die gevolge dra van die oorlog en die gepaardgaande ekonomiese verwoesting.

Maar ek het ’n land gesien wat weer sy voete vind. Die mense is vriendelik, die snelweë en ander groot paaie is meestal herbou en die roetes wat ons gery het, is omtrent alles skoongemaak van landmyne. Dis moeilik om vir mense te vertel hoe uiteenlopend die ervarings is wat jy beleef.

Toe ons Angola binnegekom het, het ek vir myself gesê ek moet net fokus om in een stuk te bly tot ons weer hier uitkom. Maar Angola het my oorrompel. Dié plek sien my sommer gou weer.

Bl. 7 | Ek wil ook gaan!

Vinnige feite

Beste tyd: Heeljaar
Bly minstens: 7 dae
Ervaar: ’n Uiteenlopende land, vriendelike mense, lieflike watervalle, verlate strande en idrukwekkende berge.
Klink soos ’n boffin: Die Kalandula-waterval is op twee na die hoogste in Afrika – altesame 104 m.

DO45_WR27_Angola-01

Ek wil ook gaan!

Hoe kom ek by die beginpunt? Hoewel die pad van die Oshikango-grenspos af vir 500 km goeie teerpad is – heelpad tot by Lubango – is dit raadsaam om eerder die grens by Ruacana of Calueque oor te steek. Omdat Oshikango die hoofgrenspos tussen Namibië en Angola is, is dit ’n nagmerrie – jy kan tot ses uur wag om deur te kom. Alto Hama is 930 km van Oshikango af op ’n netjiese teerpad.

Wat kan ek hier sien en doen?
Maak ’n draai by die lieflike Kalandula-waterval; verken die vreemde, fantastiese Swart Rotse; ervaar die dolheid van Luanda; en kyk na die skeepswrakke wat aan die kus gesaai lê.

Beste tyd om te gaan? Die reënseisoen (November tot April), wanneer die hoogland se watervalle in volle vloed is; en die droë seisoen (Mei tot vroeg November), om die kontras te sien (en om makliker te bestuur).

Hoe lank is die reis? Jy gaan minstens 9 dae nodig hê vir hierdie sirkelroete, maar sit eerder 12 dae opsy. Jy gaan 2-3 dae nodig hê om van die grens af by Alto Hama uit te kom, en dan nog 5 tot 7 dae om die wêreld te verken plus 2-3 dae terug grens toe.

Op watter soorte terrein sal ek ry? Meestal op goeie teer, maar as jy enigsins van die snelweë afdraai, is dit 4×4-wêreld.

4×4 of 4×2? Jy het ’n 4×4 nodig om by van die vissersdorpies en boskampe uit te kom as jy van die snelweg afdraai.

Wat moet ek saamvat? Ingevoerde produkte is baie duur in Angola. Bring jou eie blikkieskos en koffie, maar koop gerus vars produkte by die plaaslike mark – dis lekker goedkoop.
Wees ook op die uitkyk vir die Unicef-putte (met ’n handpomp) wat ’n mens op byna elke dorp en gehuggie kry. Die water hieruit is veilig om te drink.
Koop houtskool en hout by enige van die smouse langs die paaie.
Bring jou Garmin-GPS saam met die Tracks4Africa-kaarte daarop gelaai – daarop word al die hoogtepunte vir jou aangedui.
MapStudio het ’n baie nuttige kaart van Angola wat ek met groot vrymoedigheid aanbeveel.

Hoeveel brandstof moet ek saamry? Vulstasies is volop langs die hoofroetes en op elke dorp.

Kan ek alleen gaan? Angola is nie vir sissies bedoel nie. As jy nie ervaring van reis in Afrika het nie, gebruik ’n gesoute toeroperateur met ervaring van Angola, want daar’s net te veel dinge wat kan verkeerd loop (swak infrastruktuur, geen reddingsdiens op die paaie nie, twyfelagtige polisie, landmyne en verdagte garnale).

Hoeveel kos die reis?
Live the Journey bied reise na Angola aan wat hierdie sirkelroete insluit. Afhangende van die grootte van die groep, kos dit tussen R800 en R1 000 per persoon per dag. Die prys sluit in ’n gids, 3 etes per dag, storte en chemiese toilette.

Waar bly ek? As jy saam met Live the Journey reis, in koepeltente. Anders as in Suid-Afrika kan jy omtrent enige plek langs die pad kamp sonder om vir jou lewe te vrees – mits jy ’n gids het. Sorg liefs dat jy weet waar daar nog landmyne is… (besoek die webwerf www.cnidah.gv.ao).

Moet ek bespreek? Vir Live the Journey, ja.

Het ek ’n visum nodig? Ja, en dit kan tot ses weke neem voordat jy dit kry. Jy het ’n uitnodigingsbrief nodig van ’n persoon of maatskappy in Angola. Jou toermaatskappy kan dit reël, óf vra ’n hotel waar jy van plan is om te bly.

Waar bespreek ek? Kontak Jurgens Schoeman van Live the Journey by 021 912 4090; info@livethejourney.co.za, www.livethejourney.co.za

DO45_WR27_Angola-08

Deel 1 | Goed, beter weste!

Deel 2 | Dans tussen woud en woestyn