|
|
|
0.000000, 0.000000
|
101 Roetegids | 2010
NamibRand Family Hideout
In die suidwestelike hoekie van Namibië, weggesteek tussen die duine van die private NamibRand-natuurreservaat, is ’n liefdevol gerestoureerde plaashuis genaamd die NamibRand Family Hideout.
Maar dis nie net ’n plaashuis nie: Dis ’n outentieke woestynervaring, dis afgesonder, en daar is nie selfoonontvangs nie.
Net agter die huis begin ’n sirkelroete wat van twee tot vyf uur duur om te voltooi, afhangend van hoe dikwels jy langs die pad stilhou.
Die roete, wat goed onderhou word en goed gemerk is, kronkel deur rooi duine met hier en daar doring- en witgatbome tussen die blougrys berge en woestyngrasveld. Jy het net duinry-ervaring nodig vir sowat 1-2 km van die roete, maar selfs as jy nie so ervare is nie en dit net rustig vat, sal jy nie probleme hê nie. Blaas net jou bande af. Die grootste probleem wat jy sal moet oorkom, is die drang om buite die spore te ry. Maar moet asseblief nie: Dis streng verbode om af te wyk as jy nie vooraf met die bestuur gereël het nie.
As jy ernstig daaroor is om meer te verken, praat met die plaasbestuurder, Theo Wortmann, wat ’n private begeleide toer kan reël wat jou diep die berge in kan neem.
Die huis self is vol bordspeletjies en boeke, en buite sal duinborde kinders ure lank besig hou.
Saans kan jy van die stoep af ’n watergat net 20 m van die huis af dophou waar gemsbokke, springbokke en sebras kom drink. Met die diere voor jou en die gitswart lug bo jou, sal jy beslis deel voel van die Afrika-woestyn.
Blyplek:
In die plaashuis kan 10 mense in vier slaapkamers bly. Dis volledig toegerus vir selfsorg en kan vir een gesin of een bespreking op ’n slag gehuur word. Dis rolstoel- en ekovriendelik – met sonkrag en ’n gasyskas, -vrieskas en -stoof, en braaigeriewe.
Wat nog?
Dis ’n paradys vir kinders – hulle kan op duinborde ry, speel en na hartelus verken.
Wat jy moet weet
Kontak:
Mandy Brückner
00264 61 22 6803;
00264 81 127 2957;
ambruck@mweb.com.na;
www.hideout.iway.na
Naaste dorp: Maltahöhe (130 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar
Roeteafstand: 13 km
Hoe lank sal ek ry? Tussen 2 tot 5 uur
GPS: S25.28744 E16.06819

Volledige bespreking | Francois Smit (Desember 2007)
Weggesteek tussen die duine van die private NamibRand-natuurreservaat in Namibië is ’n plek wat ’n bietjie van die norm afwyk. Dis afgesonder, daar is geen selfoonontvangs nie en jy het ook nie sleutels nodig nie. En jy sal dit nie anders wil hê nie, sê Francois Smit.
Jy ervaar nie sommer elke dag die lewe sonder haastige horlosies, diefwering of telefone nie. Sulke afsondering is ’n luuksheid – een waarvoor party mense bereid is om ’n groot deel van hul erfporsie te betaal.
Gelukkig hoef jy nie dit te doen om by die NamibRand Family Hideout te gaan afsaal nie, maar dié plek sal lank ná jy daar was nog in jou geheue ingeëts wees.
Die Hideout was jare lank net nóg ’n verlate bouval wat stadig deur die woestynsand verslind is in ’n afgeleë deel van die suidwestelike hoek van Namibië, sowat 110 km suid van Sossusvlei.
In 1999 het dinge verander toe Andreas en Mandy Brückner uiteindelik toestemming gekry het om die verwaarloosde plaashuis te restoureer.
Deesdae sal jy sukkel om ’n meer outentieke en kalmerende ervaring te kry as in hierdie ongekunstelde, maar gerieflik gerestoureerde rusplek vir die gesin.
Die plaashuis van die eertydse Stellarine het die ontspanne atmosfeer van ’n vakansiehuis met sy grof-gepleisterde wit mure, rottangmeubels en
katoenmateriaal. Maar buiten al die gerief is dit steeds die woes-tyn wat al die aandag trek.
Jou daaglikse bedrywighede by die Hideout volg die ritme van die hartklop van die ou verskuiwende sandduine. Dit laat jou stadiger lewe en jy pas daarby aan – jy eet as jy honger is en staan op wanneer jy wil.
En uiteindelik kom dit daarop neer dat jy hier net mooi niks doen nie. Dis suiwer en loutere ontvlugting – ten minste vir die volwassenes.
Jy sou dink dat ’n woestyn-vakansie tussen duisende hektaar “niks” die ergste vorm van teistering is vir twee kinders wat net-net aan puberteit raak.
Toe nie. Die huis is vol bordspeletjies en boeke, en buite kraai duinborde koning.
Saans raak die stoep die middelpunt van die heelal. Hier is al heelwat aande deurgebring, omhul deur die donker, ’n slaapsak oor die skouers, warmsjokolade in die hand, en ’n ontsagwekkende stilte vir die geluidloosheid van die nag.
Met die derduisende sterre teen die gitswart lug voel dit asof jy kan uitstrek en aan hulle raak. En terwyl jy nog so sit en droom, duik ’n gemsbok of twee, springbokke en sebras op soos vertroude bure en kom drink by die watergat, sowat 20 m van die plaashuis.

En die roete?
Net agter die huis begin ’n 4x4 roete – my speelplek.
Dié sirkelroete, wat teoreties drie uur lank duur, sal jou vol-gens ’n hele paar webblaaie ondenkbaar na aan die aarde bring, eerder as om jou vermoë en dié van jou voertuig tot die uiterste te beproef.
Dis presies wat die roete doen, ja, maar jy sal meer tyd nodig hê as net drie uur. (Onthou ook om jou bande af te blaas na 120 kPa voor jy ry.)
Ons het gepak en op die roete vertrek – meer as een keer. Elke keer het ons die spore gevolg deur die Plascon-rooi duine, met hier en daar akasia-en witgatbome, tussen die blougrys berge en oor woestyn-grasveld, en elke keer is ons aandag afgelei, en ons het op die een of ander punt getalm. Uiteindelik het dit ons meer as vyf uur geduur om te voltooi.
Jy het net vir sowat 1-2 km duinry-ervaring nodig, en selfs as jy nie so ervare is nie en dit net stadig aanpak, sal jy nie probleme kry nie.
Die grootste probleem wat jy sal moet oorkom, is die oorweldigende drang om buite die spore te ry. Maar moet asseblief nie: Dis streng verboten om af te wyk as jy nie vooraf met die bestuur gereël het nie.
Die amptelike roete, wat goed onderhou en duidelik aangedui is, sal jou besig genoeg hou. As jy werklik ernstig daaroor is om meer te verken, praat met Theo Wortmann, die baie kundige plaasbestuurder, wat ’n private begeleide toer kan reël wat jou diep die berge in kan neem. As dit jou nie tevrede stel nie, sal niks kan nie.
Sal ek teruggaan? O ja! Môre, as ek kan. Om die waarheid te sê, terwyl ek hier skryf, het ek reeds ons volgende besoek bespreek, betaal en bevestig.
Daar is min plekke wat geldelik so toeganklik vir plaaslike mense is wat soveel gerief en afsondering bied.
Miskien het my seun dit een aand die beste opgesom in sy gebedjie: “Liewe Jesus, dankie dat ons vandag nie hoef te gejaag het nie.” Sela.
WegRy sê:
Die NamibRand Family Hideout is ’n voorreg wat jy minstens een keer moet beleef. Dis presies waarom ek so gek is oor my 4x4.







Lewer kommentaar