Pin It
print

Angola | Dans tussen woud en woestyn


angola

Angola%20ABw Angola | Dans tussen woud en woestyn

Eers is die konvooi op die sentrale Angolese hoogland deur tropiese donderstorms getref en toe looi die son hulle in die laeveld al langs die weskus. In die tweede deel van sy reeks van drie artikels loer Dale Morris op ’n sirkelroete van 1300km in by die bouval van Jonas Savimbi se huis.

Kyk, ek is mal oor die natuur, en daarom het ek nooit gedink ek sal dit soveel geniet om deur Angola te reis nie. Die meeste diere in die land is  in die oorlog van 35 jaar doodgeskiet, opgeblaas, in strikke gevang, uitgehengel – waarna hulle in die mae van die land se mense beland het.

Tog het Angola steeds ’n merkwaardige verskeidenheid goed om te sien. Die mense is interessant en vriendelik, en ondanks die feit dat hulle al sedert 1975 onafhanklik is, is die invloed van die Portugese en die Katolieke Kerk nog steeds in hul kultuur en karakter duidelik. En die stede, hoewel dit chaoties en vervalle is, is lewendig, opwindend en verbasend veilig.

Die berge van die hoogland wemel van watervalle en mistige kranse; die noorde met sy nat rooigrond en tropiese woude voel soos die Kongo; en die dorre kusgebied in die weste laat dink jou aan Namibië.

Die see is turkoois, die strande ongerep, die hengel ongelooflik en die avonture in die veld (én op die paaie) puik.

Die meeste landmyne is verwyder, en as jy bang is jy loop jou vas in ’n stugge nasie wat deur geweld en oorlog verhard is, kan jy maar ontspan. Die Angolese met wie ek gepraat het, is van die gaafste, hartlikste mense wat ek nóg in Afrika teëgekom het.

Die eerste aflewering verlede maand in ons reeks oor Angola het gegaan oor ’n groep Suid-Afrikaanse toeriste wat in ’n konvooi van ses Toyota-4×4’s op ’n suidwestelike sirkelroete gery het. Ons het ’n draai gaan maak in die oorloggeteisterde suide, die Angolese hoogland en die groot Namibwoestyn waar enorme duine reguit in die Atlantiese Oseaan aftuimel.

Angola%202C Angola | Dans tussen woud en woestyn

Nou, in die tweede deel, ry ons nog ’n sirkelroete van sowat 1300km wat begin by Lubango, hoofstad van die provinsie Huíla in die Angolese hoogland, en deur die pragtige groen wêreld in ’n noordoostelike rigting binneland toe loop tot by die polsende stad Huambo.

Daarna kan jy van koers verander en op baie mooi nuwe snelweë wes mik kus toe, voordat jy op nog ’n paar chaotiese dorpe soos Benguela en Lobito afkom waar krotbuurte, geboue vol koeëlgate en splinternuwe bousels sy aan sy in idilliese baaitjies op pragtige strande staan.

Dan draai die roete suid en loop deur dorre wêreld. Maar dis steeds mooi: oranje kranse staan in ’n turkoois see en hier en daar versier ’n vissersdorpie die kuslyn.

Uiteindelik kom jy by die groot snelweg wat die ooste met die weste verbind, en mik dan oor die kronkelende Lebapas terug Lubango toe.

Lubango se strate wemel van mense met rooi, geel, blou, groen en pienk klere, terwyl Portugese advertensieborde en bouvallige koloniale geboue die Mediterreense invloed verklap.

Dié verhaal gaan oor die reis Lubango toe en terug. Dis ’n fassinerende sirkelroete waarvoor jy ’n goeie ses dae nodig het – selfs meer as jy langer by van die mooiste plekke wil vertoef.

Bl. 2 | Landmyn-roulette…

Landmyn-roulette…

Die mooi landskappe lyk op die eerste oggend van ons reis maar bra wasig in die swaar reën. So tussen die ruitveërs deur wat volspoed swiep-swiep, sien ons darem af en toe ’n deurdrenkte, wanhopige mens langs die pad. Gelukkig is dit in ’n tropiese gebied nie koud wanneer dit reën nie.

Martin le Roux, ons Namibies-gebore gids, leun vooroor in die Land Cruiser en kyk stip na die groot grys watermuur waardeur ons ry. Die begin van die reënseisoen is die beste tyd om Angola toe te kom, sê hy oor die tweerigtingradio vir die konvooi. “Die agterpaaie sal nog nie ’n modderbad wees nie, maar hopelik was daar al genoeg reën op die hoogland sodat die wêreld groen is en die watervalle afkom.”

Die En280, die hoofsnelweg van noord na suid uit die stad, is ’n goeie voorbeeld van hoe Angola sedert die einde van die burgeroorlog in 2002 ontwikkel het. Vir die eerste 250km of wat sien jy nie ’n enkele slaggat in die pad nie.

Uiteindelik, nadat ons deur ’n klompie deurdrenkte gehuggies vol modderbaksteenhuisies en die oorloggeteisterde dorpe Hoque, Cacula, Negola en Caconda is, kom ons af op ’n span mense langs die pad wat myne opruim.

Angola%202B Angola | Dans tussen woud en woestyn

Die voorman wys vir ons die toerusting wat hulle gebruik om van die land se landmyne – enigiets tussen 6 miljoen en 20 miljoen! – ontslae te raak.

Die MineWolf, ’n massiewe versterkte stootskraper, staan eenkant in die modder op swaar kruipbande. Die bestuurdershokkie, ’n klein koeëlvaste boksie, is verskans agter ’n reuse geboë metaalskerm.

Wanneer die voertuig vorentoe beweeg, swaai kettings met ’n gewig aan die punt rondom ’n staaf wat aan die voorkant hang. Die gewigte tref die grond met ’n slag en laat enige landmyne ontplof.

“Die skerm keer dat die bestuurder saam met die landmyn bokveld toe gaan,” vertel die voorman.

Ek vra om met die ou te praat wat die MineWolf dryf, maar hy’s nie daar nie. “Hy’t ’n vakansie nodig gehad – sy senuwees is óp,” sê die voorman.

Teen die tyd dat ons weer in die pad val, is die weer aansienlik beter. Storms is algemeen, maar hulle kom gewoonlik verwoed oor en verdwyn dan weer blitsvinnig in die fel gloed van die warm tropiese somerson.

In die dorpie Cusse slaan die stoom uit die pad en die vervalle modderbaksteenhuisies op – dit lyk kompleet of die hele plek brand.

Dis nogal heel gepas, dink ek, want as daar nou een plek is wat wys hoe vernietigend oorlog kan wees, dan is dit Cusse. Dit lyk of die skote gister nog hier geklap het. Net enkele van die geboue het nog vier mure wat staan, indien enige.

Aan die een kant van die pad wapper ’n verflenterde Unita-vlag liggies in die klam mistigheid – ’n haan wat kraai voor ’n bloedrooi sonsopkoms – terwyl die embleem van die MPLA, ’n rooi-en-swart vlag met ’n geel ster in die middel, verlep aan ’n telefoonpaal aan die ander kant hang.

En om by te dra tot die gevoel van absolute verwoesting, verander die gladde teerpad van die En280 kort voor die dorp se buitewyke in ’n modderige netwerk van grondpaadjies en slaggate so groot soos visdamme.

Angola%202E Angola | Dans tussen woud en woestyn

“Die paaie kan nie herstel word voordat die mynveërs klaar is nie,” sê Martin. “En die ontmyningsproses in dié streek het maar pas begin.”

Dié middag slaan ons kamp op in die veld langs die pad. Die res van die aand roer ek nie in my kampstoel langs die vuur nie. Die MineWolf het nog nie hier kom draai nie en hierdie was een van Unita se vestings. Ek sal verbaas wees as daar nie ’n paar verrassings onder die grond skuil nie.

Bl. 3 | Oor ’n lendelam brug

Kruip-kruip oor ’n lendelam brug

Die volgende oggend vat ons die pad (as mens dit ’n pad kan noem…) vir nog 60 moeisame, modderige kilometers.

Ons ry verby etlike uitgebrande lorriewrakke wat net daar gelos is en in die bloedrooi modder staan en wegroes.

Die hoogtepunt van die oggend is toe ons tussen Catata Nova en Cuima oor ’n taamlik groot staal-en-houtbrug moet ry wat baie duidelik in die konflikjare deurgeloop het. Van die pilare en stutpale is gebuig en opgelig, terwyl een hele stuk onder die hoofstruktuur afgebreek en in die rivier geval het!

Ek staan eenkant, op ’n afstand wa
t vir my veilig voel, en kyk hoe ons konvooi oor die brug ry – terwyl stukke metaal en hout soos herfsblare uit die brug neerreën.

Die landskap waardeur ons vandag ry, is tropies en welig: groen gras, rooi grond en oral om ons bome.

Ons ry ’n ou bloekomplantasie binne waar Unita volgens Martin altyd weggekruip het. “Die rebelle kon onder die blaredak skuil van die vliegtuie, maar dit het hulle ook beskerm as die bomme val, want die bomme sou ontplof as dit die takke eerste tref, vóór dit op die grond beland.”

Waar jy ook al kyk in dié deel van Angola, sien jy skimme van die oorlog. Selfs in die bome.

Teen die tyd dat ons die vuilerige dorpie Caala binnery, is daar nie meer sprake van slaggate nie. Die teerpad is nou weer baie goed. Daarvoor kan ons die Chinese bedank. Hulle is fluks besig om Angola te herbou, en ons het ’n hele paar Chinese padwerkspanne gesien wat hard aan die swoeg is – met ’n leërskare kinders wat help.

Op Caala ry ons ’n draai teen ’n heuwel op na waar die mooiste kerkie oor die dorp waghou. Mense kniel aan die voet van ’n piepklein altaar om te bid, en reg rondom ons troon enorme granietkoppies uit oor die uitgestrekte smaraggroen Huamboplato doer onder.

Van hier af lyk Angola fantasties – selfs die paaie wat met kinderarbeid gebou is en die verrinneweerde stede…

Die volgende plek
waar ons aangaan, is die stad Huambo. Hoewel jy talle groot fabrieke leeg sien staan, tot stilstand geruk deur die oorlog, sien jy ook baie nuwe geboue. Huise en woonstelblokke wat met mortiere bestook is, staan sy aan sy met splinternuwe ontwikkelings.

In Huambo voel ’n mens as ’t ware die vordering – die middestad krioel van bouspanne wat paaie regmaak, geboue oprig en gate opvul.

Naby die sakekern maak ons ’n draai by die huis van die ontslape Unita-leier Jonas Savimbi – ’n ware ou herehuis in die koloniale styl, maar flenters geskiet.

Die mure wat nog staan, is oortrek met graffiti. Oral sit koeëlgate, en die dak het al meegegee. Die enigste ding wat nog heel is, is ’n indrukwekkende spiraaltrap… wat behoorlik besmeer is met menslike ontlasting.

Angola%202F Angola | Dans tussen woud en woestyn

“MPLA-troepe het kort nadat Savimbi in 2002 doodgeskiet is, hiernatoe gekom en sy gesinshuis verwoes,” vertel Martin.

Nadat ons suutjies getrap het in die mynveld van menslike uitskot wat eens op ’n tyd Savimbi se huis was, ry ons nog 70km op ’n vlekkelose teerpad deur ’n golwende groen landskap tot op die dorpie Alto Hama.

Dis hier waar jy die aansluiting kry na Angola se hoofsnelweg tussen oos en wes – ’n puik teerpad wat van die En280 vertak, deur ’n pragtige berglandskap en dan deur die dorre laeveld loop, en uiteindelik sowat 230km verder by die hawedorp Lobito uitkom. (Op ons drie weke lange Angolese reis van Ruacana af het ons van Alto Hama af noord gery en by Lobito uitgekom by die sirkelroete, wat hier beskryf word.)

Ná die welige groen hoogland en tropiese donderstorms is die droë wêreld van die laeveld en kusgebied vol stof, rotse, sand en struike.

Die stad Lobito het drie gesigte – die krotbuurte waar mense in beknopte modderbaksteenhuise met sinkdakke basies bo-op ’n vullishoop ’n bestaan voer; die stowwerige middestad met sy ongeverfde geboue wat ’n mens onwillekeurig aan Irak laat dink; en die Goue Myl, ’n gesogte kusbuurt met groot ou palmbome en kasarms van Portugese huise wat leeg staan.

Vanaand kamp ons op ’n sanderige skiereiland aan die punt van die Goue Myl, en aandete is pizza by een van die restaurante op die strand.

Bl. 4 | Skeepswrakke

Skeepswrakke en ’n oase

Angola%202G Angola | Dans tussen woud en woestyn

Die volgende dag ry ons deur die effens netjieser Benguela, ’n dorp skaars 30km suid van Lobito. Hier maak ons ’n draai by ’n ou Amerikaanserige inryteater uit die jare sestig wat effens agteruitgegaan het… en ’n bewys is van hoe min dit hier aan die Angolese kus reën.

Die strandgebied is vol palmbome, met ’n hele klomp vervalle ou koloniale geboue. Maar wat ’n mens opval van Benguela én Lobito is dat hier geen oorlogskade te bespeur is nie.

Verder suid ry ons deur barre, bruin, dorre heuwels waar jy net hier en daar ’n benerige donkie sien. Ons ry ’n ompad see toe en gaan maak ’n draai in die pragtige Baia Farta (en nee, dit beteken nie die Baai van Wind nie, maar die Baai van Oorvloedigheid).

Die kus is ru en kaal, die see het die ongelooflikste asuurblou kleur, en die vlak water wemel van skeepswrakke. Toe die Portugese in hulle massas padgegee het tydens Angola se onafhanklikheidstryd, het hulle eerder hulle skepe laat sink as om dit in die hande van die “vyand” te laat beland, vertel Martin.

So tussen die kolossale wrakke van vissersbote en oorlogskepe baljaar kinders in die soel waters, terwyl hul ouers buite hul modderbaksteenhuise omsien na visse op droograkke.

Ons ry nog 50km of so suid, verby ’n dorre heuwellandskap soos wat ’n mens in Namibië kry, en dan bevind ons ons skielik in ’n warm, vogtige, lowergroen plek tussen massiewe palmbome.

Dis asof ons skielik in ’n heeltemal ander land aangekom het.

Ons is in Dombe Grande, ’n oase in die woestyn, kondig Martin aan. Boerdery hier floreer baie duidelik op ondergrondse water. Die dorpie is die vrolikste een wat ek nóg in Angola gesien het. Portugese geboue – platdakhuise van roustene met geboë vensters en houthortjies – is die algemeenste, en vir een keer is die bouwerk baie min verniel.

Palms en vye- en mangobome groei oral, terwyl straatsmouse in bont sari’s en kopdoeke heerlike vars mango’s, piesangs en pynappels verkoop.

Voordat ons verder ry, vertoef ons ’n rukkie by ’n verlate suikerfabriek. Dis ’n onheilspellende, post-apokaliptiese toneel met enorme masjinerie, pype en vate wat tjoepstil en dolleeg staan onder ’n spelonkagtige dak, terwyl ’n paar stowwerige sonstrale deur die stukkende ruite binnestroom.

Maar binnekort gaan die ratte sekerlik weer loop en dié fabriek gons met duisende werkers. Só is die pas van vooruitgang in Angola sedert die gewere stil geword het.

Ons is skaars uit die vallei van Dombe Grande of ons bevind ons weer in die dorre woestyn van Angola se kusstreek. Die pad verloor sy teerlagie en word ’n goeie breë grondpad, amper soos dié wat ’n mens in die Karoo kry.

Angola%202H Angola | Dans tussen woud en woestyn

Hoe verder suid jy gaan, hoe yler raak die plantegroei. Sommer gou ry ons deur ’n pure maanlandskap: net klippe en barre aarde waar jy kyk.

Ons ry oor die mak Bobbejaanspas, ’n goeie geskraapte pad wat oor ’n reeks lae rotsheuwels vleg. Dis deel van die grondpad tussen Dombe Grande en Santa Maria. “Skaars ’n jaar gelede was dié pad omtrent net klip en puin,” sê Martin oor die radio. “Jy’t ’n ernstige 4×4 nodig gehad om hier oor te kom, en jy moes weet wat jy doen agter daai 4×4 se stuur. Deesdae kan jy dit in ’n sedan ry – en teen volgende jaar behoort die hele stuk geteer te wees.”

Die nuwe paaie het heelwat van die avontuur om deur Angola te ry verlore laat gaan, maar daar’s steeds ’n hengse klomp goed te sien.

Die landskap rondom ons is kaal, verlate… die son bak ’n barshou. Hiér wil ek baie beslis nie alleen met my voertuig gaan staan nie.

Ons volgende oorslaapplek is ’n gawe klein baaitjie met die naam Santa Maria, en die skoonheid van die plek vergoed dubbel en dwars vir die moeite op die moeilike, stadige stuk 4×4-ompad van 12km – en 2km op die strand – tot hier.

Ons kamp vanaand op die strand. Party ouens probeer iets te ete uit die see trek, maar al wat byt, is die kleintjies.

 Angola | Dans tussen woud en woestyn rc=”http://www.wegry.co.za/sites/default/files/user539/Angola%202I.jpg” alt=”Angola 2I” title=”Angola 2I” height=”358″ width=”470″>

Spookkrappe skarrel tussen ons toerusting en dan voer die kalm branders my weg droomland toe.

Bl. 5 | So amper moleste…

So amper moleste…

Die volgende oggend gloei die omliggende heuwels en kranse in die oggendson. Die snorkelduik is heerlik en ek sien baie groot visse, krewe en oesters, maar bly eerder tjoepstil daaroor, want ek weet my reisgenote sal dadelik op hulle toeslaan.

Maar ek hoef my nie eintlik daaroor te kwel nie, want die res van die groep is besig om papierwerk uit te klaar met ’n polisieman in uniform wat – asof uit die niet – sy verskyning uit die woestyn gemaak het.

Sy vriend, ’n man wat swaar dra aan ’n outomatiese masjiengeweer en ’n belt vol granate, staan by ’n uitkykpunt agter ’n rots, langs die enigste toegangspad na die baai.

Die ouens ignoreer die polisieman se kwalik bedekte skimpe vir omkoopgeld, en uiteindelik laat hy ons gaan. Terwyl ons in ’n enkelgelid wegry, wuif ek vrolik vir die ou agter die rots. Hy glimlag maar net terug.

“Party van die amptenare het nog steeds daai oorlog-uitkyk,” sê Martin terwyl ons wegtrek, “en dis hoekom ek aanbeveel dat mense hier in ’n konvooi ry. Hoe meer mense, hoe skraler die kans dat iemand jou aan die neus gaan probeer rondlei.”

Almal beweeg mooi saam terug na die hoofsnelweg toe, en dan mik ons op ’n goeie grondpad suid na die vissersdorpie Lucira.

Angola%202K Angola | Dans tussen woud en woestyn

Die res van die dag vertoef ons by vissersgemeenskappies aan die kus, soos die een by Lucira, met mooi strande en helderblou waters en rooi klipkranse wat bo dit uittroon. Afgeleefde bote propvol vis hink in en uit die hawens, met swart rook wat uit die uitlaatpype borrel.

Die Portugese het ’n klompie vissershawens en visfabrieke al langs die woestynkus gebou wat nou deur die plaaslike gemeenskappe ingeneem is.

Ons stryk aan na Bentiaba, ’n oase 50km suid van Lucira in die middel van die woestyn. ’n Massiewe tronk sit reg in die middel van die gehuggie.

Een van ons stilhouplekke suid van Bentiaba is by Inamandango, ’n pragtige strandjie aan die einde van ’n droë rivier waar ’n klein gemeenskap die grootste oesters uithaal wat ek nóg gesien het. ’n Onbenullige bedrag geld word verwissel tussen die gaste van die konvooi en die vissermanne, en toe ek weer sien, kreun almal se 12V-yskaste onder die bokse oesters en kreef.

Vir my lyk dit nie na ’n volhoubare storie nie, maar dis seker maar die prys van vooruitgang, of hoe?

Angola%202J Angola | Dans tussen woud en woestyn

Ná nog sowat 100km oor kaal grondvlaktes, ongenaakbare koppies vol nabome en ’n landskap besaai met reuse sandsteenrotse, draai ons van die snelweg af en mik na ons stilhouplek vir die nag.

Ons slaan kamp op aan die kus tussen Baba en Mucio, twee dorpies reg op die rand van ’n koraalrif waar die woestynsand en die helderturkoois see bymekaarkom. Die manne probeer vergeefs visvang, en ek verkyk my aan ’n walvis wat stadig verbydryf.

Bl. 6 | Opskud, ouens!

Opskud, ouens!

Angola%202M Angola | Dans tussen woud en woestyn

Ongelukkig moet ’n mens soggens in die woestyn jou litte roer – jy kan nie in die woestynson staan en hanna-hanna nie. Ons pak blitsvinnig op en maak dan dat ons in die koelte van die karre se lugreëling kom.

Die grootste deel van die dag ry ons kuslangs op ’n tweespoorpad wat glad nie eens op die kaart is nie – verby klein vissersgemeenskappe en die grootse, ongerepte kusnatuurskoon. Sowat 50km verder kom ons uit by die hoofsnelweg van oos na wes tussen die stad Namibe aan die kus, en Lubango, die beginpunt van dié sirkel.

Van Namibe af kan jy terugry na die hoogland toe op ’n pragtige nuwe snelweg, weg van die woestyn af en met die Lebapas langs, ’n steil pad met ’n hele paar haarnaalddraaie.

Dis 140km se maklike bestuur deur ’n landskap wat heeltyd wissel van dorre vlaktes en droë berge, gevolg deur lowergroen voetheuwels, hemelhoë kranse, en, uiteindelik, die vriendelike, polsende Lubango.

Dis ’n fantastiese sirkelroete en jy sien ’n land wat self ’n baie belangrike kringloop voltooi het. Gehuggies, dorpe en stede wat voorheen die wonde van oorlog gedra het, het nou bedrywige sentrums van groei en snelle ontwikkeling geword. Maar op ander plekke, in die woestynlandskappe en skilderagtige vissersdorpies, is dit asof die tyd gaan stilstaan het.

Dis juis dié kontras wat Angola so fassinerend maak.

Angola%202N Angola | Dans tussen woud en woestyn

Bl. 7 | Vinnige feite

Vinnige feite

Beste tyd: Maart-September. Jy kan in die reënseisoen (November tot April) gaan wanneer die hoogland welig is, maar ook in die droë seisoen (Mei tot vroeg November).
Bly minstens: ’n Week
Ervaar: ’n Land wat dikwels misgekyk word as toerismebestemming; die natuurskoon is uiteenlopend en indrukwekkend – van tropiese berge tot ’n woestyn.
Klink soos ’n boffin: As jy dit laat groei, kan ’n oester 80 jaar of ouer raak en selfs langer as 36cm word. Oesters en kreef is nog volop beskikbaar langs die kus van die land omdat dit nie oorontwikkel is nie.

Ek wil ook gaan!

Hoe kom ek daar? Hoewel die pad van die Oshikango-grenspos af vir 500km goeie teerpad is – heelpad tot by Lubango – is dit raadsaam om eerder die grens by Ruacana of Calueque oor te steek. Omdat Oshikango die hoofgrenspos tussen Namibië en Angola is, is dit ’n nagmerrie – jy kan tot ses uur wag om deur te kom.

Wat kan ek daar sien en doen? Die hoogtepunt is om kuslangs deur die woestyn te ry en ’n draai te maak by die talle mooi vissersdorpies waarby ’n mens net met ’n 4×4 kan kom. Besoek die polsende stede Lubango (waar jy die Lebapas kan ry en na die Cristo Rei-standbeeld gaan kyk), Huambo, Lobito, Benguela en Namibe – elkeen het sy eie lewendige karakter.

Hoe lank is die reis? Gaan vir 10-12 dae, en ry dan ’n bietjie verder noord na Sumbe.
Op watter soorte terrein sal ek ry? Die hoofroete is teerpad, maar as jy by die kusdorpies kom, kan jy die wêreld op goeie grondpad of 4×4-paadjies verken. Naby Cusse is daar dele wat eintlik net ’n nare modderbad is.

4×4 of 4×2? Jy het ’n 4×4 nodig vir die toegangspaaie na van die vissersdorpies en om by ’n boskamp of wat uit te kom. Buiten die 60km naby Cusse is die hoofroetes almal met ’n sedan begaanbaar.

Wat moet ek saamvat? Ingevoerde goed is baie duur in Angola. Bring jou eie blikkieskos en koffie, maar koop gerus vars produkte by die plaaslike markte – dis lekker goedkoop. Wees ook op die uitkyk vir die Unicef-putte met die handpompe wat ’n mens op byna elke dorp en gehuggie kry. Die water hieruit is veilig om te drink. Koop houtskool en hout by enige van die smouse langs die paaie.

Hoeveel brandstof moet ek saamry? Vulstasies is volop langs die hoofroetes en op elke dorp.

Waar bly ek? As jy saam met Live the Journey reis, in koepeltentjies. Anders as in Suid-Afrika kan jy omtrent enige plek langs die pad kamp sonder om vir jou lewe te vrees – mits jy ’n gids het. Sorg dat jy weet waar daar nog landmyne is (besoek www.cnidah.gv.ao vir meer inligting).

Moet ek bespreek? Ja

Hoeveel kos die reis? Dit kos ±R10 000 vir ’n groep van 16 vir 10 dae. Die prys sluit in ’n gids, drie etes per dag, storte en chemiese
toilette.

Het ek ’n visum nodig? Ja, en dit kan tot ses weke neem voordat jy dit kry. Jy het ’n uitnodigingsbrief nodig van ’n persoon of maatskappy in Angola. Jou toermaatskappy kan dit reël, óf vra die hotel waar jy van plan is om te bly.

Waar bespreek ek? Kontak Jurgens Schoeman van Live the Journey by 021 912 4090; info@livethejourney.co.za; www.livethejourney.co.za

Angola%202O Angola | Dans tussen woud en woestyn

Deel 1 | Goed, beter weste!

Deel 3 | Tussen swart berge en die diepblou see