|
|
|
-33.713290, 22.017590
|

Blomme en taai paaie in die Klein-Karoo
Op ’n private natuurreservaat in die hart van die Klein-Karoo kan jy ’n hengse spul oor plante leer … én oor jou eie ryvernuf. Johann Grobler het op ’n onherbergsame plek gaan ry.
By Minwater Eco Adventures naby Oudtshoorn kan jy nie net 4x4-roetes vir elke vaardigheidsvlak ry nie, maar ook op een van die beste begeleide plantstaptogte suid van die ewenaar gaan.
Want sien, dié private natuurreservaat in die voetheuwels van die Gamkaberg (tussen die Swartberg en Outeniquaberge) het roetes waarvan die gradering wissel van 2 tot 5, en die eienaar, Louis Jordaan, deel graag sy ongelooflike kennis oor die groot klomp fassinerende plante in sy reservaat met mense.
Louis is ’n kenner van plante en voëls van die gebied, en neem jou graag om te gaan stap tussen die 550 unieke plantspesies wat jy slegs hier in hulle natuurlike toestand kan sien. Die plante is trouens só besonders dat die ouens met die dik brille die reservaat ingesluit het in ’n lys van slegs 34 plekke ter wêreld waar ’n groot verskeidenheid plante voorkom en ’n spesiale poging nodig is om dit te bewaar.
Van die verstommende 6 000 plantspesies wat ’n mens in dié streek – die Vetplant-Karoo-bioom – kry, sien jy 40% nét in die bioom. En dis by Minwater waar jy sowat 550 van hierdie 40% endemiese plantspesies kry.
Minwater is ook ’n voëlkykparadys, met 140 spesies wat al afgetiek is.
Boonop het Louis ’n paar staproetes van tussen 1 km en 20 km uitgelê sodat besoekers die plek vir hulleself kan sien.
Die reservaat lê sowat 24 km suidwes van Oudtshoorn, en dis ’n onherbergsame plek, wat natuurlik sorg vir lekker uitdagings agter die stuur.
Voordat die gaste wegtrek, kry hulle by hulle aankoms op Minwater ’n omvattende boekie met kaarte van die roetes in die reservaat, plus heelwat ekstra inligting oor die plante en diere.
Diegene wat beplan om die roetes te pak, moet ’n vrywaringsvorm teken, terwyl Louis ook bepaal wat bestuurders se vaardigheidsvlak en voertuie se vermoëns is.
Roetes en uitdagings
Minwater het drie primêre roetes en ’n ekstra twee uitdagende paadjies. My gunsteling is die Rooiberg-roete (graad 2), ’n heen-en-weer-roete van 7 km lank, wat jou tot op die kruin van Rooiberg neem. Van hier af het jy op ’n wolklose dag ’n onbelemmerde uitsig oor die Swartberg – van Toorwaterpoort af, ’n ravyn 48 km suidwes van Willowmore in die ooste, tot by Towerkop by Ladismith, 100 km na die weste toe.
Die roete loop reguit berg-op, en neem minder as 3 uur om klaar te maak. Op pad is omtrent 20 plantspesies genommer, met inligting in die brosjure oor elkeen.
Die Steenbok-roete (graad 3-4) is ’n sirkelroete van 4,5 km wat jy binne omtrent ’n uur klaarmaak. Dié roete, wat ’n hele paar keer deur droë rivierbeddings loop, het kwaai steiltes en rotsriwwe waar jy maar moet hou by die ou reël van “so stadig as moontlik maar so vinnig as nodig”. Die oppervlak, wat goed in stand gehou word, gee genoeg vastrapplek wanneer dit droog is.
Jy het ’n voertuig nodig met ’n behoorlike grondvryhoogte, naderings- en vertrekhoek, laestrek en ook ’n ewenaarslot. Om te keer dat jy jou voertuig of bande beskadig, moet jy by ’n hele paar plekke uit jou voertuig klim en kyk waarlangs jy gaan afry.
Die Sandberg-roete is ’n 17 km lange paadjie teen die Sandberg uit wat jou vier uur besig behoort te hou. Hoewel dit plek-plek steil en rof is, is dit wanneer jy kloksgewys ry ’n graad 2-roete wat ook vir “sagte” 4x4’s geskik is. Maar as jy hom antikloksgewys pak, laat die steil dele selfs ervare bestuurders bloed sweet.
Het jy hare op jou tande?
By die westelike punt van die Sandberg-roete is Die Gat, ’n steil graad 4-uitdaging wat jou omtrent ’n uur sal besig hou.
Dié paadjie, wat heen en weer 500 m lank is, daal af in die Appelfonteinkloof, wat Minwater van die Gamkaberg-natuurreservaat skei. Die roete, wat al met die steil berghang loop, daal oor 500 m ’n volle 100 m. Die ravyn is nie vir sissies nie – en jy moet die regte toerusting en genoeg ervaring hiervoor hê. Slegs gesoute bestuurders in ’n voertuig met laestrek, ’n goeie grondvryhoogte en ewenaarslot moet dit aandurf, en dan ook in ’n groep van minstens twee voertuie.
Jy sal dit eers moet stap voordat jy dit in jou voertuig aandurf – en bly maar weg as dit nat is.
Dieselfde raad is ook op die laaste uitdaging, die Kloof-roete van 1 km (graad 5), van toepassing. Dis geleë in ’n droë, klipperige rivierbedding en neem omtrent ’n uur om te voltooi. En weer eens: Vergeet maar daarvan om dit alleen aan te durf.
Jy sal eers die roete moet stap saam met iemand wat weet hoe om die kat uit die boom te kyk en dan jou lyn versigtig kies voordat jy die een rots ná die ander trotseer – en so gaan dit die hele roete lank.
Jy het ’n voertuig nodig met laestrek, baie goeie grondvryhoogte en ’n ewenaarslot.
Met al dié roete-opsies is Minwater eerder ’n langnaweekbestemming as ’n plek waar jy net gou gaan inloer.
Die reservaat het drie boskampe met baie skaduwee – en almal het lopende water, warm storte en puttoilette – sook ’n kampterrein langs die Moerasrivier waarheen jy ’n woonwa kan sleep.
’n Ou skuur wat onlangs opgeknap is, bied nie net skuiling as dit reën nie, maar dien ook as ’n klaskamer en teater, waar die akteur en radio-en-TV-persoonlikheid Paul Eilers gereeld ’n poppekas aanbied en eenmanvertonings hou.
WegRy sê: As jy luukser verblyf verkies, is hier binne ’n radius van 15 km ’n hele paar gastehuise. Oorweeg
La Plume, Thylitshia Villa, De Denne en Mooiplaas.

Wat moet ek weet
HOEKOM MOET EK GAAN?
As jy die geringste belangstelling in plante het, is Minwater ’n on¬verbeterlike buitelug-ervaring. Hier’s pragtige uitsigte, uitstekende 4x4-geleenthede en ’n kampterrein, wat dit ’n ideale gesinsbestemming maak.
OP DIE ROETE
Hoe lank is die roetes? Altesaam 30 km
Hoe lank gaan ek ry?
Om die drie hoofroetes te ry neem 4-6 uur, terwyl die twee uitdagende paadjies elk ’n uur neem.
Maksimum aantal voertuie? 20
Kry ek ’n kaart?
Ja, plus ’n omvattende inligtingsessie. Die roetes is ook op Tracks4Africa en Google Earth se kaarte.
Gaan my kar gekrap word? Nee, mits jy nie van die roete afwyk of roekeloos raak nie.
Moet ek my treeplanke afhaal? Nie vir die drie hoofroetes nie
Moet ek ’n kompressor neem? Nee
Kan ek halfpad omdraai? Net op Die Gat
Kan ek op die roete braai? Nee, net by die kampterrein
OM DIE ROETE
Beste tyd om te gaan? Heeljaar
Kan ek my gesin neem? Ja
Net vir die dag of die naweek? Dagbesoekers is welkom, maar dis beter om minstens een nag te bly.
Is hier ablusiegeriewe vir dagbesoekers? Ja
Kan ek wild sien? Ja, maar ’n mens sien moeilik diere. Van die diere wat al hier opgemerk is, sluit in klipspringers, duikers, grysbokke, steenbokkies, vaalribbokke, elande, koedoes, bruinhiënas en luiperds. Onder die voëls tel witkruisarende en witkruispaddavreters.
Die naaste dorp? Oudtshoorn (24 km)
Hoe kom ek hier? Van die Oudtshoornse middedorp af volg jy die pad Calitzdorp toe vir 9 km voordat jy by die Volmoedpad links draai. Draai ná 11 km regs op die Paardebontpad en dan ná 4 km regs in by Minwater.
Die naaste brandstof? Oudtshoorn (24 km)
GPS S33.71219 E22.03943
WAAR KAN EK BLY?
Verblyfgeriewe sluit in drie boskampe wat maklik bereik kan word en nog ’n kampplek, wat toeganklik is vir karavane.
WAT NOG?
Wat moet ek spesiaal pak? Niks.
Wat kan ek nog hier doen? Ontsnap uit die stad, durf ’n paar uitstekende staproetes aan, en leer meer oor die plante van die Vetplant-Karoo
KOSTE?
Roete: R200 per voertuig vir alle roetes
Kampering: R50 per persoon per dag
KONTAK?
Louis & Thea Jordaan
044 279 1285,
082 481 3625;
Louis@minwater.co.za;
www.minwater.co.za,
www.4x4ineden.co.za
101 Roetegids | 2010
Minwater-ekoavonture
Die Minwater Eco-4x4-roetes is 24 km suidwes van Oudtshoorn in die Klein-Karoo geleë. Die plaas strek oor die voetheuwels van die Gamkaberg, en ’n diep bergkloof, Appelfonteinkloof, skei dit van Kaapse Natuurbewaring se Gamkaberg-natuurreservaat.
In die Sukkulente-Karoo-bioom waarin Minwater geleë is, kry jy sowat 6 000 plantspesies, en 40% hiervan is endemies. Dis waarom Minwater as ’n internasionale plantmekka (hotspot) bestempel word, met meer as 550 plantspesies … om nie van die 140 voëlspesies te praat nie.
Die eienaar, Louis Jordaan, is ’n natuurkenner, en skryf gereeld rubrieke oor voëls en plante vir streekpublikasies. Met jou aankoms vul jy die vrywaringsvorm in en kry jy ’n boekie met kaarte en inligting oor plante en diere in die reservaat.
Minwater het drie hoofroetes, Steenbokrant, Sandberg en Rooiberg, wat afsonderlik of as ’n geheel aangepak kan word. Groentjies of mense met minder hardebaardvoertuie kan die moeiliker dele misry. Die terrein is rotsagtig en jy moet heeltyd konsentreer; een misstap en jou voertuig kan beskadig word.
Steenbokrant is ’n kort roete van 4,5 km met uitstekende panoramas en ’n baie steil klim. Dit het ’n 3-4-gradering, en goeie grondvryhoogte en ervaring word aanbeveel.
Die Sandbergroete van 17 km is hoofsaaklik ’n graad 2-roete en geskik vir sagte 4x4’s as dit kloksgewys aangepak word. Die roete loop op teen die Sandberg en gebruik verskillende roetes vir die op- en afkomslag. Albei is plek-plek redelik steil en rof, maar dis nie uitermate moeilik nie. Dis ook nie nodig vir laestrek nie.
By die westelike end van die Sandbergroete is daar ’n opsionele ompad, die Gat. Dit klou 500 m lank aan die berg namate dit in die Appelfonteinkloof daal (dit val 100 m oor dié afstand).
Met sy 4-gradering moet net meer ervare bestuurders in 4x4’s met laestrek en goeie grondvryhoogte dit aanpak. ’n Ewenaarslot word sterk aanbeveel. Stap ook eers dié deel voor jy dit ry, en vermy die roete as dit nat is.
Die derde 7 km lange Rooibergroete het ’n 3-gradering en jy behoort 3 uur daaraan te ry. Dit loop teen die berg op en af langs dieselfde roete, maar met twee uiteenlopende ervarings. Daar is ook ’n opsionele deel, die Kloof. Dis ’n 1 km graad 5-ompad wat langs ’n droë, rotsagtige rivier¬bedding kronkel.
Blyplek:
Minwater het vyf kampplekke met lopende warm en koue water naby die rivier. Dis netjies en het ook braaiareas.
Wat nog?
Volstruisplase, die Kangogrotte, die naburige Gamkaberg-natuurreservaat en nog 4x4-roetes in die Klein-Karoo.
Wat jy moet weet
Kontak:
Louis en Thea Jordaan
044 279 1285;
082 481 3625;
minwater@absamail.co.za;
www.minwater.co.za;
www.4x4ineden.co.za.
Naaste dorp: Oudtshoorn (24 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar
Roeteafstand: Altesaam 28,5 km
Hoe lank gaan ek ry? 2, 4 en 3 uur, en nog ’n uur op die Kloof vir adrenalienverslaafdes
GPS: S33.71219 E22.03943







Lewer kommentaar