|
|
|
-32.175690, 18.892540
|

101 Roetegids | 2010
Rondegat-4x4
Rondegat is op die oewer van die Clanwilliamdam geleë. Regs van jou is die Rondegatrivier, links die Olifantsrivier, en in die middel, net jy … en ’n waterparadys wat kilometers en kilometers aaneen strek.
Drie dae is ’n ideale tyd om hier deur te bring. Op die eerste dag kan jy rustig langs ’n natuurroete ry, uitpak en ontspan, die stad uit jou gestel kry en die Sederberglug inasem. Begin die tweede dag met ’n langsame ontbyt,
waarna jy die veld op ’n 4x4-uitstappie kan verken en ’n middag van plesierige oorgawe op die oewer van die Rondegatrivier kan deurbring.
Die derde dag kan met nog ’n lui ontbyt begin, dié keer op die dorp, en daarna kan jy ’n uur of twee ronddrentel en ’n piekniek langs die rivier hou voor jy huiswaarts keer. Maar wat van die roete? Wel, dis ’n redelik eenvoudige 15 km-sirkelroete op plaas- en brandpaaie. Dis nie moeilik nie, hoewel daar ’n paar onverwagte tegniese plekke is wat jou onkant kan vang. Die eerste 2-3 km is langs die rand van bewerkte plaasgrond, voor dit deur renosterveld loop wat die voet van die Sederberge volg.
Die volgende 5 km neem jou op na die hoogtepunt van die roete, ’n aanskoulike uitkykpunt oor die Olifantsriviervallei en die Clanwilliamdam. (Só ’n uitsig word die beste verteer saam ’n beker vars gebroude koffie en tuisgemaakte toebroodjies.)
Net voor jy die bopunt bereik, sal jy ’n bedrieglike hindernis kry; dit lyk betreklik eenvoudig, maar onthou, die roete word nie verniet tot 4x4’s beperk nie (hoewel jy dit waarskynlik in ’n 4x2 met ’n ewenaarslot kan ry, mits jy drie stewige manne agterop laai).
Sodra jy verby die uitkykpunt is, loop die pad geleidelik afdraand tot by die monding van die Rondegatrivier. Sit 2-3 uur opsy vir die roete, behalwe as jy die eienaar saamneem en uiteindelik luiperdspore begin volg…
Blyplek:
Rondegat het drie goed toegeruste, gerieflike gesinschalets op die oewer van die Clanwilliamdam. Besoek ook die webblaaie van Clanwilliam (www.clanwilliam.info) en Citrusdal (www.citrusdal.info) vir nog opsies.
Wat nog? Bring jou boot, bergfiets, stapskoene, hengelgerei en ’n goeie boek.
Wat jy moet weet
Kontak:
Anne-Marie van der Merwe
027 482 2527;
072 353 1170.
Vir roete navrae:
Charl
082 777 2757;
rondegat@mylan.co.za
Naaste dorp: Clanwilliam (14 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar
Roeteafstand: 15 km
Hoe lank gaan ek ry? Wees rustig en geniet die uitsig, maar 2-3 uur behoort genoeg te wees

Volledige bespreking | Francois Smit (November 2007)
Rondegat is nie ’n tipiese Sederberg-4x4-roete nie. Toegegee, dis net bedoel vir 4x4’s, maar dis eintlik nie waaroor die ervaring gaan nie. Francois Smit verduidelik.
Eintlik is ek baie gelukkig: Die afgelope twee jaar was dit my “werk” om al die 4x4-roetes binne die Groter Sederberg-gebied te besoek, aan te teken en te beoordeel.
Omdat ek nou al ’n paar jaar lank 4x4-roetes gradeer, ken ek die meeste van die 34 roetes in die omgewing.
Dit was dus ’n lekker verrassing toe ek op hierdie – en verskoon tog maar die cliché – juweel op die wal van die Olifantsrivier afgekom het.
As jy jaar na jaar op en af langs dieselfde ou N7 ry, jou sintuie effe afgestomp en half aan die slaap agter die stuur, is dit tyd vir ’n verandering.
Die volgende keer as jy in die omgewing is, op pad van Clanwilliam na Kaapstad, oorweeg hierdie ompaadjie: In Clanwilliam volg jy die hoofstraat tot waar dit vurk. Draai regs op Ou Kaapseweg, en ry met dié pad tot dit grond raak.
Ry dan aan vir nog 14 km, en moenie bekommerd raak nie, jy is op die regte pad. Ry stadiger, en moenie jaag nie – dis die begin van jou Rondegat-ervaring.
Hou aan met die pad, met die dam altyd aan jou regterkant, tot jy die ingang na die plaas links sien.

Proe die lekker lewe
Sommige mense sê die drie sleutels tot die sukses van elke plek is ligging, ligging, ligging. Rondegat het dit in oormaat.
Jou eerste stilhouplek is die plaashuis. Registreer, kry die papierwerk agter die rug, ruil kontant vir ’n sleutel en daar gaan jy.
Ry terug op jou spoor, ry weer oor die grondpad waarmee jy nou net by die plaas ingekom het, en voilà, daar is dit voor jou, die ingang van die paradys. Totsiens wrede wêreld, welkom saligheid.
Rondegat se chalets is letterlik op die wal van die Clanwilliamdam. Regs van jou is die Ronde-gatrivier, links die Olifantsrivier, en in die middel … net jy. En wie ook al saam met jou daar is, en ’n waterparadys wat kilometers en kilometers aaneen strek.
Drie dae is ’n ideale tyd om hier deur te bring. Dag een: ’n aangename, rustige rit langs ’n natuurskone roete, uitpak en ontspan. Blaas die stad uit jou gestel, en asem die Sederberglug in. En braai.
Dag twee: ’n langsame ontbyt en ’n 4x4-uitstappie, ’n bietjie verkenning in die veld en ’n middag van plesierige oorgawe op die wal van die Rondegatrivier. (As jy die roete-eienaar/boer/boot-kaptein Charl van der Merwe vooraf baie mooi vra, kan hy selfs ’n bootrit dorp toe reël.)
Dag drie: nog ’n laat, lui ontbyt, hierdie keer in die dorp, ’n uur of twee se ronddrentel, ’n piekniek langs die rivier terwyl jy aan allerlei uitsteltegnieke dink, en daarna die onvermydelike, huiwerige terugrit.

Ervaring help nie altyd nie
Die roete is redelik eenvoudig, ’n 15 km lange sirkelroete op plaas- en brandpaaie. Dis nie moeilik nie, maar in dieselfde asem gesê, moenie oorgerus wees nie. Daar is ’n paar redelik onverwagte tegniese plekke wat jou onkant kan vang.
Die eerste 2-3 km is langs die rand van bewerkte plaasgrond, voor dit deur ’n renosterveldparadys loop wat die voet van die Sederberge volg.
Die volgende 5 km neem jou na die letterlike en figuurlike hoogtepunt van die roete, ’n uitkykpunt oor die ongeëwenaarde grootsheid van die Olifantsriviervallei en die Clanwilliamdam.
’n Uitsig van hierdie aard word die beste geniet saam ’n beker vars gebroude koffie en tuisgemaakte toebroodjies. Kom dus voorberei.
Net voor jy die bopunt bereik, sal jy een van die plekke kry wat jou onverhoeds kan betrap. Dit lyk bedrieglik eenvoudig, maar onthou, die roete nie word nie verniet tot 4x4’s beperk nie (hoewel jy dit waarskynlik in ’n 4x2 met ’n ewenaarslot kan ry, mits jy drie stewige manne agterop laai).
Ek is daar gevang – en ek is ’n deurwinterde 4x4-bestuurder. Dit was die eerste keer dat ek vasgesit het, en om sout in my wonde te vryf, het die hindernis belaglik eenvoudig gelyk. Tot my erge verleentheid moes ek my naderingslyn twee maal verander. Ek hoor steeds my vrou op die agtergrond giggel.

Op die afdraand
Sodra jy verby die uitkykpunt is, het jy die roete baasgeraak. Daarvandaan is dit geleidelik afdraand na die monding van die Rondegatrivier. Sit 2-3 uur opsy vir die roete, behalwe as jy Charl saamneem en uiteindelik luiperdspore begin volg, soos ons gedoen het.
Dis dan Rondegat. Dit gaan nie net oor die roete nie, maar ook oor alles anders.
Omdat dit net 14 km van Clanwilliam af is, is dit die ideale plek waarvandaan jy die omgewing kan verken.
As jy dit nie wil doen nie, bring jou 4x4, jou boot, jou bergfiets, stapskoene, visvangstok of net ’n goeie boek, want Rondegat is ’n wonderlike plek waarheen jy kan ontsnap.
WegRy sê:
Dit gaan nie net oor die roete nie, maar die omgewing. En as jy nou moet eerlik wees, dis mos waarvoor jy jou 4x4 gekoop het, of hoe?






Lewer kommentaar