Angola | Dans tussen woud en woestyn

Eers is die konvooi op die sentrale Angolese hoogland deur tropiese donderstorms getref en toe looi die son hulle in die laeveld al langs die weskus. In die tweede deel van sy reeks van drie artikels loer Dale Morris op ’n sirkelroete van 1300km in by die bouval van Jonas Savimbi se huis.
Kyk, ek is mal oor die natuur, en daarom het ek nooit gedink ek sal dit soveel geniet om deur Angola te reis nie. Die meeste diere in die land is in die oorlog van 35 jaar doodgeskiet, opgeblaas, in strikke gevang, uitgehengel – waarna hulle in die mae van die land se mense beland het.
Tog het Angola steeds ’n merkwaardige verskeidenheid goed om te sien. Die mense is interessant en vriendelik, en ondanks die feit dat hulle al sedert 1975 onafhanklik is, is die invloed van die Portugese en die Katolieke Kerk nog steeds in hul kultuur en karakter duidelik. En die stede, hoewel dit chaoties en vervalle is, is lewendig, opwindend en verbasend veilig.
Die berge van die hoogland wemel van watervalle en mistige kranse; die noorde met sy nat rooigrond en tropiese woude voel soos die Kongo; en die dorre kusgebied in die weste laat dink jou aan Namibië.
Die see is turkoois, die strande ongerep, die hengel ongelooflik en die avonture in die veld (én op die paaie) puik.
Die meeste landmyne is verwyder, en as jy bang is jy loop jou vas in ’n stugge nasie wat deur geweld en oorlog verhard is, kan jy maar ontspan. Die Angolese met wie ek gepraat het, is van die gaafste, hartlikste mense wat ek nóg in Afrika teëgekom het.
Die eerste aflewering verlede maand in ons reeks oor Angola het gegaan oor ’n groep Suid-Afrikaanse toeriste wat in ’n konvooi van ses Toyota-4x4’s op ’n suidwestelike sirkelroete gery het. Ons het ’n draai gaan maak in die oorloggeteisterde suide, die Angolese hoogland en die groot Namibwoestyn waar enorme duine reguit in die Atlantiese Oseaan aftuimel.

Nou, in die tweede deel, ry ons nog ’n sirkelroete van sowat 1300km wat begin by Lubango, hoofstad van die provinsie Huíla in die Angolese hoogland, en deur die pragtige groen wêreld in ’n noordoostelike rigting binneland toe loop tot by die polsende stad Huambo.
Daarna kan jy van koers verander en op baie mooi nuwe snelweë wes mik kus toe, voordat jy op nog ’n paar chaotiese dorpe soos Benguela en Lobito afkom waar krotbuurte, geboue vol koeëlgate en splinternuwe bousels sy aan sy in idilliese baaitjies op pragtige strande staan.
Dan draai die roete suid en loop deur dorre wêreld. Maar dis steeds mooi: oranje kranse staan in ’n turkoois see en hier en daar versier ’n vissersdorpie die kuslyn.
Uiteindelik kom jy by die groot snelweg wat die ooste met die weste verbind, en mik dan oor die kronkelende Lebapas terug Lubango toe.
Lubango se strate wemel van mense met rooi, geel, blou, groen en pienk klere, terwyl Portugese advertensieborde en bouvallige koloniale geboue die Mediterreense invloed verklap.
Dié verhaal gaan oor die reis Lubango toe en terug. Dis ’n fassinerende sirkelroete waarvoor jy ’n goeie ses dae nodig het – selfs meer as jy langer by van die mooiste plekke wil vertoef.
Inhoudsopgawe:
- Angola | Dans tussen woud en woestyn
- Bl. 2 | Landmyn-roulette…
- Bl. 3 | Oor ’n lendelam brug
- Bl. 4 | Skeepswrakke
- Bl. 5 | So amper moleste...
- Bl. 6 | Opskud, ouens!
- Bl. 7 | Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar