|
|
|
-33.780560, 23.102900
|
101 Roetegids | 2010
Williamsburg-bergreservaat
In die hartjie van die Outeniquaberge naby die Prins Alfredpas lê Williamsburg, ’n werkende veeplaas van 3 000 ha in ’n cul-de-sac-vallei.
Dít is die bekende botanis William Burchell se agterplaas, ’n amperse Kirstenbosch van blomme tussen riviere en woude. En buiten sneeu en ys dek die plaas se roetes elke soort terrein.
Williamsburg se goed gemerkte roetes dek ook ’n hele reeks uitdagings. Elkeen se moeilikheidsgraad word aangedui met klein 4x4’s: twee 4x4’s wys ’n 4x2-bakkie kan die roete ry, drie wys dis ’n moeilikrige roete geskik vir ’n 4x4, en vier wys dis ’n taai roete waar heeltydse 4x4 en ervaring nodig is.
As jy vyf 4x4’s sien, moet jy weet die roete is ekstreem, met tegnies uitdagende en potensieel gevaarlike dele waar herwinningstoerusting noodsaaklik is.
Die 4 km lange White Stone-roete met ’n 3-gradering karring aanvanklik heel rustig aan langs die fynbosbedekte hange van die Krans¬berg. Halfpad langs die roete draai dit skerp na links en sluit aan by die opsionele Folliespas, met sy 5-gradering. Dis een baie lang kilometer na die bopunt van die pas, en die laaste stuk is ’n uiters steil kleibank. As dit nat is, kan dit vreesaanjaend wees.
Dit sluit uiteindelik weer by die betreklik maklike White Stone-roete aan, maar maak ’n knoop in jou oor: White Stone se bedrieglike kronkels kan jou op jou tone hou. Die 3 km lange Western Koppie-roete het ’n 3-gradering en sluit in ’n opsionele graad 4-roete, The Loop, sowel as ’n kort (500 m) maar bedrieglike (4-5-gradering) stuk van die Sandstone-roete. ’n Goeie grondvryhoogte en ewenaarslot is hier noodsaaklik. Die gids klim ook hier uit en beduie bestuurders deur die moeilike afdraande.
Western Koppie het wel ontsnaproetes, maar nie The Loop of die Sandstone-roete nie. Daar is ook ’n 4x4-speelgat waar jy (met of sonder ’n instrukteur) jou vaardighede kan opskerp voor jy die roetes pak.
Hindernisse sluit in op- en afdraandes, modder, water, sand en klippe.
Die Settlerspas is die langste roete op die plaas. Niemand weet wie, wanneer of waarom die pas gebou is nie, maar dis nietemin ’n wonderlike pad. Van die speelgat af steek dit die Gykonnarivier oor en vleg deur die hange vol proteas tot by Bakensrug. Dis ’n maklike rit, en van bo van die uitkykpunt af het jy ’n uitsig oor die Keurboomsriviervallei.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Die Gykonna- en Kransberg-kothuise het albei ’n ouwêreldse gevoel en slaapplek vir 4 in elk. Albei is ten volle toegerus en selfsorg. ’n Restaurant word gebou.
Wat nog?
Bergfietsry, voetslaan, swem, forelhengel, rotsklim, voëls kyk en abseil (op aanvraag).
Kontak:
Nigel, Simon of Ania Williams
044 745 1013;
wbrgfarm@lantic.net;
www.williamsburgfarm.net
Naaste dorp: Uniondale (45 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar, maar lente en herfs is uitstekend.
Roeteafstand: Altesaam 32 km (buiten die speelgat)
Hoe lank gaan ek ry? Sowat 8 uur
GPS: S33.78056 E23.10290






Lewer kommentaar