Angola | ‘Daar gaan die bakkie’

Dis bekend as die Doodsakker – die 60 km lange smal strand noord van die Kunene in Angola. Die laaste 18 km is op kaarte gemerk as “Uiters Gevaarlik”.
As die springgety laag is, kan jy noordwaarts deurry na Tombua, maar net as jy die omgewing ken en weet hoe die see en die weer gaan verander. Die alternatief is ’n dag lange ompad binneland langs deur die Iona Nasionale Park.
Twee jaar gelede het die ervare Johan Badenhorst se Voetspore-span byna hulle moses hier teëgekom.
Johan het toe geskryf jy’t ’n bietjie meer as net kennis en ervaring nodig: “Dis ’n plek waar jy die gety moet reg lees, waar jy ’n bietjie vernuf moet hê, ook ’n bietjie geluk, en natuurlik ook ’n behoorlike voertuig.”
Ervaring nie alles nie
En nou het die Doodsakker weer toegeslaan. Anton en Annemarie Slabbert van Randburg ry al jare lank kruis en dwars oor Suider-Afrika. Anton noem op: “Ons het al deur die héle Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mosambiek, Malawi en Zambië getoer.”
En die twee pare wat saamgery het, Lappe en Salomie Labuschagne en Wittes en Susan Heymans, het almal meer as tien jaar se 4x4-ervaring.
Die groep het middel Junie op hul tog vertrek. Die Slabberts in ’n Toyota Hilux KZ-TE, die Labuschagnes in ’n Toyota Land Cruiser-dieselbakkie (“Boela”), en die Heymans-egpaar in ’n nuwe Toyota Hilux 3.0 D-4D, almal in radioverbinding met mekaar.
Sondag 20 Junie is hulle by Ruacana deur die grens. Teen die Dinsdag was hulle by die mond van die Kunene, Foz do Cunene, hul laaste stop voor die Doodsakker.
“Als het relatief goed gegaan tot by Foz do Cunene,” sê Anton. “Op pad moes ons ’n beskadigde pypie tussen die hoof- en ekstra dieseltenk vervang en later het ’n groot klip die wish bone onder die bakkie getref, maar niks was te ernstig nie.”
Die plan was om twee nagte by Foz do Cunene te oornag en te wag vir springgety sodat hulle met gemak deur die Doodsakker kon ry.
“Maar toe ons daar kom, was die eienaar van ons bespreekte huisies nie daar nie. Hy moes van Tombua af deurkom om die huisies oop te sluit, en om raad te gee oor die Doodsakker,” vertel Annemarie.
“Ons het bespiegel dat as hy voor springgety deur die Doodsakker na ons toe kon ry, kan ons óók vroeër deurgaan.”
Min het hulle geweet dat die eienaar júis nie deurgekom het nie omdat die kouefront uit die suide besig was om ’n deining van drie tot vier meter op te stoot. “Ons kon glad nie ’n satellietfoon in die hande kry met al die Wêreldbeker-toeriste hier nie. As ons een gehad het, sou die eienaar ons kon waarsku.”
“Toe kom daar ’n toergroep uit die noorde aan wat pas deur die Doodsakker gery het. Hul Namibiese gids het sy getykaart vir ons gegee en ons verseker dat ons maklik kon deurry.
“Omdat ons die regte kamptoerusting gehad het, het ons besluit om daardie aand op die strand te kamp, so na as moontlik aan Baía dos Tigres, die beginpunt van die Doodsakker.”
WOENSDAG 23 JUNIE | Totsiens, bakkie …
Die volgende oggend het hulle op grond van die gids se raad besluit om teen agtuur die Doodsakker aan te durf.
“Ons het bereken ons moes ’n uur voor laagwater vertrek,” sê Annemarie. “En dis waar die sports begin het.”
Net voor Baía dos Tigres moet jy binneland toe swaai om ’n soutmoeras te vermy. “ ’n Mens ry skuins binneland toe tot teen die duine en dan om die swamps terug see toe.”
Terug op die strand het hulle goed gevorder. Maar Lappe se Cruiser, wat voor gery het om ’n spoor te maak, het begin warm raak omdat hy elke nou en dan moes wag vir ’n groot brander.
Wittes se Hilux het toe voor gaan ry.
“Skielik het my bakkie in die sand gesak en is hy eenvoudig vasgesuig,” sê Anton.
Hy’t die ander per radio laat weet dat hy vasgeval het, en hulle het omgedraai om hom uit te sleep.
Toe het dinge skielik ernstig verkeerd geloop.

“Ons het twee kinetiese bande gebreek om die Hilux te probeer uitsleep, maar kon hom nie uitkry nie,” sê Anton.
Hulle’t ook probeer om die agterste wiel, met die band nou van die velling af, met die domkrag op te lig, maar daar was eenvoudig te min plek tussen die voertuig en die sand om die domkrag in te kry.
“Ons was nog besig om die bakkie te probeer uitgrawe toe ’n groot golf onderdeur die bakkie tot teen die duin slaan. Dit het die bakkie net verder laat vassuig. Tóé’t ons besef dis tyd om ’n harde besluit te neem. Ons moes spore maak,” sug Anton. “Ek het die noodwiel op die dakrak vasgemaak, die radio gegryp en die kar gesluit. Wie weet waarom?”
Annemarie het hulle dokumente, haar grimeertassie, handsak en kamera gegryp en saam met Lappe-hulle in die enkelkajuit-Land Cruiser gespring, op Salomie se skoot. Anton is saam met Wittes-hulle in die voorste bakkie, die Hilux, weg.
“As jy ’n horisontale lyn van die bopunt van die eiland in die Baía dos Tigres trek, is dit omtrent waar ons die bakkie gelos het.”
“Nét om die eerste draai het die Cruiser se koppelaar die gees gegee,” sê Annemarie. “Gelukkig het Lappe duin se kant toe gery toe hy die probleem voel aankom. ’n Entjie van die duin af wou die wiele nie eens meer draai nie. Ons het die twee noodwiele diep in die sand begrawe en die bakkie daaraan geanker met die wenas en ’n kinetiese strop.
“Toe kom die gety behoorlik in,” sê sy. “Die water het teen die duin opgespoel, onderdeur die bakkie, en dan slaan dit hom weer van die duin se kant af. Soms het die bakkie opgelig, maar die ankers het gehou.
“Ons het soveel moontlik nooditems uitgegooi – waterkanne, belangrike dokumente, beddegoed …”
Lappe het in ’n stadium aanvaar dis klaarpraat met Boela. Dit het aand geword en later het die hooggety wéér ingekom.
Hulle het op die radio vir Wittes-hulle laat weet die koppelaar is stukkend, sonder om te weet of die ander die boodskap kon hoor.
Die wete dat hulle kos en water vir minstens ’n week gehad het, was darem ’n troos. Hulle het hulleself ’n ent teen die duin op gemaklik probeer maak vir die nag. Lappe het heelnag die branders dopgehou en kort-kort die ankers wat half oopgespoel het, toegegooi.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Angola | ‘Daar gaan die bakkie’
- Bl 2 | 23 Junie
- Bl 3 | 25 Junie
- Bl 4 | 26 Junie
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Amper ongelooflik! Ek bewonder julle deursettings vermoe. Ek sal dit verseker NIE doen nie!
Beste Anton en Annemarie
My naam is Gert Becker en ek was een van die motorfietsryers wat die volgende dag daar verby is saam met Rico Sakko-hulle. Dit was ongelooflik hartseer om julle bakkie se wiele so te sien uitsteek. Het baie gewonder oor, waar en wie is die mense van die bakkie? Ek is regtig bly julle is veilig.
Die Doodsakker is uiters gevaarlik. Ons is presies op die regte tyd van die maand op die regte tyd van die dag daar deur en ek is 'n keer of wat deur die see raak geslaan op die motorfiets. 'n Bakkie sal 'n redelike skoot vat is so 'n geval. Ek het naderhand die golwe "getime " of teen die duin uitgery, wat nie moontlik is met 'n bakkie nie.
Lekker ry!!
Groete
Gert
Julle het baie waagmoed aand die dag gele. Soms werk dinge uit ander keer weer nie! Die belangrikste is om terug op die perd te klim. Het die versekering die Hilux uitbetaal - wonder ek!
Groete
Marius
Wow, ek sien alle gebeurlikhede as ervarings en dit kan jy toepas op jou pad vorentoe, maak net nie weer dieselfde foute nie!
Benoude oomblik, maar ek dink julle sal eendag baie stories kan vertel oor die gebeurlikheid!
Ja dit was bietjie dom, maar so leer ons mos maar uit ons foute of hoe, en dit is tog deel van die pret
(Dis nou die besoeker van 10:59.)
Ag die eerste suur skrywer moet maar eerder eerste leer spel, en dan kom gal braak oor onnoselgeite!
Nee wat, julle het gekry waarvoor julle gevra het. Party goed pak mens nie aan as jy nie weet wat jy doen nie, en julle het duidelik nie geweet wat julle doen toe julle silke oorhaastige besluite geneem het nie. Julle kan net die vader dank dat julle nie omgekom het agv onnoselgeid nie.
Sjoe ja - die beste stuurman sit aan't wal!!! As ons so 'n avontuur aanpak sal ons jou ekspert diens kom huur :-)
Ons is die 16de Junie n week voor die Slabbert's deur die DOODSAKKER sonder enige gids. Ons het gladweg, sonder vassit of ander moeilikheid daar deur gery. Dit was eintlik teleurstellend omdat almal ons bang gepraat het voor die tyd! Om die visums te kry was moeiliker!!
Ons wil volgende jaar Malawi trotseer en dan sal ons verseker Angola weer aandurf.
Dit is ongelooflik! Ek is nie a 4X4 fan nie, maar ek het perongeluk op die storie af gekom en ek moet se ek sal enige iets doen om so iets te beleef.
Dit was seker hel gewees op daai oomblik, maar die storie en ervaring wat julle daar gekry het is priceless!!
Well done!!
Mens kan n fliek maak oor julle ervaring. Sal uitstekend wees.
Pos nuwe kommentaar