Oeps | Slim vang sy baas

Oeps WR16_1

Af en toe oorskat 'n bestuurder sy eie vermoëns én die van sy voertuig. Hier's wat dan gebeur...

Ons was net voor Kersfees op pad na Barberton vir die Kersnaweek toe my man, Willie, tussen Ermelo en Chrissiesmeer besluit hy wil die grondpad tot op Badplaas ry omdat die omgewing so mooi is.

Net voor die afdraai na Badplaas kom ons op 'n handgemaakte bord af wat 'n ompad deur 'n gasteplaas aandui. Ná ons lekker daaroor gelag het, draai ons van die provinsiale grondpad af en kom op 'n 4x4 Toyota Hilux af wat nie self deur die modder wou sukkel nie.

Kort daarna sien ons 'n nat, modderige deel in die pad.

Vol vakansiemoed sê my man: "Is die Hilux bang vir 'n bietjie modder?"

Net daar besluit my ervare 4x4-man om ons 1994 Range Rover nie te verneder nie en bestorm die moddermassa vol selfvertroue.

Die Rooi Leeu se wiele raak skaars die modder toe hy in 'n gat vasval, met sy agteras tot op die grond, 'n agterwiel sonder vaste aarde onder hom en die sleepwaentjie met sy disselboom in die grond. En daar sit ons.

Die spreekwoord sê nie verniet slim vang sy baas nie...

Die onoorwonne Rooi Leeu, wat al soveel keer dik sand, modder, steiltes en slote getrotseer het, sit.

Oeps WR16_2

"Low range, diff lock, tweede rat," is die rympie wat die mans gewoonlik aframmel, maar hierdie keer wou dit glad nie werk nie.

Slim besluit toe maar om uit te klim, en toe hy sy voete op die grond probeer sit, sak hy tot by sy knieë in die modder weg.

Willie kon ook glad nie die disselboom van die sleepwa opgelig kry om dit af te haak nie.

Intussen het die Hilux omgedraai om te kyk of Slim en sy Rooi Leeu die modder kon oorwin. In plaas daarvan om by sy besluite te hou, durf hy die modder deur die veld aan.

Nodeloos om te sê, skaars in die modder of die Hilux val óók vas.

Oeps WR16_3

Ná 'n gesukkel sien ons 'n trekker van die teenoorgestelde rigting aangery kom met 'n seun van omtrent 12 jaar agter die stuur. Sonder om te vra, draai hy die trekker om en maak gereed om saam met 'n handlanger die voertuie uit te sleep.

Met sy R40 vir die dag in sy sak vertel hy ons daar is 'n fontein in die middel van die pad, vandaar die moddermassa.

Slim hoor vandag nog nie die einde van sy "onverantwoordelike" optrede nie.

Ná hierdie voorval stel hy deeglik ondersoek in (soos hy op sy 4x4-kursusse geleer het) voor hy sommer 'n handgeverfde bord ignoreer.

Vertel deur Elize Kruger van Standerton

Het jy al op so 'n Oeps-oomblik afgekom? Stuur jou foto's na redakteur@wegry.co.za. As ons jou foto gebruik, stuur ons vir jou 'n prys.


Kommentare

Ja wat sal mens sê.. Toyota windg@t?

Ja wat sal mens sê.. Toyota windg@t?

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
geen
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association