|
|
|
-32.344680, 20.347980
|
101 Roetegids | 2010
Skurweberg-4x4
Skurweberg is ’n vakansieplaas wat jy diep in die ongetemde Roggeveldbergreeks in ’n vallei langs die Visrivier sal aantref.
Hier sal jy die tipiese Karooplaaslewe ervaar saam met die eienaars, Witjan en Elsa van der Merwe. Om van Matjiesfontein af daar te kom, moet jy na Sutherland ry en sowat 2 km voor die dorp links draai. Ná 48 km sal jy by die Skurweberg-afdraai kom.
As jy daar is, kan jy die makliker sirkelroete kies en die berguitsigte, plante en diere geniet, of die meer avontuurlike Baboon-roete, wat trouens meer van ’n hindernisbaan met ontsnaproetes by die moeiliker dele is.
Die hoofroete loop al langs die Skuinsvoetpad en keer dan oor die Oubergpas terug. Die moeilike dele word op ’n kaart in groen, blou en rooi aangedui (in volgorde van moeilikheid). Daar is ook oral merkers om die verskillende plantspesies wat in die Karoo aangetref word, aan te dui. Dié streek het een van die rykste verskeidenheid plante ter wêreld.
Die moeilike dele sluit rotsagtige opdraandes in, en langs die rivier sal jy water, sand en modder teëkom. Die grootste deel van die roetes is egter rotsagtig. Met name soos Banggat, Granny’s Bum en Hotrock sal jy beslis jou veldryvaardighede beproef.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Die ten volle ingerigte selfsorggastehuis het ruim slaapplek vir 9 mense. Die kampplek op gras het skaduwee, kragpunte, ablusiegeriewe en ’n groot lapa. In die winter is daar blyplek op die buurplaas Winteroord as jy op soek is na iets warmers.
Wat nog?
Daar is perderitte, bergfietsry, voetslaanroetes, kampering, of jy kan eenvoudig die atmosfeer van ’n werkende Karooplaas eerstehands ervaar. Jy kan ook die sterrewag op Sutherland besoek.
Kontak:
Witjan en Elsa van der Merwe
072 740 4491;
023 571 2728;
skurweberg@xsinet.co.za;
www.skurweberg.co.za
Naaste dorp: Sutherland (48 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar – en dit sneeu in die winter.
Roeteafstand: Altesaam 52 km
Hoe lank gaan ek ry? 6-7 uur
GPS: S32.28916 E20.38050







Lewer kommentaar