|
|
|
0.000000, 0.000000
|
101 Roetegids | 2010
Aussenkehr Nature-roetes
As jy min tyd het, maar nogtans die rowwe taaiheid van Namibië wil ervaar, kan jy by Aussenkehr binne ’n dag of wat kennis maak met die ware Jakob.
Aussenkehr – aan die suide begrens deur die Oranjerivier, aan die weste deur die Ai-Ais Nasionale Park, en sy oosgrens is net 45 km van die Noordoewer-grenspos tussen Namibië en Suid-Afrika – het twee hoofroetes: een wat grotendeels deur berggebied en oor sand strek, en die tweede loop langs die rivieroewer.
Die eerste roete, wat hoofsaaklik ’n ou tweespoorpad volg, is redelik maklik. Dit loop langs ’n droë rivierloop deur ’n canyon, en kronkel tussen steil rotshange van hoër as 100 m.
Anderkant uit lê die Tandjiesberg-bergreeks en sy loodregte dolerietplate agter jou. Dan begin jy klim, en die roete mik in die rigting van die Springbokvlakte-plato. Op pad slinger dit om vulkaniese rotsformasies en verby reuse kokerbome na Palmietsfontein.
Jy ry verby die ou doeanepad, verby die oorblyfsels van ’n ou Duitse militêre bataljon en ’n klein begraafplaas van Duitse infanteriesoldate wat gedurende die Nama-rebellie van 1903-1906 gesneuwel het.
Die roete kom uiteindelik by Sjambok uit, op die oewer van die Oranjerivier.
Die tweede roete is net langer as 100 km, en is ’n bietjie meer uitdagend. Dit loop deur diep sandspore langs die rivieroewer, deur die Gamkabriviercanyon en langs die rivierbedding vir sowat 10 km (dis ook deel van die oorspronklike Ai-Ais-4x4-roete).
As jy by die canyon uitry, kom jy by Aussenkehr se duine uit. Aanvanklik is dit redelik maklik, maar raak al moeiliker as jy ’n paar skuinstes moet oor.
Die res van die roete loopoor die hange van die Tandjies¬berg-bergreeks, oor die Spring¬bokvlakte en in nog ’n paar canyons af voor dit by die D212 na Aussenkehr aansluit.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Die Norotshama Lodge op die oewer van die Oranjerivier het grasdak-chalets met lugversorging, ’n à la carte-restaurant, swembad en kroeg. Jy kan by die Fish Eagle-kamp naby die rivier jou tent opslaan.
Wat nog?
Bergfietsry, perdry, riviervlotvaarte en rotsklim.
Naaste dorp: Noordoewer (45 km)
Beste tyd om te gaan: April tot September, as dit effens koeler is.
Roeteafstand: Twee roetes, net langer as 200 km
Hoe lank sal ek ry? Een dag elk
Kontak:
Elize van Zyl of Angela
00264 63 297 215;
norotshama@africaonline.com.na;
www.norotshamaresort.com







Lewer kommentaar