Javascript word benodig om die padkaart te sien.
LET WEL: Die ballonne verskyn op die presiese ligging van die roete, of die naaste dorp (as ons nie sy koördinate het nie).
Slagboom-4x4
Bespreek: Desember 2009 - Januarie 2010
NOU MOET JY BID. Die 4x4-roete bo die Slagboomdam is nie kinderspeletjies nie.
Kontak: 
Boetie & Boy Whittle
Selfoon: 
083 505 0600
Telefoon: 
042 233 0578
Naaste dorp: 
Addo (29km) Kirkwood (31km)
-33.380520, 25.650230
Afstand: 
35km | 4 uur-2 dae
Omgewing: 
Slagboom is all about peace and tranquillity on a beautiful valley farm, with abundant bird life and shy bushbuck. It lies nestled in the foothills of the Suurberge in a small valley bordering on the Addo Elephant Park and offers a guided trail.
Die roete: 
It features 36km of well-signposted and somewhat technical mountainous dirt driving that follows the natural contours of the land.
Verblyf: 
Slagboom offers self-catering accommodation in two farm-style cottages.
Kampering: 
There are also three exceptionally well-maintained campsites: Langman, set alongside sandstone cliffs on the banks of the White River; a bush camp for those wanting to put all their overland gear to the test; and Doopgat, with its own private little pond.

101 Roetegids | 2010

Slagboom-4x4

Slagboom het alles wat ’n goeie 4x4-roete moet hê: berge, riviere, eersteklas blyplek ... én ’n 35 km lange adrenalienbelaaide roete. Dis geleë in die voetheuwels van die Suurberge, naby Addo en Kirkwood, en die begeleide roete bestaan uit vyf dele, waarvan twee ’n 5-gradering het en jou deur al die veldrypassies vat.

Die Dam Lookout-deel is sowat 8 km lank met ’n 3-4-gradering. Dit duur omtrent ’n uur om af te lê en jy het laestrek nodig. Die aksie begin by die bopunt van die dam met ’n maklike oorgang deur die Witrivier, en daarna ’n 1 km lange asknoper met steil hellings teen ’n koppie uit. Haal jou sleephaak eerder hier af – jy moet heeltyd jou naderings- en vertrekhoek in gedagte hou, want dit raak al skerper namate die roete na bo klim.

Lovers’ Lane is ’n steil en klipperige graad 5-deel wat byna vertikaal af tot in ’n kloof val. Jy kruip behoorlik af in die nou, 400 m lange kloof in laestrek, eerste rat, en boonop moet jy wakker wees vir rotsbanke in die middel van die spoor wat jou wiele van die pad af wil dwing. Die tweede deel is vol klipbanke, en sit ’n uur vir die laaste 2-3 km opsy omdat dit vol los rotse is.

Buiten steil opdraandes en skerp afdraandes vra die taai oorbruggingshoeke jou volle aandag. ’n Ewenaarslot is onontbeerlik en ’n banddruk van 1,2-1,3 bar sal help (selfs nog minder as jou bande dit kan hanteer).

Voorsteberg begin redelik naby Doopgat en loop noord vir sowat 4 km, reguit op na die bopunt van die berg. Dié deel het ’n 5-gradering en jy ry heelpad in laestrek, eerste rat. Bergaf moet jy jou moegheid opsy sit en 100% konsentreer. Op die onderste deel van Voorsteberg draai die pad af na Ysterkloof, ’n tonnel tussendeur bome, en die vierde deel van die roete. As jy ’n daktent het of met ’n hoë dakrak ry, moet jy versigtig wees dat dit nie vashaak nie.

Jy moet oor ’n paalbrug ry om by die laaste deel, Spioenkop, uit te kom. Dit kronkel ligvoets deur ’n droë, klipperige rivierbedding voor jy die 3 km na die bopunt van Spioenkop aanpak. Daar is oral ontsnaproetes as jy ’n deel te uitdagend vind.

Blyplek:
Jy kan by Langman, langs sandsteenkranse op die oewer van die Slagboomrivier, en Doopgat, ’n volledig toegeruste private kampplek langs ’n kuil en met ’n groot houtdek, kampeer. Daar is ook ’n basiese boskamp waar jy jou oorlandtoerusting kan toets. Selfsorgblyplek is beskikbaar by Land’s View, ’n groot plaashuis met slaapplek vir 14, Peppertree, ’n plaashuis met slaapplek vir 6-8, en Nieshout, ’n kothuis in ’n sitrusboord naby die rivierkampplek met slaapplek vir 4.

Wat nog?
Die ander aktiwiteite het als te doen met water en die natuur – hengel, swem, kanory en wildkyk. As jy wil jag, kan dit gereël word.

Wat jy moet weet

Kontak:
Boy en Boetie Whittle
042 233 0578;
083 505 0600;
slagboom@mweb.co.za;
www.greateraddo.com.

Naaste dorpe: Addo (29 km), Kirkwood (31 km)

Beste tyd om te gaan: Heeljaar, maar die lente en herfs is die mooiste seisoene. 

Roeteafstand: 35 km

Hoe lank gaan ek ry? 4 uur tot 2 dae

GPS: S33.36805 E25.65943


Volledige bespreking  | Dec 2009 - Jan 2010

100% plaas en plesier

’n Roete is ’n subjektiewe ervaring. Jy kan gradeer en statistieke vergelyk tot jy blou is, maar eindelik is jou gunsteling eenvoudig jou gunsteling. Richard van Ryneveld verduidelik waarom Slagboom-4x4 een van syne is.

Slagboom het alles wat ’n goeie 4x4-roete moet hê: berge, riviere, eersteklas blyplek (vir elke denkbare beursie) en 100% onverdunde plattelandse gasvryheid van die eienaars, Boy en Boetie Whittle.
En die 35 km lange adrenaliengewaarborgde roete in die voetheuwels van die Suurberge naby Addo in die Oos-Kaap
is die spreekwoordelike kersie op die koek.
Met twee van die roete se vyf dele wat ’n 5-gradering het, is Slagboom gewaarborg om jou deur al jou veldrypassies te vat.

Dis ’n begeleide roete, en gelukkig was Boetie, wat die roete ontwerp en gemaak het, my gids. Sy stil, gerusstellende teenwoordigheid was net die teenvoeter vir ’n senuweeagtige bestuurder soos ek.
My avontuur het naby die kampplek bo die Slagboomdam begin, net oos van die plaashuis.

Op pad na die Dam Lookout-deel het ek my sitplekgordel aangesit en na laestrek oorgeskakel om oor die volgende uur dié 8 km met ’n 3-4-gradering baas te raak.
Die aksie begin by die bo-punt van die dam met ’n maklike oorgang deur die Witrivier, deur digbegroeide dele met bosboerboon, nieshout, olienhout en heelwat soetdoring.
Net ná die oorgang tref jy die eerste ernstige hindernis: ’n 1 km lange asknoopspoor – boonop met steil hellings –
teen ’n koppie uit.

Boetie beveel aan dat jy eerder hier jou sleephak afhaal – en dis maklik om te sien waarom: Jy moet heeltyd jou naderings- en vertrekhoek in gedagte hou, want dit raak al skerper namate die roete na bo klim.
Daar’s ’n hele paar lekker plekke op pad boontoe waar jy kan stilhou, uitklim en die uitsig oor die omringende Suurberge kan inneem.

Die grootste deel van die oggend het ons deur die tipiese Oos-Kaapse veld gekronkel – meestal digte plate spekboom – en ek was verras om te sien hierdie berge het ook diep klowe met bome en strome.
Van ’n uitkykpunt oor die Slagboomdam het Boetie na die Voorsteberg-deel gewys, wat ons die volgende oggend sou pak. “Bo-op daardie riwwe sal jy fynbos, proteas én grasveld kry,” het hy beduie.
Die slim mense sal sê die rede waarom Addo se plantegroei so uitsonderlik is, is dat vyf van Suid-Afrika se sewe biome in dié relatief klein gebied voorkom. Al wat ek weet, is dat hierdie plaas mooier is as die dapperste poging om dit te beskryf …

Voel jy die druk?

Volgende aan die beurt was Lovers’ Lane.
Jy hoef nie te veel kop te krap waarom dit ’n 5-gradering het en ’n ewenaarslot ’n voorvereiste is nie – die klipperige en baie steil roete val byna vertikaal af tot in ’n kloof.
Jy kruip behoorlik af in die nou, 400 m lange kloof in laestrek, eerste rat, en boonop moet jy wakker wees vir rotsbanke in die middel van die spoor wat jou wiele van die pad af wil dwing.

Boetie beveel ’n banddruk van 1,2-1,3 bar aan (en selfs minder as jou bande dit kan hanteer). Ek het myne op 1,2 bar gehou, en die voertuig het heel goed daarmee gevaar.
Ek het wel een van die treeplanke gebuig; wees dus maar ekstra versigtig as jy heilig is op joune.

As jy eers onder is, kan jy óf na die beginpunt van die Dam Lookout-deel terugry óf Lovers’ Lane se tweede deel aanpak.
Laasgenoemde se 2-3 km moet stadig gery word.
Sit minstens ’n uur daarvoor opsy, want dié deel is vol los rotse en klipbanke, soortgelyk aan dié op die eerste helfte daarvan.

Buiten steil opdraandes en skerp afdraandes vra die taai oorbruggingshoeke jou volle aandag. ’n Ewenaarslot is ontbeerlik om seker te maak jy behou heeltyd vastrap.
As jy ongemaklik sou voel of as ’n deel jou gaan ore aansit, is daar gelukkig heelwat ontsnaproetes wat jy kan gebruik.
“Party mense wil natuurlik die hele roete – heen én weer – ry omdat dit moeiliker is,” het Boetie vertel.
“Ag man, as ek dink hulle is opgewasse vir die uitdaging, dan ry ons dit maar.”
Ek was heel tevrede om dit net in een rigting te ry, dankie, en ons het teruggedraai na my slaapplek vir die aand.


Op aandag

Ná ’n harde dag van veldry kan jy jou tent by een van twee goed onderhoude kampplekke opslaan: Langman, langs sandsteenkranse op die oewer van die Slagboomrivier waar dit in die dam loop, of Doopgat, ’n volledig toegeruste private kampplek langs ’n kuil.

My gô was behoorlik uit, en om tentpenne in te slaan was die laaste ding waarvoor ek lus was.
Ek moes dus kies tussen Land’s End, ’n groot plaashuis met plek vir 14 mense, Peppertree, ’n selfsorgplaashuis met plek vir 6-8 mense, en Nieshout, ’n selfsorgkothuis in ’n sitrusboord naby die rivierkampplek, met slaapplek vir 4 mense.
Nieshout sou dit dan wees.

Die volgende oggend, nadat ek ernstige Oos-Kaapse gasvryheid oorleef het, het ek my onwillige en oorversadigde lyf na die voertuig gesleep om die laaste drie dele van die roete te pak.
Voorsteberg begin redelik naby Doopgat en loop noord vir sowat 4 km, reguit op na die bopunt van die berg. Dié deel het, met reg, ’n 5-gradering en jy ry heelpad in laestrek, eerste rat.

Teen ’n slakkegang berg-op kon ek sien hoe die plantegroei verander – ’n stadige metamorfose van valleibosveld tot grasveld en suurveld, en op die hoogste pieke is daar ’n indrukwekkende versameling broodbome en fynbos.

Bergaf moet jy jou moegheid opsy sit en 100% konsentreer.
it was moeilik om te glo dat ek vroeër die oggend nog teen dieselfde pad uitgery het … As jou oë op die grond vasgegom is, ontgaan ’n klomp goed blykbaar jou aandag.
Op die onderste deel van Voorsteberg het ons afgedraai na Ysterkloof, ’n tonnel tussendeur bome, en die vierde deel van die roete.

As jy ’n daktent het of met ’n hoë dakrak ry, moet jy versigtig wees dat dit nie soos Metusalem in die takke beland nie. As jy nie een het nie, is daar darem een ding minder om jou oor te bekommer terwyl jy ’n klein riviertjie oorsteek op pad na Spioenkop, die laaste deel van die roete.
Twee kilometer later is my selfvoldaanheid kortgeknip: Ek het remme aangeslaan en in afgryse afgekyk na die paalbrug wat tussen my en ’n welverdiende koppie moerkoffie gestaan het.

Dit was nog nooit my gunstelinghindernis nie, en net Boetie se mooipraatjies het ons daar oorgekry sonder te veel angssweet en drama.

Hoogs verlig is ons daarna ligvoets deur ’n droë, klipperige rivierbedding onderdeur wilgerbome voor ons stadig begin ry het aan die 3 km na die bopunt van Spioenkop.
Met ’n swaar hart het ek later teen Spioenkop afgery, verby Doopgat op pad na Slagboom se plaashuis.
Ná al daai adrenalien, vars lug, Boetie se stem van rede en Boy se moerkoffie wou ek werklik nie teruggaan huis toe nie.

WegRy sê: As jy jou gesin wil saamneem na ’n lekker plek, kan jy jou soektog sommer net hier kortknip.



Wat jy moet weet

Hoekom moet ek gaan?
Die ligging, geriewe en eersteklas gasvryheid – lafenis vir jou siel.


OP DIE ROETE


Hoe lank is die roete? 35 km
Hoe lank gaan ek ry? 4 uur tot 2 dae
Maksimum aantal voertuie? 10
Kry ek ’n kaart? Nee, dis ’n begeleide roete.
Gaan my kar gekrap word?
Nie as jy versigtig ry nie.
Moet ek my treeplanke afhaal? Ja
Moet ek ’n kompressor neem? Ja
Kan ek halfpad omdraai?
Nee, dis ’n eenrigtingroete, maar daar is ontsnaproetes by elke deel.
Kan ek op die roete braai?
Ja, maar net by toegewysde plekke.

OM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan?
Heeljaar lank, maar die lente en herfs is die mooiste seisoene.
Kan ek my gesin vat?
Ja, dis ’n gesinsbestemming.
Net vir die dag of die naweek?
Minstens ’n naweek
Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers? Ja
Kan ek wild sien?
Ja, en as jy regtig gelukkig is ook olifante van die Addo-olifant Nasionale Park.
Die naaste dorp?
Addo (29 km), Kirkwood (31 km)
Hoe kom ek daar?
Ry van Addo af in die rigting van die Addo-olifantpark.
Draai voor die park af by die Zuurberg/Riverbend/Slagboom-teken.
Die pad raak ’n grondpad wat jy vir 17 km volg tot by die Slagboom-ontvangs.
Die naaste brandstof?
Addo (29 km), Kirkwood (31 km)

BLYPLEK?
Daar is drie kampplekke met nege staanplekke, twee selfsorghuise en ’n ou plaashuis.

WAT NOG?
Wat kan ek nog daar doen?
Buiten 4x4 ry, het die ander aktiwiteite als te doen met water en die natuur, soos hengel, swem, kanoritte en wildkyk. As jy wil jag, kan dit selfs gereël word.
Wat moet ek spesiaal pak?
Jou gesin, ’n lilo, sonbrandroom en ’n goeie boek.

KOSTE?
Roete: R200 per voertuig
Nieshout: R300 per nag vir die eerste twee gaste, en R50 p.p.p.n. per ekstra gas
Peppertree: R350 per nag vir die eerste twee gaste, en R70 p.p.p.n. per ekstra gas
Land’s View: R500 per nag vir die eerste vier gaste, en R150 per ekstra gas en R80 per kind.
Langman-kampplek: R40 p.p.p.n.; R30 per kind jonger as 12; kinders jonger as 3 bly gratis
Doopgat-kampplek: R500 per dag vir die eerste vier gaste; R80 per ekstra gas en R40 per kind

KONTAK
Boy en Boetie Whittle  042 233 0578; 083 505 0600; slagboom@mweb.co.za; www.greateraddo.com.


Kampplek bespreking | Richard van Ryneveld (Junie - Julie 2008)

Aan die voet van die Suurberge in die Oos-Kaap het Richard van Ryneveld op ’n kampplek afgekom wat hom dit ernstig sal laat oorweeg om permanent in ’n tent te gaan bly.

Ek wil ’n CIA-spioen wees. Ek’s ernstig, want dan sal ek minstens ’n goeie rede hê om selfsugtig te wees en elke welverdiende “geheim” vir my-self te kan hou.
Dit sal dan nie nodig wees om dit met almal te deel nie, en almal sal nog altyd van my hou. Maar nee, nou is ek ’n babbelende joernalis wat verplig voel om alles aan die hele Suid-Afrika te verkondig.
Hier is dit dus … my half onwillige vertelling van my jongste “ontdekking” – ’n plaas met die naam Slagboom, waar van die beste kampplekke in die Oos-Kaap is.

In die ivoorkoninkryk

Slagboom is geleë in ’n klein, kronkelende vallei, sowat 17 km van die hek van die Addo-olifant Nasionale Park en 32 km van die dorpie Kirkwood af.
Die naam verwys glo na ’n skermutseling tussen die destydse setlaars en die Xhosas aan die ou oosgrens.
Die plaas, aan die voet van die Suurberge, kon nie vir ’n beter ligging gevra het nie.
Dit grens aan die Addo-olifantpark, wat naas die Kruger-wildtuin en die Kgalagadi die grootste park in die land is.
Die eerste ding wat jou opval, is die geilheid van die bos, wat jy sekerlik nêrens anders gaan kry nie. Plek-plek is dit só dig en ondeurdringbaar dat dit die laaste oorblywende olifante en buffels in dié omgewing teen jagters beskerm het.
Boy en Boetie Whittle is die base van die plaas, en met my aankoms was Boy en haar twee tannies besig om ’n “klein bietjie wors” te maak.
Ek het nog nooit soveel vleis gesien nie. Hul seun, ’n professionele jagter, het kort tevore ’n groot koedoebul geskiet – die gevolg was meer vleis as wat ek in my hele leeftyd op een braairooster gesien het.
Ná ’n koppie moerkoffie om sake aan die gang te kry, het ek agter Boetie aangery na die Langman-kampplek waar ek sou bly.


Kies na hartelus

Daar is drie kampplekke op die plaas: een net voor jy by Slagboom inry, en nog twee naby die boloop van die Witrivier.
Langman is langs steil sandsteenkranse, reg op die wal van die rivier waar dit nouer raak en in die Slagboomdam vloei.

Waarvan ek onmiddellik gehou het, was die onberispelike aandag aan klein dingetjies: die uitstekende ligging van die kamp, staanplekke met volop gras (en dis netjies gesny) en ordentlike skaduwee.
Tweedens het ek van die gevoel gehou dat ek heeltemal alleen en een met die natuur is – dis net jy, die berge en duisende onbewoonde hektaar van bergwoud en klowe deurspek met bome, wat jy te voet of met ’n 4x4 kan verken.

Selfs die ablusiegeriewe het beïndruk. Jy kan sien iemand het mooi gedink toe hulle dit in ’n beboste gebied gebou het, op ’n helling wat uit die kamp lei.
Dis só gebou dat jy dit glad nie van die kamp af kan sien nie. Dit was net ek, die spoelmasjien en ’n digte gordyn van bome wat oor die dam uitkyk. ’n Troon met ’n uitsig – wat meer wil ’n man hê?

Daar is ook twee storte en twee toilette met wasbakke vir mans en vroue. En dis heeltemal van mekaar geskei – jou privaatheid is verseker.
Die kampplek aan die ander kant van die dam is effens anders – die enigste “geriewe” daar is ’n long drop. Dié kamp is eintlik bedoel vir mense wat hul toerusting voor ’n lang reis wil toets.

Dis ’n goeie plan en daar is ’n behoefte aan plekke soos dié, maar dit beteken jy moet redelik spesifiek wees oor watter kampplek jy bespreek.
By sowel die Langman-kampplek as die boskamp het jy toegang tot die rivier met sy heelwat baars en karpers (jy kan glo ook saans palings vang, vir die wat weet hoe).

Die derde kampplek, Doop-gat, het sy naam te danke aan die dae toe die vallei net so afgeleë soos Die Hel (die Gamkaskloof-weergawe) was.
“Boere van die omgewing het omtrent nooit dorp toe gegaan nie, en die predikant moes maar na hulle kom,” het Boetie verduidelik. “Doopgat was waar hy die babas gedoop het.”

Om vandag daar te kom het jy ’n voertuig met ’n redelik hoë grondvryhoogte nodig (ek sal dit wel waag om met my Citi Golf tot daar te ry, maar dis ek …) Doopgat is ’n uitstekende kampplek en word, soos die ander twee kampplekke, gekenmerk deur goed onderhoude grasstaanplekke. Dit het selfs spesiale braaiplekke met kombuisgeriewe, ’n gasstoof en ’n opwasplek.

Die ablusies is onberispelik, met twee warmwaterstorte en twee toilette.
Om die kroon te span is die kampeerterrein styf langs ’n poel geleë, met ’n groot houtdek waarvandaan jy oor die water kan tuur. 

Volgende keer …

Toe ek een aand ná ete na die sterre opgekyk het, het ek my-self belowe: “Hierheen gaan ek terugkom … binnekort.”
Maar ek het ’n ander plan as ek weer kom. Ek sal beslis weer by die plaashuis aangaan, nog moerkoffie drink en Boy smeek vir nóg ’n sny of wat tuisgebakte brood met turksvystroop.
Dan sal ek saam met Boetie gaan stap en hom dophou terwyl hy met sorg kyk of sy waardevolle Nguni-beeste nog gelukkig en tevrede is.
Ja, dis mos hoe ek my dae wil omkry.

Wat jy moet weet

Wat kan ek nog doen?
Buiten 4x4-ry enigiets wat iets met water en die natuur te doen het: hengel, swem, kanory, wildkyk (jy kan selfs reël om te jag, as dit jou
ding is). 

Beste tyd om te gaan?
Heeljaar

Hoe kom ek daar?
Van Kirkwood af ry jy met die R336 na Addo, en mik dan in die rigting van die olifantpark.
Draai af by die “Zuurberg/Riverbend/Slagboom”-bordjie.
Dit word ’n grondpad waarop jy 17 km ry tot by die bordjie na die Slagboom-ontvangs.

Blyplek?

Drie kampplekke met nege staanplekke en twee selfsorghuisies.

Ablusiegeriewe?

So goed soos enige hotel s’n.

Kontak?
Boy en Boetie Whittle *042 233 0578; 083 505 0600; *slagboom@mweb.co.za; www.greateraddo.com

Koste?

Kamp: R40 p.p.p.n.; R30 per kind onder 12 (kinders jonger as drie bly gratis).
Selfsorghuisies: R300 p.p.p.n. vir die eerste twee mense, en daarna R50 p.p.p.n. (hoogstens 6 mense per huisie).


2-54x2 with DLAccommodationCampingEnvironment practices in placeGood ground clearanceGuide essentialLR essentialQuads welcomeShade on trailSwimming

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association