’n Bestuurder wat sy eie vermoëns én die van sy voertuig oorskat, is nie al resep vir ’n oeps op ’n 4x4-uitstappie nie. Hier’s wat ook kan gebeur...
Ons 13 manne (11 uit die Kaap en 2 van Walvisbaai) het baie uitgesien na ons visvangsafari na Angola, maar niemand het só ’n ongeval verwag toe ons in September verlede jaar by Flamingo Lodge, suid van Namibe, aangekom het nie.
Dr. Hofmeyer (Hoffie) Viljoen van Walvisbaai se vislyn het vasgesit, hy het dit probeer losruk, en toe dit loskom, het die vishoek hom aan die wang gevang.
Mediese hulp was baie ver weg en ons moes net daar op die strand ’n plan maak met dit wat tot ons beskikking was. Brian McKay van Melkbosstrand het noodhulpkennis en met Hoffie se aanwysings het hulle die hoek uit sy wang gekry (’n bottel J&B het gehelp om die pyn te verdoof).
Hoffie het juis saamgegaan as die spandokter en toe moes ons hom dokter! Hy was baie bekommerd dat die hoek dalk naby ’n senuwee kon wees en dat hy permanente skade aan sy sig kon opdoen.
Gelukkig het Hoffie genoeg antibiotikum in sy tas by die kamp gehad, en daar was geen komplikasies nie. By die see het ons natuurlik die bottel J&B na Jonty Biotica herdoop.
Die aand by die kamp met sundowners het ons hom gespot en gesê dat sy drankie deur die gate in sy wang spuit. Hy het toe sommer ’n pleister gaan opplak.
Die volgende dag het Hoffie weer sterk vis gevang en ’n lekker grote uitgetrek.
Soos vertel deur Ronnie Beukman van Melkbosstrand
Kommentare
Dit het my ook al oorgekom, pynlik en ek het besluit om die weerhakies vooraf af te knip.
Mens verloor dalk 'n vis of twee maar veral naghengel by die see is dan baie veiliger.
Selfs 'n hoekie van 'n kunsvlieg diep in jou bo-arm begrawe raak later baie ongemaklik!




Sjoe, hy's gelukkig. Dit kon sy oog gewees het!