Javascript word benodig om die padkaart te sien.
LET WEL: Die ballonne verskyn op die presiese ligging van die roete, of die naaste dorp (as ons nie sy koördinate het nie).
Rooirivier Eco-4x4-roete
WR19 | Junie-Julie 2010
WOORDE Johann Grobler
Rooirivier Eco-4x4-roete
Kontak: 
Hennie & Ockie van der Westhuizen
Selfoon: 
Hennie 082 771 8627 | Ockie 082 410 4426
Telefoon: 
044 734 1017
Naaste dorp: 
De Rust (30km), Oudtshoorn (70km)
-33.529220, 22.776620
Afstand: 
14km | 3-4 uur
Maksimum voertuie: 
10
Beste tyd: 
Heeljaar
Die roete: 
Trail varies from fairly easy to challenging, with intermittent very steep uphill sections to magnificent lookouts. The official picnic spot is in the riverbed It's a beautiful area, boasting great views.
Verblyf: 
B&B facilities nearby
Kampering: 
Camping and caravaning facilities under the thorn trees.


’n Rammetjie-uitnek plaaspad!

Die Rooirivier Eco-4x4-roete naby De Rust is nie vir sissies nie, maar as jy eers bo is, vergoed die uitsig vir elke greintjie inspanning, sê Johann Grobler.

Die Rooirivier Eco-4x4-roete, sowat 30 km oos van De Rust in die Olifantsriviervallei, is aanvanklik gebou as ’n gewone plaaspad.
Dis gemaak sodat ’n bakkie by die dorperskape of stukkende heinings kan uitkom in die berge van Ockie en Henry van der Westhuizen se groot familieboerdery.
Maar dis toe so ’n lekker uitdagende pad dat dit ’n taai 4x4-roete word.
Die plaasbestuurder, Marius Meyer, moes iewers geleer pad maak het, want dié paad¬jie loop oor die ranteveld (dis eintlik berge) waaroor mense voorheen net te voet kon stap. Hy’t eenvoudig en baie vaardig die natuurlike kontoere deur die klipperige veld gevolg, al teen die berge van die vrugbare Olifantsriviervallei.

Kyk eers die kat uit die boom

Voor Marius jou toelaat om op die roete te laat wiel, word jou vernuf in ’n ou gruisgat beproef. Verlaag net eers jou banddruk voor jy die skuinstes aandurf.
Dis baie goeie oefening, want die gruisgat vereis min of meer dieselfde vaardighede wat jy op die roete gaan nodig hê.
Die 14 km lange roete het ’n 4-gradering, wat beteken dis tegnies uitdagend en veeleisend. Pak hom net as jy genoeg ervaring, laestrekratte en goeie grondvryhoogte het. En verkieslik ewenaarslotte. Neem ook maar die herwinningstoerusting saam …


Hoe lyk die roete?

As jy aan hoogtevrees ly, bly liefs agter en stook solank die kampvuur, want Rooirivier gaan jou geen genade toon nie.
Jy trek op ’n nou paadjie weg by die kampplek, Kokanje. Dit loop eers verby die speelput, dan bergop en later weer bergaf.
Kokanje beteken “land van lekker leef en niksdoen”, maar jy sal dié belofte van ledigheid
drie tot vier uur lank moet uitstel. Van meet af aan klim jy teen skerp, kort en skuins draaie uit – wees versigtig vir oorkruisgate.
Dit hou heelpad aan tot jy by die eerste uitkykpunt met ’n wonderlike uitsig uitkom – noordwaarts sien jy die Swartberg sover die oog strek, in die ooste kyk jy hoe die spoorlyn deur die berge beur, in die weste sien jy hoe Meiringspoort sy pad uitkloof en suid rus die Kammanassieberg met die Outeniquabergreeks daaragter.
Die plantegroei is tipiese Klein-Karoo-vetplante – spekboom, klapperbos, ghwarriebos, olifantsvoet, sosatiebos en botterboom, om ’n paar te noem.
Die taaiste deel is by ’n bitter steil opdraande met oorkruisgate – Wally’s Angel Heights.
Kies die regte lyn en beheer jou versnellerpedaal ten volle.
Die regte spoed is deurslaggewend – te min en jy gaan nooit hier uitkom nie, en te veel en jy kom dalk jou moses teë op die klipbank wat op jou wag.
Jy kan maar sê die veldry-uitdrukking van “so stadig as moontlik en so vinnig as nodig” is hier gebore.


Benoude oomblikke …

Die dryfas van die einste Wally se omgeboude 4x4 (die opdraande is na hom genoem) het ’n ruk terug teen dié skuinste morsaf gebreek. Die voertuig se remme het geen keer teen die afgrond geken nie, en was dit nie vir ’n grondwal en ghwarriebos nie, kon dit ’n lelike affêre afgegee het.
Dié plek word nou gedenk met ’n 20 liter-brandstofkan wat op ’n strategiese plek gemonteer is.
Voor die moeilike hindernisse laat kom Marius eers die konvooi tot stilstand en gesels almal rustig daardeur. Hy ken die pad goed, klim uit en help bestuurders deur die taaiste dele.

WegRy sê:  Dis dalk ’n uitdagende roete, maar jy sal wil terugkom vir nog …




Wat jy moet weet

HOEKOM MOET EK GAAN?

Dis ’n lekker taai roete met uitsonderlike uitsigte oor die Swart-, Kammanassie- en Outeniquaberge.

OP DIE ROETE

Hoe lank is die roete? 14 km
Hoe lank gaan ek ry?

3-4 uur (dit hang af hoeveel tyd jy in die speelput en by die uitkykpunt deurbring, en hoe lank jy vooraf oor
elke hindernis besin)
Aantal voertuie?
Minstens 2 en hoogstens 12 voertuie
Kry ek ’n kaart?
Ja, en dis ook op Tracks4Africa.
Gaan my kar gekrap word?
Nie as jy op die roete bly nie.
Moet ek my treeplanke afhaal?
Nee
Moet ek ’n kompressor vat?
Daar is een by die plaaskantoor.
Kan ek halfpad omdraai?
Ja, daar is ’n ontsnaproete halfpad.
Kan ek op die roete braai?
Net by die kampplek.


OM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Heeljaar
Kan ek my gesin vat?
Jy gaan jouself nooit vergewe as jy hulle dié keer by die huis los nie.
Net vir die dag of die naweek?
Selfs langer as ’n naweek …
Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers?
Ja, by die kampplek.
Kan ek wild sien?
Nee
Die naaste dorp?
De Rust (30 km), Oudtshoorn (70 km)
Die naaste brandstof?
De Rust (30 km)
Hoe kom ek daar?

Vat die R341 van De Rust na Willowmore. Dis 30 km tot by die Rooirivier-padbord na links.

BLYPLEK

Waar kan ek bly?
Die kampplek op die plaas is in ’n boomryke omgewing, het ’n lapa wat met spaansriet teen die wind beskut is, spoeltoilette en warm storte. De Rust het ’n hele paar gastehuise.

WAT NOG?

Wat kan ek nog daar doen?
Geniet die omgewing rondom die Stompdrifdam, ry deur Meiringspoort of besoek die Kangogrotte. Oudtshoorn en Uniondale wemel van volstruisvertoonplase en private natuurreservate.

KOSTE?

Roete: R150 per voertuig
Kampering:
R30 p.p.p.n. Kinders onder 12 bly gratis.

KONTAK?

Ockie van der Westhuizen  082 410 4426; 044 734 1017;
Henry van der Westhuizen  082 771 8627; 044 241 2265;
e-pos:aangenaam@mweb.co.za;
Web: www.4x4ineden.co.za

HOE KOM EK DAAR?

GPS: S33.53577 E22.82084


101 Roetegids | 2010

Rooirivier Eco-4x4-roete

Dis ’n roete met ’n geskiedenis, en een wat eintlik per toeval ontstaan het.
Die eienaar van Rooirivier, Ockie van der Westhuizen, en sy broer, Henry, wou meer dorpers op hul plaas aanhou (hul familie boer al generasies lank in die De Rust-vallei), en gevolglik was dit nodig om vinnig van die een plek tot by ’n ander op hul plaas te kom.

Hulle het die plaasbestuurder, Marius Meyer, gevra om ’n pad te bou, en dis presies wat hy gedoen het.
Hy het die natuurlike kontoere gevolg, al langs die berge en op die rotsagtigste terrein gehou, en ’n pad gebou wat deesdae as die Rooirivier Eco-4x4-roete bekend staan.

Die roete is taai, en voor Marius jou daarop gaan toelaat, gaan jy jouself eers moet bewys. Met jou aankoms teken jy eers die nodige, verlaag jou banddruk en ry dan die speelput binne. Dis ’n goeie aanduiding van wat voorlê, en hier beoordeel Marius jou vaardigheid. As jy dus die speelput kan baasraak, kan jy die roete ry.
Terloops, as jy naby hoogtes in ’n angssweet uitslaan, moet jy dit eerder nie waag nie, omdat Rooirivier eenvoudig ongenaakbaar is teenoor hoogtevreeslyers.

Dis ’n 14 km lange tegnies uitdagende en veeleisende roete met ’n 4-gradering.
Laestrek, goeie grondvryhoogte en ’n ewenaarslot is ononderhandelbaar, en dis ook ’n goeie plan om jou herwinningstoerusting te pak ... (net ingeval).
Die roete begin by die Kokanj-kampplek (wat “land van lekker leef en niksdoen” beteken) en begin as ’n nou paadjie, loop verby die speelput, teen die berg uit en later weer bergaf. Sommer van die begin af klim dit sonder waarskuwing langs skerp en ongenaakbare asknoperdraaie. Dit hou heelpad tot by die eerste uitkykpunt aan, waar die uitsig ’n welkome blaaskans is ná die inspanning van die roete.

Die plantegroei is tipiese Klein-Karoo-vetplante – spekboom, klapperbos, gwarriebos, olifantsvoet, sosatiebos en botterboom om ’n paar te noem.
Die taaiste deel is by ’n bitter steil asknoperhoek, Wally’s Angel Heights. Hier kan jy maar net ’n skietgebed opsê, die regte lyn kies en moet jy volle beheer oor jou versnellerpedaal hê.
Die regte spoed is deurslaggewend ... te min en jy sit dalk vir ewig op dié hoek; te veel en jy kom dalk jou moses teë.
Dis gerusstellend dat Marius die konvooi deur elke hindernis kan gesels. Hy ken die pad goed, klim uit en help bestuurders deur die ergste dele.

Wat jy moet weet

Blyplek:
Die idilliese kampplek is tussen reusebome geleë en is beskut teen die wind.
Dit word goed onderhou, het spoeltoilette en die water word met ’n “donkie” warm gemaak.

Naaste dorpe:
De Rust (30 km); Oudtshoorn (70 km)

Beste tyd om te gaan: Heeljaar 

Roeteafstand: 14 km

Hoe lank gaan ek ry?
3-4 uur (afhangend van hoeveel keer jy stilhou en hoe lank jy in die speelput deurbring)

GPS: S33.53577 E22.82084

Kontak:
Henry en Ockie van der Westhuizen 
044 734 1017;
Henry 082 771 8627;
Ockie 082 410 4426;
aangenaam@mweb.co.za


4911CampingEnvironment practices in placeFuel nearbyGood ground clearanceLR essentialSelf drive/no guide necesaryShade on trail

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.

Gebruiker stories

Geen gebruiker stories bygelas
 
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association