Angola | Op ou spore

Net duskant ’n wankelrige staalbrug oor die Longarivier staan ’n tweetal olyfgroen Russiese T55-tenks, hul kanonlope oor die rivier gerig. Dit lyk of hulle net gou stilgehou het om bene te rek. Maar dis na-oorlogse Angola dié en hulle staan al jare hier.
Wrakke soos dié is ’n konstante herinnering aan die 27 jaar lange burgeroorlog wat in 2002 geëindig het. Soos die lang ry uitgebrande wrakke van ’n voorradekonvooi tussen Menongue en Cuito Cuanavale.
En die drie gepantserde troepedraers wat reg agter mekaar tot stilstand gekom het, elkeen uitgeskiet met ’n enkele skoot.
Ook vir ’n generasie Suid-Afrikaanse mans is Angola net ’n oorlogsherinnering. Baie se eerste ervaring van dié land was in die reënseisoen van 1975/’76 toe hulle deurgeloop het gedurende Operasie Savannah. En stortreën, modder en malariamuskiete getrotseer het.
Ek het onlangs op dié oorlogvoetspore teruggery om die plekke te besoek waar die SAW in hewige gevegte betrokke was: Cassinga, Cuito Cuanavale, Catengue, Ebo, Brug 14 … name waarmee ’n geslag soldate van 18, 19 jaar oud destyds vertroud was.
Maar ek het ook gegaan om die land se natuur te ervaar – en die berugte slegte paaie te pak.
Ons konvooi het Angola deur die bedrywige Santa Clara-grenspos ingegaan en daarna deur Ondjiva, Cuvelai, Cassinga, Cubango, Cuchi en Menongue tot by Cuito Cuanavale gery.
Van daar het ons noordwes deur Chitembo en Huambo tot by Quibala gery, waar ons omgedraai en kuslangs deur Sumbe en Lobito tot by Benguela is. Toe is ons Lubango toe, daarvandaan kus toe tussen Namibe en Tombua, en het drie weke later deur die stiller Calueque-grenspos teruggekeer.

Watter toeristegeriewe?

Groot dele van Angola is steeds ongerep. Dis ’n land van kontraste: Landskappe wissel van woestynvaal tot subtropiese groen, van Karookoppies tot blou granietberge, digte boswêreld tot grasvlaktes.
Jy ry deur kronkeldraaie in bergpasse, op tweespoorbospaadjies, paaie met hier en daar lappies teer, deur riviere en waterstrome en oor gelapte bruggies, maar ook op nuwe teerpaaie en oor moderne brûe.
Toeristegeriewe bestaan bykans nie en jy kan elke aand jou tent onder die sterre staan maak.
Angola vra geduld en vasbyt. Dis Les #1.
By die Santa Clara-grenspos is ons amper ses uur opgehou toe amptenare met ons visums “fout” gevind het.
Enkele meter buite die grensposhekke tref ons die eerste van duisende slaggate en ek besef: Dié toer gaan anders wees. Slaggate is oral, van skinkbord- tot kargrootte.
Om jou nie heeltemal te ontmoedig nie, kry jy nou en dan ’n goeie grond- of selfs uitstekende teerpad. So draai ons anderkant Ondjiva op ’n netjiese breë wit grondpad af waar ons die eerste tekens van die burgeroorlog teëkom – twee Russiese T54-tenks wat uitgeskiet is.

Ons wil Cassinga toe en draai later af op ’n bospaad-jie na Mupa. Dis ’n slegte tweespoorpad met spoelslote en poele modderwater. Ons ry verby gehuggies met ronde takhutte, en by almal wapper swart-en-rooi MPLA-vlae.
Hier is ons gemiddelde snelheid 20 km/h, en ek besef wat die ervare Angola-manne bedoel met Les #2: Hier meet jy nie afstand in kilometer nie, maar in ure.

By Cuvelai leer ek Les #3: In Angola is daar brûe en dan is daar dié wat net in naam brug is. Die ryvlak van die betonbrug oor die Cuvelai-rivier is só vol gate geskiet dis ’n wonder dit het nog nie ingestort nie. Die rivier is kniediep en ons ry eerder deur die water.
Ons is nou in die Huila-provinsie, steeds op ’n tweespoorpad deur die bosse. Rooi-en-wit strepe op boomstamme langs die pad waarsku dié is steeds landmynwêreld.
Tussenin is rooi bordjies met ’n wit skedel en die waarskuwing: Perigo Minas! (“Gevaar, myne!”).
Dis Les #4: Moenie van die paaie afdwaal nie.
Niemand weet waar die myne is nie, en daarvan kan die afbeenmense op krukke getuig.

Kommentare

goed gedoen laat n mens terug dink na jare der jare gelede toe jy daar was ,dit was goed gewees,maar tervergeefs.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association