
Af en toe oorskat ’n bestuurder sy eie vermoëns én die van sy voertuig. Hier’s wat dan gebeur…
Verlede jaar het ons saam met familie in Namibië vakansie gehou en onder meer van Ruacana af al langs die Kunenerivier na Epupa gery. Daarna is ons oor Van Zylspas en het al langs die Marienfluss suid teruggery.
Net buite Ruacana het ons lug uit albei voertuie se bande gelaat vir die roete wat voorlê. Skaars 1 km verder oor ’n bult en teen ’n spoed van sowat 50 km/h het die wiele van ons Cruiser ’n dippie in die pad getref en begin gly.
Binne sekondes het die Cruiser op sy kant gelê – gelukkig het die sleepwa gekeer dat dit verder rol.
Ons het gou oor die radio om hulp gevra en binne minute het die voorste Cruiser teruggedraai. My seun het ’n wenas op sy Cruiser en het dit gebruik om ons Cruiser weer op sy wiele te trek.

Gelukkig kon die Cruiser nog ry. Ons het net olie, water en ratkasolie bygegooi. Die boute van die sleepstang het heeltemal afgebreek en ons het dit met bloudraad vasgemaak. Ook die sleepwa se trekstang was gebuig, en dis ook met bloudraad veilig gemaak.
Die bloudraadplan het tot in Windhoek gehou; ons moes dit net van tyd tot tyd saans by ons kampplek styfdraai.
In Windhoek is die sleepstang herstel met nuwe, dikker boute, en die herstelplek het ook ’n nuwe trekstang aan die sleepwa gesit.
Net 170 km buite Windhoek het die nuwe boute van die sleepstang afgebreek. Toe moes ons weer die bloudraad inspan – en dié plan het tot by die huis gehou.
Dit het gebeur met Jean Engelberts van Villiersdorp.
Kommentare
Sover ek weet is dit nie `n kwessie van "nie daar mag ry" met `n sleepwa nie. Selfs vragmotors pak die bultjie aan sonder probleme. Die bultjie is nie so gevaarlik nie, maar as hy pas geskraap is en daar is los gruis, of in die reenseisoen, foeter dit maar - van Zyl`s pas is die probleem! Daar is dit `n groot kans vat om met `n sleepwa te ry.
Die Land Rovers sal beter gedoen het, want hulle word gewoonlik gesleep....lol
As die persoon sy huis werk oor daai pas gedoen het sou hy gelees het dat jy nie met n sleepwa daar mag ry nie...
'n Landie kon beter die ding doen - al dan nie. Rover is mos beter as Cruiser - lol.
Land ROVER sou dalk minder probleme gegee het as Land CRUISER
Miskien moes hy maar 'n Land ROVER probeer het en nie 'n Land CRUISER nie.
Bly julle het nie seer gekry nie. 'n Cruiser is taai ding!
Ek skat die nuwe dikker boute was gewone "mild steel" boute. Hoë treksterkte ("high tensile") boute moet gebruik word.
'n Swaar sleepwa in Kaokoland - dit is moeilikheid soek.




Een van Namibië se groot probleme is die goeie gruis grondpaaie! Veral in die noorde en rondom Sossusvlei. Ek het al vele “slagoffers” langs hierdie paaie gesien en die groot rede is spoed. In hierdie storie was die spoed blykbaar 50km/u en die foto dui aan dat die ongeluk op ‘n draai gebeur het en dat daar ‘n knink in die pad was, soos ek kan aflei, net for die draai. Die eiennaar het beheer verloor na die knink, niks te doen met afgeblaasde bande nie wat eintlik heeltemal korrek is, en die voertuig het in sy eie rigting gegaan, bestuurder het probeer om die voertuig terug te stuur en BOEM daar rol die spulletjie. Ek was ook amper in dieselfde situasie ‘n paar jaar gelede met ‘n Land Rover en sleepwa. Tussen Sossusvlei en Solitaire was die gruispad pragtig met wye draaie maar net voor ‘n draai was daar ‘n knink en ek het gesien die veld kom nader! Gelukkig het ek net net van die pad afgegaan en beheer oor die voertuig behou. My spoed was ongeveer 60km/u. Daarna het ek die voertuig in High Diff Lock gesit en so teen 50km/u verder gery. Sonder enige probleme daarna. ‘n Jaar of twee later was ek alleen Richtersveld toe met my Landy en sleepwa. Met die terugkomslag, net voor sononder 150km vanaf Springbok in die veld, stop ek net nadat ek deur ‘n plaashek is om water afteslaan. Oudergewoonte stap ek om die voertuig en sleepwa en merk dat een van die sleeparms van die sleepwa gebreek het! Ek het toe nie bloudraad saam met my gery nie en loop toe langs die grensdraad op soek na draad. Voorwaar nie vêr geloop nie kry ek ‘n langstuk staaldraad. Die draad buig nie maklik nie maar geswoeg en gesweet het ek die trekstang van die sleepwa so verstewig dat ek verder kon ry, wel teen 30km per uur vir net ingeval! Na 12 die nag by Springbok veilig aangekom en die volgende dag het ek hulp in die dorp gekry en die sleepwa se trekstang is herstel. Van daardie dag kyk ek nie net na die wiellaers voordat ek op reis gaan nie, ek kyk na die kondisie van die trekstang, die koppelling en bedrading onder die sleepwa asook na die koppelling van die voertuig, net om seker te maak ek gaan nie probleme langs die pad kry nie. O ja, ‘n rol bloudraad is onder my Land Rover vasgemaak, net ingeval ek dalk iemand langs die pad moet help! Een leser het genoem dat jy nie ‘n sleepwa Van Zylspas mag afgaan nie, dis nie korrek nie. Daar is geen reëls wat jou verhoed nie maar dit word aanbeveel dat jy nie met ‘n sleepwa daar af gaan nie. In elke geval, dis groot moeilikheid soek veral die laaste gedeelte van die pas! Dan aangaande die ou vertraagde storie van Land Rovers versus ander 4x4 voertuie, dis hol gery! Ek bestuur daagliks ‘n Defender en ja, daar was al probleme, sonder koppellaar op ‘n Sondag van Margate na die Drakensberg met ‘n sleepwa, gebreekte “side shaft” in die Sentrale Kalaharie, gegeesde waterpomp 50km voor die Suid-Afrikaanse grens, ook op ‘n Sondag maar alle probleme kon ek daar op die plek herstel met hulp van die omgewing. Ek het vele Nissans, Toyotas en Jeeps uit Moremi en Naxi Pan gesleep omdat eiennaars dink hul voertuie kan die ding doen en dan doen hulle die ding en dan weet hulle nie verder nie! Terloops, ‘n Land Rover Defender is nie ‘n sedan of ‘n bakkie nie. Dit is een van min modern ligte vragmotors wat gelisensieër kan word as ‘n sedan! Jy moet jou medemens langs die pad help as daar probleme is en nie die spot dryf nie, want dit kan met jou gebeur!