Angola | ’n Anderste Angola

Angola toe twee jaar in ’n ry? Anton van Schalkwyk van Kaapstad sê hy sien kans vir ’n derde keer. Dís wat hy op die harde en wilde manier daar geleer het.
Wat het jou laat terugkeer?
Die oorlog het jare lank die land afgesonder en dis nog grootliks ongetem, veral die platteland.
Die feit dat Angola vir baie Suid-Afrikaners ’n plek is waar ons moes veg, is ook ’n aantrekkingskrag, want jy wil weer al die ou plekke sien noudat daar vrede is.
Die ryke geskiedenis van die Dorslandtrekkers is nog ’n trekpleister.
Sal jy weer gaan?
Die land is besig om vinnig te ontwikkel, en ek sal weer wil gaan om te sien hoe dit verder verander.
Die riviere is indrukwekkend en baie breër as enigiets wat ons in Suid-Afrika ken. Daar is plekke soos die Pedras Negras-berge en die Kalandula-waterval (albei naby Malanje), en reënwoude (meestal in die noorde van die land), wat beslis ’n tweede besoek werd is.
Bygesê, Angola is nie naastenby so ’n mooi land soos Suid-Afrika nie. Dis baie plat, en daar is geen noemenswaardige wilde diere of parke nie.

Wat het jy die tweede keer anders gedoen?
Die eerste keer was ons 13 voertuie, maar eintlik is ’n groep van 6 voertuie net groot genoeg.
Brandstof ingooi in Angola word ’n twee uur lange operasie as jy 13 voertuie is, want die vulstasies is min en die toue is lank. Die vraag na motors groei namate die paaie geteer word. Terloops, loodvrye petrol is nou oral beskikbaar.
Wanneer is die beste tyd om te gaan?
Beslis die winter; die somer is te warm tensy jy by die see wil vakansie hou.
Wat het intussen daar verander?
Die paaie het heelwat verbeter en daar het honderde kilometers nuwe teerpad bygekom. Ek skat daar is maar 250 km teerpad wat nog gebou moet word, dan kan jy die hele ent Luanda toe teerpad ry.
Supermarkte soos Shoprite en Nosso Super verrys nou soos paddastoele.
In die suide tot by Lubango is daar baie Suid-Afrikaanse produkte in die winkels.
Die grensoorgange was ook met ons tweede besoek makliker. Die Angolese begin nou meer toeristevriendelik raak. Dis egter steeds moeilik om ’n visum te kry, maar selfs dit is al beter.
As jy in Angola oor ’n groterige brug ry (ook oor die Lebapas), moet jy tolgeld betaal. In die verlede was daar nie ’n kwitansie in sig nie, maar met ons vorige besoek is kwitansies wel uitgereik.
Ek hoop dis ’n teken dat korrupsie besig is om die onderspit te delf.
Waarvoor moet ’n mens op jou hoede wees?
Ondanks die nuwe teerpaaie het van die ander paaie versleg sedert ons vorige besoek, en ek sal nie sommer ’n waentjie daarop sleep nie. Jy gaan die aste buig en vere breek.
Drink ook maar jou malariatablette en kry drinkwater by betroubare bronne.
Beste dele van Angola?
Hoe verder noord jy beweeg, hoe mooier raak dit en hoe meer berge en woude kry jy.
Die suide met sy plat aarde is maar oninteressant, en net die oorgange deur riviere verbreek die eentonigheid. Groot dele van die kus is asemrowend met pragtige strande en warm water.
Die riviere in Angola is massief en nie eens die Oranjerivier hou hierby kers vas nie. Die beste klimaat is op die Huambo-hoogland, waar daar min pestilensies soos muskiete is.
En die slegste paaie?
’n Groot deel van die pad tussen Caconda en Cuima net suid van Huambo is besonder sleg en die brûe is gehawend.
As daar ’n nuwe pad gebou word, word die ompaaie glad nie onderhou nie. Slegte paaie raak dus net slegter totdat die nuwe teerpad klaar is.
In die verre ooste is die paaie nog nie begaanbaar nie, want die brûe wat
in die oorlog beskadig is, is nog nie herstel of vervang nie.

Hoogtepunte?
Die meeste reisigers uit Suid-Afrika gaan Angola toe óf vir visvang óf om die Dorslandtrekkers se plekke te besoek óf om die Kongorivier te bereik.
Met die tweede besoek het ek ’n bietjie van alles gedoen: visgevang én geskiedkundige plekke en besienswaardighede besoek.
Uit ’n geskiedkundige oogpunt is die Dorslandtrek iets besonders, en om die plekke te besoek waar hulle rondgeswerf en gebly het.
Angola het ’n berugte geskiedenis van slawehandel en dis interessant om die plekke te besoek wat hieraan gekoppel is, bv. die slawehuise aan die kus en die plekke waarvandaan hulle verskeep is, byvoorbeeld by Benguela.
Plekke soos die Kalandula-waterval, die Pedras Negras-berge, die reënwoude by Ndalatando en die afgronde by die Lebapas (tussen Lubango en Namibe) is indrukwekkend mooi.
Laagtepunte?
Die slegte paaie en die lang afstande tussen plekke is maar vermoënd. Die paaie is egter vinnig besig om te verbeter en omdat die land maar min berge het, sal teerpaaie sorg dat jy vinnig jou bestemming bereik.
Hoewel die diens by grensposte verbeter het, is dit steeds nie gerekenariseer nie, en alles word per hand gedoen. Dit vat soms baie tyd.
Watter roete sal jy vir ’n groentjie aanbeveel?
Hou op die hoofroetes van Oshikango af op die Namibiese grens oor Lubango en Benguela na Luanda, dan oos in Malanje se rigting en dan suid via Huambo terug oor Lubango na Namibië. Die roete is tans 90% teer en jy kan die meeste mooi plekke op die roete sien.

En vir ’n meer ervare reisiger?
Die Kongorivier is vir baie ’n trekpleister, maar die pad soontoe is gehawend en jy moet hare op jou tande hê. Die roete langs die Benguela-spoorlyn binneland toe is ook uitdagend.
Van Benguela af aan die kus na Namibe is daar ’n kortpad oor die berge. Hierdie pad was tot onlangs nog die “Van Zylpas” van Angola genoem, maar sal binnekort geteer wees.
Moet jy Portugees magtig wees?
Dis amper beter om nie Portugees magtig te wees nie, want die polisie raak gefrustreerd as hulle jou nie verstaan nie en laat jou makliker deur die beheerpunte. Dit help wel as jy ’n paar basiese woorde ken.
Kan jy sonder ’n gids gaan?
Dis regtig nie nodig vir ’n gids nie, en daar is altyd iemand in die omgewing wat Engels kan praat as jy regtig vashaak.
Wat as jou voertuig breek of daar ’n mediese noodgeval is?
Dis belangrik om Angola nie alleen aan die durf nie en om ’n satellietfoon te hê. Mediese versekering sal goed wees sodat ongevalle uitgevlieg kan word.
Doen dit deur die AA.
Beste raad om omkopery te systap?
Geduld. En ’n sigaret of ’n koue blikkie Coke verrig wondere. Wees ook vriendelik, al kan jy nie die taal praat nie.
Wat móét ’n mens saamneem?
• Die belangrikste is noodwiele, bandhersteltoerusting asook ’n herwinningstel met ’n kinetiese strop en ’n hoogligdomkrag, veral as jy op onbekende roetes ry. Niemand gaan jou daar help met ’n herwinning nie – jy sal dit uit Suid-Afrika moet reël.
• Neem belangrike onderdele saam (bv. verkoelerpype en ’n klomp sekerings). Dis nie altyd verkrygbaar nie, en boonop is dit duur.
Daar is baie Ford-, Mitsubishi- en Toyota-bakkies in Angola en die onderdele is geredelik beskikbaar in groter plekke soos Luanda, Huambo, Lobito en Benguela.
• ’n GPS met T4A is onontbeerlik, veral op afgeleë paaie.
• Verder moet jy selfvoorsienend wees, veral wat vleis betref.
Vleis is skaars, en die Angolese koop vleis ten duurste van Namibië.
Beste raad vir grensposte?
Wees vriendelik en geduldig by grensposte en polisiebeheerpunte. Die padpermit kos sowat R400 en werk soos die padbelasting in Namibië. Die amptenare is meer besorg daaroor as oor jou visum of paspoort. Met ons tweede besoek was die amptenare baie vriendeliker.
Beste geld- en ruilwenke?
Daar is altyd informele markte op elke groterige dorp. Jy hoef net daar te stop en ’n horde geldruilers storm op jou af. Jy kry ’n beter koers by hulle, en betaal nie kommissie soos by ’n bank nie.
Wat sal jy volgende keer anders doen?
As jy in Angola toer waar daar geen of min geriewe is, moet jy so vinnig as moontlik kan kamp op- en afslaan.
Ek sal die regte toerusting hiervoor moet aanskaf: ’n daktent wat vinnig op-
slaan, ’n storttent wat homself opslaan en kosmaaktoerusting wat bykans onmiddellik gereed is.
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar