Javascript word benodig om die padkaart te sien.
LET WEL: Die ballonne verskyn op die presiese ligging van die roete, of die naaste dorp (as ons nie sy koördinate het nie).
Hexrivier-4x4-roete
Bespreek: WR #9, 2008
Kontak: 
Theuns Hugo
Telefoon: 
023 358 2207
Naaste dorp: 
De Doorns (35km)
-33.511000, 19.781150
Afstand: 
35, 30, 10km | 2-3, 2-4, 5-6 uur
Omgewing: 
Hex River is known as the Rubicon of SA, because of the difficulty of some of its three trails. It also caters for the novice driver and is just 90 minutes from Cape Town. The views are spectacular, often with snow in winter. It's great for day visitors and the whole family - but not for the inexperienced.
Die roete: 
The Hex River trail has three sections totalling 75km that should ideally be tackled over two days, but if you don't have that kind of time available they can be done individually. Point is, they should be done, as this is undoubtedly one of the Western Cape's most dramatic and appealing mountain trails
Verblyf: 
Six-bedded Kliphuis; the more basic 16-bedded De Hoop hut; five Mountain View chalets, each equipped for four adults and two children, all essentials supplied.
Kampering: 
Camping is available in two campsites

101 Roetegids | 2010

Hexrivier-4x4-roeteDie Hexrivier-4x4-roete word beskou as een van die taaiste roetes in Suid-Afrika, en is in die Quado-bergreeks naby De Doorns geleë.

Beskrywings soos “berugte, gevreesde en gerespekteerde” is sinoniem met die drie (en ’n half) roetes. En met reg – dis net geskik vir ervare ryers. Die roete begin op Theuns Hugo se plaas, en kronkel ’n paar kilometer deur karoo¬bossieveld tot waar Hexrivier se drie 4x4-roetes afdraai.
Die eerste roete, die Karoo, is ’n sirkelroete met ’n 3-gradering deur renosterveld en karoobossies, en dit het net een moeilike stuk.
Die tweede, Fynbos, is ietwat moeiliker, veral as jy besluit om die sogenaamde J-roete ook aan te pak.
Maar dis die derde roete wat Hexrivier se reputasie gevestig het ... Dié roete, waarvandaan jy ook die J-roete kan aanpak, is ’n rowwe en taai graad  5-roete deur bergfynbos en Tafelberg-sandsteenrotsformasies, waarop net ervare ryers in ’n voertuig met ’n ewenaarslot en ordentlike grondvryhoogte hulle kan begewe.
Dis eers sedert vroeg 2008 vir die publiek oop nadat dit drie jaar gesluit was. En in dié tyd het die wind en weer baie dinge verander - By bykans elke hindernis is daar duidelike tekens van wat gebeur as voertuig en natuur koppe stamp: swart wieltolmerke, skraapmerke waar staal en klip kennis gemaak het, en spikkels donker vloeistof op die rotsbanke (dalk diff-olie?).
Daar’s nie ’n herwinningsdiens op die roete nie, en as jou kar dus breek, is dit jou eie indaba om dit daar uit te kry. Die roete kronkel heeltyd opwaarts op baie klipperige en rotsagtige terrein tot op ’n hoogte van 1 500 m. Dis soos ’n baie lang, moeilike hindernis, en dis waarskynlik die een stukkie kritiek teen die roete: die hindernisse verg soveel konsentrasie van die bestuurder – of vasklou as jy ’n passasier is – dat jy nie eintlik tyd het om die besonderse natuurskoon in te neem nie.
Die hele J-roete is moeilik, maar dis op die derde roete waar daar hardebaarddele is: ’n reeks groot, trapvormige rotsbanke sowat ’n halwe meter hoog, ’n 40+°-helling van ’n paar honderd meter lank. En asof die hoek van die helling nie ’n groot ge¬-noeg uitdaging is nie, is die helling se oppervlak ’n tapyt van los klippe van wisselende groottes en oopgespoelde rotsbanke.

Wat jy moet weet

Blyplek:
Die kampplek het ’n spoeltoilet en koue water, en plek vir 15 tente. As jy ’n dak oor jou kop soek, kan tot 15 mense in die De Hoop-oornaghuis slaap. Jy kan ook in De Doorns oornag.

Kontak:
Theuns Hugo
023 358 2207

Naaste dorp: De Doorns (35 km)

Beste tyd om te gaan: Herfs of lente (Februarie-Mei of September-November)

Roeteafstande: 35 km, 30 km en 10 km

Hoe lank gaan ek ry? Dit hang af van die grootte van die konvooi en hoeveel herwinnings gedoen moet word, maar sit 2-3 uur vir die Karooroete, 2-4 uur vir die Fynbosroete en 5-6 uur vir die derde en die J-roete opsy.

GPS: S33.51105 E19.78123


Volledige bespreking | Barnie Louw (Augustus 2008)

Die debat oor watter 4x4-roete nou eintlik die taaiste een in Suid-Afrika is, is soos die Ford vs. Chev-debat van ouds – nimmereindigend. Barnie Louw gooi sy stuiwer in die armbeurs.

As dit nie was dat die ouens van die TV-program Safari 4x4 Roetes* verkondig het dat die Moegatlé-4x4-roete naby Brits die taaiste een in die land is nie, sou ek vandag nie geweet het hoe doeltreffend Valiums en Rescue Remedy kan wees nie.

My bekendstelling aan dié jubel-en-huppelpille het met ’n telefoonoproep begin: “Het jy gehoor wat daai ouens op TV gesê het?!” Louis Smit van die Desert Stormer-4x4-klub op Worcester was nie ’n gelukkige man nie.

“Ga! Hulle weet nie wat taai is nie ...” het Louis gesê. “Ons gaan volgende naweek die Hexrivier-4x4-roete ry – kom saam as jy die heel taaiste roete in Suid-Afrika wil ervaar.”

Die bietjie wat ek vooraf op die internet oor dié roete in die Quado-bergreeks anderkant De Doorns kon wys raak, het nie ’n rustige Saterdagoggend in die veld voorspel nie.

Uitdrukkings soos “berugte, gevreesde en gerespekteerde”, “moeder van ’n klim met net rotse, klippe en gate waar jy kyk”, “hare op die tande”, “karbreker”, “asknopers”, “hardebaard” en “net vir ervare ryers” is kwistig gebruik.

Om al dié beskrywende naamwoorde nóg skop te gee, is daar dikwels verwys na goed soos gebuigde wielvellings en gebreekte asse.

My keel het verder toegetrek toe ek hoor Theuns Hugo (die roete-eienaar) raai jou aan om ekstra warm klere in te pak. Die rede? Sodat jy nie verkluim as jou kar op die roete breek en jy die nag op die berg moet deurbring nie …

Nee, regtig.

Die J-roete se opvolger

Van Theuns se plaaswerf af ry jy ’n paar kilometer lank met ’n kronkelende plaaspad deur karoobossieveld tot waar Hexrivier se drie 4x4-roetes wegdraai. (Ons het net Roete 3 en die J-roete gery.)

Roete 1 (die Karoo-roete) is glo die maklikste van die drie. Volgens Theuns het dié sirkelroete deur renosterveld en karoobossies net een moeilike stuk, en is die moeilikheidsgradering 3 uit 5.

Roete 2 (die Fynbos-roete) is glo ietwat moeiliker, veral as jy besluit om die sogenaamde J-roete ook aan te pak. (Op sowel Roete 2 as 3 kan jy besluit of jy die J-roete wil ry en of jy dit eerder wil vermy.)

Die J-roete, genoem na ’n letterverwysing op ’n vroeëre roetekaart, is sinoniem met Hexrivier. Én sinoniem met rof en onbeskof – dis die deel met die 5-gradering wat Hexrivier se reputasie gevestig het, ’n roete waarop net ’n ervare ryer met ewenaarslotte en ordentlike grondvryhoogte hom kan begewe.

Tot ’n paar jaar gelede was ons roete vir die dag (Roete 3) glo soortgelyk aan Roete 2: as jy die J-roete vermy het, was Roete 3 deur bergfynbos en Tafelberg-sandsteenrotsformasies uitdagend, maar nie te ernstig nie.

In teorie het dit dus geklink of ons Roete 3 net ná ontbyt klaar sou kon kafdraf. Maar die teorie en praktyk sit nie altyd langs dieselfde vuur nie.

Die J-roete kon dalk voorheen “berug, gevrees en gerespekteer” gewees het, maar dié mantel hoort deesdae om die skouers van Roete 3.

Die rede? Die Hexrivier-4x4-roete is eers sedert vroeër vanjaar weer vir die publiek oop nadat dit die afgelope drie jaar gesluit was. En binne drie jaar verander die wind en weer baie dinge …

Daar’s mos nou geen manier nie

“Dis nog ligte musiek dié,” het Louis geglimlag toe ek vroeg-vroeg op Roete 3 die soveelste keer na vashouplek gegryp het. “Dié is nog nie die eintlike roete nie ...”

Jy sal sommer weet as jy op die “eintlike roete” beland – dis wanneer jy begin dink: “Hoe op aarde gaan ons hier uitkom?!” of “Voertuie is sekerlik nie veronderstel om hier te kan ry nie!”

Of as jy begin verskonings uitdink vir hoekom jy voor ’n hindernis moet uitklim, soos “ek wil ’n paar aksiefoto’s neem” of “sjoe, vanoggend se koffie laat my blaas les opsê”.

Sommer by die eerste ernstige hindernis het ek geweet hier kom ’n ding. Van die ouens wat die roete al voorheen gery het, het die helling met ’n kennersoog op en af bekyk.

“Dit lyk baie erger as toe ons laas hier was,” was die eenparige gevoel.

Baie erger?! Want toe hulle laas daar was, so het hulle my vroeër vertel, het van die karre hulle diffs verloor en moes hulle uitgesleep word ...

By bykans elke hindernis is daar duidelike tekens van wat gebeur as voertuig en natuur koppe stamp: swart wieltolmerke op rotse, skraapmerke waar staal en klip kennis maak, en spikkels donker vloeistof op die rotsbanke (dalk diff-olie?).

Terloops, daar’s nie ’n herwinningsdiens op die roete nie. As jou kar breek, is dit met ander woorde jou eie indaba om dit daar uit te kry.

Gepraat van ewenaarslotte: Roete 3 is nie ’n roete wat jy sommer daarsonder wil aanpak nie. Die roete kronkel heeltyd opwaarts op baie klipperige en rotsagtige terrein (tot op ’n hoogte van 1 500 m) – nie die soort terrein waar jy wil sukkel nie.

Die deursnee-4x4-roete is gewoonlik ’n uitsigpad met hier en daar ’n hindernis om jou op jou tone te hou.

Daarenteen voel Hexrivier se Roete 3 soos ’n baie lang en moeilike hindernis, met hier en daar ’n blaaskansie om die omgewing te waardeer.
(Dis waarskynlik die een stukkie kritiek teen die roete: die hindernisse verg soveel volgehoue konsentrasie van die bestuurder – of vasklou as jy ’n passasier is – dat jy nie eintlik tyd het om die besonderse natuurskoon in te neem nie.)

Dis eintlik jammer dat so ’n mooi omgewing die agtergrond is vir so ’n taai uitdaging – amper soos ’n mooi vrou wat ’n vuisyster in haar handsak ronddra.

Nou vir Afrika

Kyk, bykans die hele Roete 3 is aan die skurwe kant, maar daar is vyf hardebaarddele wat waarskynlik die fokus gaan wees van jou oorvertellings om die braaivleisvuur.

’n Reeks groot, trapvormige rotsbanke kort na die begin van die “eintlike roete”, elk sowat ’n halwe meter hoog, is die eerste van dié vyf.

Dan tref jy ’n 40+°-helling van ’n paar honderd meter lank. Asof die hoek van die helling nie ’n groot genoeg uitdaging is nie, is die helling se oppervlak ’n tapyt van los klippe van wisselende groottes en oopgespoelde rotsbanke – amper soos ’n waterval van klip en rots.

Net voor jy vir middagete bo-op die berg kan uitspan en ’n slag jou hartklop onder beheer kry, is daar eers nóg ’n besonderse steil helling deur ’n nekkie om te oorwin, en dié keer is die oppervlak ’n stuk gladde rotsbank.

Tussen middagete en die J-roete wag nog ’n reeks klipbanke jou in.

Met die eerste oogopslag, en in vergelyking met die ander hindernisse waaroor jy reeds is, lyk dié een soos ’n kalfie. En dis net hier waar jy jou oorgerustheid gaan berou ...

Dié paar paragrawe hierbo het my net ’n paar minute geneem om te tik, maar in werklikheid gaan dit jou ’n paar uur neem om net by die begin van die J-roete uit te kom. Selfs langer as jy op die klipbanke gaan vashaak, of as jou vriende jou moet uitsleep. (By van dié hindernisse is daar darem ontsnaproetes.)

En wat van die “berugte” J-roete? Wel, kom ek som dit só op: Nadat ons Roete 3 deur is, kon ek net nie sien waaroor al die bohaai was nie. Of dalk was dit net die Valiums en Rescue Remedy wat toe lekker ingeskop het.

Hoe erg my dramatiese beskrywings Roete 3 kan laat klink, jy kán daar uit en oor, mits:

  • Jy die regte lyn kies en hou (as jou lyn ’n halfduim uit is, gaan jy sit);
  • Jy nie die roete ry as dit reën nie (tensy jy hou van moeilikheid);
  • Jy nie bang is om klippe te skuif en pad te bou nie;
  • Jou bande nie te hard gepomp is nie;
  • Jy kalm bly (en hare op jou tande het);
  • Jy heeltyd konsentreer (die roete laat jou nie ’n oomblik lank ontspan nie);
  • Jy herwinningstoerusting het.
    Dan sal jy sien dit is glad nie so erg nie.

En is dit die heel taaiste roete in Suid-Afrika? Dít kan ek nie met sekerheid sê nie. Een van die taaistes? Beslis! As jy eers Hexrivier se Roete 3 getem het, sal geen plek in Afrika jou weer afskrik nie.

Een ding is wel seker: Die ouens van Safari 4x4 Roetes moet eers ’n draai in die De Doorns-distrik maak voor hulle kan oordeel oor watter roete taai is en watter nie.

En as hulle hierheen kom, kan hulle maar gerus die Valiums en Rescue Remedy saambring.



Wat jy moet weet

HOEKOM MOET EK GAAN?
Buiten die natuurskoon kan jy ook vir al jou vriende vertel jy het een van die taaiste 4x4-roetes in Suid-Afrika gery.

OP DIE ROETE
Hoe lank is die roete/s?
Roete 1: 35 km; Roete 2: 30 km; Roete 3: 10 km.
Elk van die drie roetes is ’n sirkelroete en kan afsonderlik gedoen word, of as jy daarvoor kans sien, kan jy al die roetes ry.
Hoe lank gaan ek ry?
Dit gaan afhang van hoeveel voertuie in die konvooi en hoeveel herwinnings daar is, maar werk op sowat 2-3 uur vir Roete 1, 2-4 uur vir Roete 2 en 5-6 uur vir Roete 3.
Maksimum aantal voertuie?
Vyftien, en nie minder as vier nie.
Alleen gaan jy beslis nie toegelaat word nie, want iemand moet jou herwin.
Kry ek ’n kaart? Ja
Gaan my kar gekrap word? Moontlik
Moet ek die treeplanke afhaal?
Ja, tensy jy dit wil buig.
Moet ek ’n kompressor saamneem?
Ja, hard gepompte bande op dié terrein werk nie.
Kan ek halfpad omdraai?
Op Roete 3 is daar nie omdraaikans nie.
Kan ek op die roete braai?
Nee, maar jy kan piekniek hou.

OM DIE ROETE
Beste tyd om te gaan?
Herfs of lente (Februarie tot Mei of September tot November)
Kan ek die gesin vat?
Ja, as hulle avontuurlustig is en nie omgee om te help stoot nie.
Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers?
Daar’s ’n lapa by die kampplek wat besoekers kan gebruik (maar dis ver van die roetes)
Kan ek wild sien?
As jy gelukkig is, kan jy klipspringers, vaalribbokke, steenbokke, duikers of takbokke sien.
Die naaste dorp?
De Doorns (35 km)
Die naaste brandstof?
De Doorns
Hoe kom ek daar?
Vat die N1 noord uit De Doorns en draai af op die R318 net na die Hexrivierpas. Net meer as 12 km verder is die plaas Vredelus op jou regterkant.

BLYPLEK
Tot 15 voertuie kan by die kampplek met sy spoeltoilet (maar koue water) staan.
As jy ’n dak oor die kop soek, kan tot 15 mense in die De Hoop-oornaghuis slaap.

WAT NOG?
Wat moet ek spesiaal pak? Herwinningstoerusting en gereedskap (en moenie jou Valiums en Rescue Remedy vergeet nie).

KOSTE?
Roete: R200 per voertuig
Kamp: R75 per tent
Oornaghuis:
R75 per persoon

KONTAK?
Theuns Hugo *023 358 2207


Download: 
3-5AccommodationCampingGood ground clearanceGPS availableLR essentialSelf drive/no guide necesary

Download here -

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association